Stukkende meisie maak nou ander heel

stefan-pieterse

Stefan Pieterse is die hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. Foto: Verskaf.

Deur Stefan Pieterse

“Meneer! Meneer!” roep iemand my by die kerk op ’n Sondagoggend ná die diens. Terwyl ek nie eintlik lus is vir ’n geselsie nie, stap sy nader.

“Kan meneer my dalk help om te studeer?”

Sommer met die eerste oogopslag sien ek iemand wat swaarkry ken. Ek kan ook sommer vinnig sien ’n “nee” gaan nie vir haar werk nie. Sy sê ’n tannie só en só is haar mentor, sy wil ’n verpleegster word en sy wys ’n skrywe waar sy klaar aanvaar is om te studeer. “Dis net die <pouse> finansies meneer,” sê sy.

In my standaardantwoord probeer ek aan haar mooi verduidelik sy moet die Studiefondssentrum (SFS) se aanlynproses volg, sekere dokumente aanheg en binne die voorgeskrewe sperdatums aansoek doen. “O ja, en ’n motiveringskrywe van ongeveer 250 woorde daarby insluit asseblief,” sluit ek af. Ek stap terug kar toe, beïndruk met haar passie en ywer – my gedagtes dwaal weer vinnig na die Sondagmiddag-skaapboud wat in die oond wag.

Sy stuur vir my haar aansoek net die volgende dag, met die volgende motiveringskrywe ingesluit:

“… Ek was verkrag toe ek vyf jaar oud was en kon met niemand daaroor praat nie. Noudat God my herstel en gered het, is dit my passie om die volgende kind, en ander mense wat deur sulke trauma gaan, te help. My vader is op die nasionale pensioenfonds (Sassa) van R1 600 per maand en ek kon ongelukkig nie my skooljare voltooi nie. In 2017 het ek my suster verloor aan kanker. Sy was nog jonk, maar dit was my voorreg om haar te versorg vir die laaste drie maande van haar lewe. Hierdie ervaring het my laat besef dat God my geroep het om met siek mense te werk en diegene te help wat seer en terneergedruk is. Ek wil daarom ’n verpleegster word…”

SFS het dadelik ’n donateur gesoek. Studiehulp is toegestaan vir haar volle studiekoste vir 2019.

Sy kontak my ’n paar maande later uit ’n goeie hospitaal in Pretoria waar sy besig is met haar prakties, net om haar uitmuntende puntestaat vir my te stuur en weer dankie te sê. Besig om te dien, besig om mense heel te maak, besig om terug te gee.

En so besef ek net weer dit is gee wat ’n mens ryk maak, nie die neem nie. Dit is hoekom ek doen wat ek doen.

  • Stefan Pieterse is die hoof van Solidariteit Helpende Hand se Studiefondssentrum. SFS administreer tans meer as 240 studiefondse ter waarde van R164 miljoen waarmee reeds meer as 4 000 behoeftige studente se studies moontlik gemaak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Estelle ·

Vreemd dat daar geen kommentaar gelaat word op hierdie goeie nuus berig. Ek het baie jare Menslike Hulpbronne gewerk en het heelwat “kanse” geneem met mense aanstel wat jou dan later so verstom het met hulle passie en geesdrif om bo uit te kom. Dankie Stefan Pieterse vir die “kanse” wat jy neem, en sterkte met die harde werk. Jou beloning is daardie suksesverhale wat baie keer ongesiens verbygaan.

Maria ·

Raak aan my hart wens kon al jonges se drome kon waar maak maar GLO in hande van die Here

Adele ·

Dit is so lekker om ook goeie nuus te lees. Dankie dat jy dit met ons deel. Die Here voorsien elke dag, ons sien dit net nie altyd raak nie.

Jo-anli ·

Dis so inspirerend om te sien en hoor dat daar nog goeie mense is. Wens alle voorspoed, geluk, passie, eer, liefde op jou blink toekoms.

Foxi ·

Ai….dit is soos n feëverhaal. So dankbaar vir iemand met n ope hart. Mag sy een van die beste verpleegsters word wat so skaars is. Baie dankie Stefan. God is groot en geseënd is jy.

Annette ·

Daar is so baie mense wat seer het daar buite, ek het nou die dag ‘n wonderlike “meme” gesien – dit het gesê “just love the one in front of you” – dis al wat partykeer nodig is, wees net lief vir die persoon voor jou en behandel hulle goed. Dit was regtig ‘n pragtige getuienis.

Piet parys ·

Die jong dame het gewys mens kan uitstyg en syt die wil en vasberadenheid in n baie moeilike lewe ,maar met hulp van Bo en helpende hand se mense het sy geslaag. Baie geluk

Chrisjan ·

Wonderlik om n suksesverhaal-getuienis te lees. Doen so voort.

Sann ·

Dis opvallend dat sy nie haar ervarings gebruik om op jou gevoel te speel nie. Dit het vir haar die gewaarwording gegee dat sy goed sal wees in so werk. Sy kon toegegooi gewees het onder die seer, maar deur God se genade het sy deur dit gegroei na die lig toe. Wat ‘n kosbare les wat jy ons leer, jong dame. Dankie vir Solidariteit se oordeelkundige ondersteuning!

Cheryl ·

Wat ‘n mooi storie! Hierdie meisiekind gaan nog ver kom.

Herman G ·

Dis vir my ‘n baie hartseer storie, maar tog baie inspireerend ook.

Solidariteit doen baie goeie werk!

Heksie ·

Mag jy my kind, van sterkte tot sterkte gaan, met God, Almagtige Vader aan jou sy om jou te lei in Sy voetspore!

JL ·

Dankie vir die positiewe artikel. Al wat mens in die lewe nodig het is ‘n “break” en iemand wat bereid sal wees om “n kans op jou te waag.

Sien baie swaarkry ·

As dosent, sien ek baie swaarkry, hartseer, opgeskorte studente rekeninge en die dryfkrag van gewillige en ywerige studente. Dis ‘n stryd en ongelukkig is daar SO baie wat nie besef watse voorreg dit is om hierdie geleentheid te kry nie. Dankie vir ‘n positiewe artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.