Studieskuld: US wil studente met byna R1 miljoen help

geld ekonomie suid-afrika

Argieffoto

Die Universiteit Stellenbosch (US) se pre-eeufees-fondsinsamelingsveldtog, #US99, het ʼn nuwe ambisieuse teiken. Dié veldtog is daarop gemik is om studieskuld te verlig.

Die universiteit het in ʼn verklaring gesê die aanvanklike teiken van R99 999 is danksy vrygewige skenkings sommer vroeg verbygesteek. Die nuwe teiken is nou R999 999.

Karen Bruns, senior direkteur van die US se afdeling ontwikkeling en alumni-betrekkinge, het luidens ʼn persverklaring gesê die skenkings wat op die GivenGain-platform ontvang is, het teen 1 Desember R24 000 beloop.

“Tesame met donasies van alumni, personeel en studente is ʼn verdere R32 500 ingesamel,” het Bruns gesê.

“ʼn Beduidende skenking van R500 000 van een van ons lojale skenkers wat gereeld beursbefondsing bied, het ons in staat gestel om ons teiken te verhoog en sodoende meer gegradueerdes te help,” het sy verduidelik.

“Hoewel baie van ons studente beurse van verskeie vennote soos die regering, stigtings, sakeondernemings en trusts ontvang, is daar dikwels nog ʼn uitstaande bedrag wat studente ná afloop van hul gradeplegtigheid skuld,” het Cheryl Benadie, skenkerbetrekkinge-bestuurder aan US, volgens die verklaring gesê.

Benadie het benadruk om graad te vang is die einde van ʼn ongelooflike reis vir enige gegradueerde. “Studente staan op die drumpel van ʼn nuwe begin, gewapen met ʼn welverdiende graad van US, ʼn internasionaal erkende instelling.

“Ongelukkig, vir sommige van ons eerste-generasie gegradueerdes wat die professionele wêreld as ʼn eerste-generasie professionele persoon betree, is die las van studieskuld soms oorweldigend. Ons erken en waardeer die ondersteuning van al ons skenkers en vennote. Die behoefte is altyd daar,” het sy bygevoeg.

“Kleiner skenkings van R50, R100, R500 maak op die einde van die dag saam ʼn groot bedrag. Dít is die krag van kollektiewe skenking in aksie. Ons moedig mense aan om die geskenk van finansiële vryheid hierdie feestyd te gee,” het Benadie gesê.

Martin Viljoen, mediabestuurder van US, het aan Maroela Media gesê US weet wie die behoeftige studente is en die beurskantoor allokeer dan die fondse. “Die uitstaande studieskuld van studente wat nou gegradueer het, is ongelukkig meer as R999 999. Die doel was om hierdie skuld te help delg, so dit sal nou opgebruik word.”

“Hierdie was ʼn spesiale projek en ons is ongelooflik opgewonde en dankbaar vir die ondersteuning van almal wat bydraes gegee het sodat ons die gestelde doelwit so gou kon bereik,” het Viljoen gesê.

“Die Universiteit is egter voltyds besig met fondsinsamelings en studente-ondersteuning is ons hoogste prioriteit. Daar sal heel moontlik verdere projekte in die toekoms wees.”

Prof. Wim de Villiers, rektor en visekanselier, het sy stem bygevoeg en gesê: “Baie van ons studente het net daardie lááste finansiële hupstoot nodig om hulle in staat te stel om ʼn professionele loopbaan te begin. Ek is baie opgewonde oor die #US99-fondsinsamelingsveldtog en ek nooi al ons alumni, donateurs, vennote én vriende van die universiteit om hierdie verdienstelike veldtog te ondersteun.”

Die #US99-veldtog duur tot 27 Desember. Dit is op 20 September bekendgestel.

Vir meer inligting oor US se veldtog om studieskuld te verlig, besoek www.sun.ac.za of bel Anneke Muller by 021 808 9906 of Cheryl Benadie by 021 808 9351.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Pro-Afrikaans ·

Dit sal uiters dom wees om geld aan die US te skenk. Dit is nou n getransformeerde Engelse universiteit. Wat hulle voorgee om te wees, en wat hulle werklik is, is twee verskillende dinge. Kanaliseer alle skenkings, donasies en erflatings na Akademia, ons nuwe Afrikaanse privaatuniversiteit.

JC ·

Presies, dankie, ek stem volmondig saam.

‘n Persoon moet uiters, uiters liggelowig en naief wees om te skenk aan ‘n instansie wat sy moedertaal minag.

Die wat kan; groot asseblief; kanaliseer eerder julle swaarverdiende gelde na Akademia.

Juffie ·

Ek stem saam. Ek voel bietjie onseker oor al hierdie “insamelings instansies” wat op skiet. Hoe weet mens dat die skenking REGTIG by die regte plek uitkom? En in hierdie geval – baie studente gaan universiteit toe om te “party” -so DIE kriteria sal moet baie streng wees. En dan wil ons mos ons konstitusie uitleef so daar MAG nie gediskrimineer word nie.

Eish ·

Amen daarop!
Niks, nothing, zilts, ha kena letho.
Klink vir my te veel na n tiende preek in Oktober maand. Dan gaan die geldjies vir heeltemal ander goedjies wat jy in gedagte gehad het.
Ek finansier ook nie diegene wat my kultuurskatte vertrap nie.

Nico ·

Stem saam met Pro-Afrikaans.
Rugraadlose slak ondersteun instansies wat hom die rug gekeer het. Trouens die J.S. Marais familie moet US dagvaar vir terugbetaling van befondsing plus rente.
Ons moet maar weer voor begin, want ons kan.

JC ·

Orania beoog om met die bou van hulle nuwe universiteit (hopelik sal dit ge-afillieerd wees aan Akademia – dan maak dit, dit baie makliker- en noem dit dan sommer die Afrikaanse Instituut- nes of soortgelyk aan die Franse Instituut, oftewel in Frans die “Institut Français” -OF bloot Orania Akademie- of Instituut ) ‘n aanvang te neem beginnende vroeg 2018.
Akademia mik al ‘n geruime tydjie na ‘n residensiele kampus, en waar kan mens nou ‘n beter gebied kry as Orania vir die doelwit?
Skenk sommer direk aan hulle vir die doel- naamlik aan EPOG. Nodeloos om te se is dit nou die regte tyd daarvoor; want hoe kan ‘n gebied wat selfbeskikking beoefen groei sonder dat entoesiastiese jongmense daarna toe gelok word ( en nadat hulle afgestudeer het help bydrae aan die wonder wat Orania is en terugploeg daarin)?
Voorwaarts !!!

Kripties ·

Kan Akademia asb spoedig hul studierigtings uitbrei na natuurwetenskappe ook?

Ek’s oortuig nie alle skoolverlaters wil ‘n BCom in ondernemingsbestuur studeer nie. Daar’s fantastiese geleenthede in bv Informasietegnologie; data ontginning, edm.

Frans ·

Ek is ‘n oud-Matie. Ek kry pas ‘n e-pos van die US rakende dié fondsinsamelingsprojek. Die projek word onder die titel ‘Phambili’ gevoer, wat alreeds vir my daarop dui dat Afrikanerstudente hoegenaamd nie deur dié projek met ‘n volksvreemde benaming begunstig sal word nie. Dít, tesame met die feit dat die US klaarblyklik my mense en my taal die rug toegekeer het, bring mee dat my alma mater nie ‘n enkele sent uit my sal kry nie. Ek dra wel maandeliks tot die Solidariteit Boufonds ter ondersteuning van Akademia by. Ek moedig alle Afrikaners aan om dieselfde te doen.

Pro-Afrikaans ·

Dankie, Frans! So bly jy lig ons in hieroor. Die US kan onder geen omstandighede meer vertrou word nie. Spoed voort Akademia!

Piet Snot ·

Self die ou smeekbriefie gekry. Ek wou voorheen nogal geld skenk, but after the university’s 180° turnaround regarding its teaching language, it’s clear to me that my children aren’t welcome any more.
So, Prof Wimpie, my donations will henceforth go elsewhere – where my children are welcome in spite of their language, and their skin colour.

Jan Marais ·

Dieselfde ervaring – Phambile nuusbrief ontvang. Wat beteken dit?

Met respek gese^, Wim se jarelange blootstelling aan die liberale VSA en Uni Kaapstad kultuur het hom uit voeling met die Afrikaanse kultuur en sy behoefte geplaas. Sy doelgerigte vendetta om Afrikaans in totaliteit by die US af te skaf en dan ‘n beroep te doen op hierdie selfde Afrikaanse gemeenskap om donasies, is’n vermetele belediging vir hul intelligensie.

Hoeveel van hierdie studieskuld behoort aan sy geliefde Open Stellenbosch studente wat soveel eiendomskade angerig het en blanke studente geweldadig intimideer het? En waarvoor? Vir vertrapping van Afrikaanse regte.

Stellenbosch se in-klas tolkbeleid het stilweg verander van “lesing in Afrikaans – tolk na Engels”, tot “lesing in Engels – tolk na Afrikaans”. Dit bewys onmiddelik waar die taalprioriteit le^. En tolke is nie vakkundiges.

Verder is die US se 2018 toelatingsbeleid ‘n kwotastelsel wat teen jou diskrimineer indien jy:

– Blank is (voorkeur aan Bruin, Indie”r en Swart aansoekers);
– Skoolfonds betaal HET;
– in ‘n Kwintiel 4 of 5 (oud-model C) skool was;
– NIE ‘n maatskaplike toelaag ontvang het NIE;
– een van jou ouers ‘n graad het;
– jy nie arm genoeg is nie;
– jy self vir jou studie betaal

(toelatingsbeleid op US se webblad)

Wenk – by jou aansoek, onder ras, selekteer “Ek wil liewer nie sê nie”.
Selfklassifikasie word gebruik; sal graag wil sien hoe US dit sal polisieer om te bewys wat jou ras is.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.