Suid-Afrika kry nóg stroop om die mond by rolprentfeeste

Bonné-de-bod-op-OR-Tambo

Bonné De Bod en die Valke by die OR Tambo Internasionale Lughawe in Johannesburg tydens die inhegtenisneming van ʼn Chinese burger wat aangekeer is met drie renosterhorings. Die RhODIS (Renoster DNS-databasis) het hierdie horings positief verbind met gestroopte renosters in die iMfolozi-natuurreservaat in KwaZulu-Natal. Die misdaadtoneel was uitermatig wreed, met ʼn baie getraumatiseerde renosterwesie wat nou in die sorg van die staat is. Foto: Verskaf.

Die Suid-Afrikaanse dokumentêre rolprent STROOP: Journey into the Rhino Horn War het die gesogte prys vir Beste Dokumentêre Rolprent by die vooraanstaande San Diego Internasionale rolprentfees in Oktober verower.

Die Hollywood-vervaardiger wat vir Mudbound verantwoordelik was, Kyle Tekiela, het die prys aan rolprentmakers Bonné de Bod en Susan Scott oorhandig.

“Dokumentêre rolprente vertel stories wat belangrike kwessies onder die vergrootglas plaas en die paneel van beoordelaars het gevoel hierdie is die belangrikste van almal. Dit wys op dramatiese wyse die oorlewingstryd van die wêreld se renosters om nog die volgende dekade te haal,” het Tekiela gesê.

Oktober was ʼn belangrike maand vir die rolprentvervaardigingspan nadat hulle ook twee ander eerbewyse ontvang het – van die Glendale internasionale rolprentfees in Los Angeles waar hulle die prys vir die Beste Vroue-rolprentvervaardiger opgeraap het (meer as 130 rolprente oor alle genres heen is hiervoor in aanmerking geneem); en ook in Los Angeles waar De Bod en Scott bekroon is vir Spesiale Dokumentêre Fokus by die LA Femme-fees, ʼn fees waar vrouerolprentmakers van oor die wêreld heen ondersteun word.

Vroeër in Oktober het STROOP die prys vir die Beste Dokumentêre Rolprent by die San Pedro internasionale rolprentfees ontvang, wat ook in Los Angeles gehou is. Verlede maand het die rolprent die 2018 Green Tenacity by die San Francisco Green-rolprentfees verower.

Ter erkenning aan die impak wat dié Suid-Afrikaanse rolprent besig is om in Kalifornië te maak, het sowel die Kaliforniese wetgewer as die staat se senator, sertifikate van erkenning aan De Bod en Scott gestuur vir hul uitsonderlike prestasie in die rolprentkuns en die Suid-Afrikaanse tweemanskap bedank vir hul werk om die ware toedrag van die renosterkrisis onder die wêreld se aandag te bring.

Volgens De Bod, die vervaardiger en aanbieder van STROOP, het die pryse wat hulle nou reeds verower het, nuwe geleenthede geskep om die rolprent wêreldwyd te vertoon.

“Direkteurs van rolprentfeeste en -vervaardigers kontak ons direk as gevolg as gevolg van die sukses van ons rolprent – om iets wat jou so hard tref en so skokkend is, aan soveel as moontlik gehore te wys, is natuurlik van kardinale belang vir almal wat besorg is oor die voortslepende slagting van ons renosterbevolking, wat steeds besig is om te krimp.”

Regisseur Scott beaam dit. “Ek vind dit ongelooflik en ironies dat Kalifornië die rolprent op so ʼn grootskaalse manier erkenning gee, want soveel keer tydens verfilming is daar aan ons gesê om Amerikaners ʼn groter rol in die film te laat speel om dit vir ʼn internasionale gehore meer toeganklik te maak. Dit vind egter juis aanklank by Amerikaners omdat dit gewone Suid-Afrikaners is wat ongelooflike dinge vir ons planeet doen.

“Ek is so bly ons het volstaan by ons storie oor ons helde wat in die voorste linies veg. Hierdie eerbewyse kom hulle net soveel toe.”

Bykomend tot die rits akkolades wat die rolprent reeds ontvang het, het STROOP uitnodigings na nog minstens 15 internasionale rolprentfeeste ontvang en dit groei daagliks namate die sukses van die produksie verder uitkring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Cheeta ·

Dit is die eerste keer dat ek iemand ‘n spelfout sien praat.
“netsoveel” :-)

Esté Meyer Jansen ·

Dagsê Cheeta

Dankie dat jy laat weet het. Ons het die fout nou reggestel.

Groetnis
Esté Meyer Jansen
namens
Maroela Media

Essa ·

Me De Bod en Scott en almal betrokke, baie geluk met hierdie toekennings – julle verdien dit. Dankie vir hierdie baie belangrike werk wat julle gedoen het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.