Suid-Afrikaner kom tweede in ‘moeilikste uithourit ter wêreld’

Rangna Roux het die afgelope week nie net die Rockethorse Race-uithourit voltooi nie, maar ook op die rug van een van Wiesman Nel se Moolmanshoek-stoetperde in die tweede plek by die eindpunt aangekom. Foto: Daniela Zondagh

Rangna Roux, ʼn perderuiter van Vrede in die Vrystaat, het die afgelope week nie net die Rockethorse Race-uithourit voltooi nie, maar ook op die rug van een van Wiesman Nel se Moolmanshoek-stoetperde in die tweede plek by die eindpunt aangekom.

Die uithourit, wat as die moeilikste perderesies ter wêreld beskou word en deur Barry Armitage, ʼn Suid-Afrikaanse avonturier, georganiseer is, strek oor 350 km, tussen Port Edward en Keimond langs die Wildekus. Die rit het tussen 19 en 27 Oktober plaasgevind.

Hoewel ruiters vyf dae het om die tog te voltooi, verwag die organiseerders van die wedloop dat ruiters vroeg op die vierde dag hul ritte moet voltooi. Ruiters moes dus tussen 80 km en 90 km ʼn dag aflê om die eindstreep te haal.

Buiten vir die lang afstande wat die ruiters se vermoë toets, ontvang hulle ook elke dag ʼn nuwe perd waarop hulle nog nooit vantevore gery het nie en moet hulle perde elke dag by hul afsnypunte ʼn toets deur ʼn veearts slaag om aan die volgende been van die wedloop te kan deelneem. “Die wedloop gaan werklik oor ruiterkuns, maar dit vat jou deur die mooiste plek in die land. Jy sien die grootste rotse en hoë afgronde. Partykeer moes my perd baie mooi trap.

“Die tweede plek sink nog nie heeltemal in nie, dit voel nog nie werklik nie,” vertel Roux aan Maroela Media. Sy sê dat die uithourit ʼn onvergeetlike ervaring is, wat sy beslis weer sal aanpak as sy die kans gegun word.

Roux, wat op ʼn plaas buite Vrede met perde werk, sê dit was ook haar eerste uithourit wat sy al ooit aangepak het. Gewoonlik neem sy eerder aan dressuur- en perdespringsportkompetisies deel. “My baas het my van die uithourit vertel en ek wou dit doen, want ek staan nie terug vir ʼn uitdaging nie.”

Nie eens die inskrywingsgeld van R97 000 kon Roux afskrik nie. Sy het egter met behulp van mense uit haar gemeenskap en ʼn aantal sakeondernemings borgskappe ontvang om vir die rit in te skryf.

Roux in aksie in die Rockethorse Race-uithourit. Foto: Sonell Kritzinger

Die uithourit het 14 deelnemers van reg oor die wêreld gelok. Nog ʼn Suid-Afrikaner, Wayne Fairley, het die resies in die sewende plek voltooi. Die wenner, Emma Manthorpe van Australië, het die resies in 77 uur en 37 minute voltooi, twee ure voor Roux.

Roux vertel dat dié uithourit “baie erger” as ʼn gewone uithourit is, maar dat haar perde waarmee sy gery het, tot haar tweede plek bygedra het. “My perd op die eerste dag was stadig, maar dit was eintlik baie goed, want die roete was klipperig. Die perd was versigtig en het mooi na homself gekyk.”

Die tweede dag van die roete was meer bergagtig en Roux het die keer ʼn sterk perd gekry wat die steiltes en dale kon baasraak. “Die eerste drie dae het ek sterk gevoel en was ek nie negatief nie, maar die laaste dag was my geduld op en ek het geweet ek moet nou klaar maak.”

Wat die uithourit nog meer uitdagend maak, is dat die ruiters nie in luukse oornaggeriewe gebly het nie, maar elke aand in ʼn kamp moes bly. “Partykeer kon jy ʼn stort kry, maar dan moes jy sommer drip dry. Op die eerste dag het ons ook in die reën gery.” Daar was ook geen merkers wat die roete aangedui het nie.

Die resies het elke dag met dagbreek begin en die afsnypunt vir elke dag was om skemer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Geluk

Vier maar lekker fees, maar ek dink dit is regtig wreed teenoor die perde.

Angelique

@Geluk Stem 100% saam met jou

Petroné

Baie geluk Rangies!! Jy is ‘n ystervrou!

SIOUX

Die perde het nie n keuse nie.
Dit is baie wreed!!!!!

Perd

Hierdie is ‘n uiterse profesionele uithourit waar die DBV en veeartse by elke “vet check” na die welstand v die perde kyk. Daar is niks wreed aan hierdie uithourit. Die versoring van die perde is uiters puik.
Rangna, hierdie prestasie is fantasties. Soos die Amerikaanse deelnemer op “you tube” gese het, hierdie is ‘n “horsemanship” tussen jou en jou perd jy moet jou perd so mooi oppas tydens die “race”. Die welstand van die perde is 100%.