Suidoosterfees, NATi laat jong dramaturge floreer

Melissa Myburgh (Foto: Verskaf)

Die nuwe groep aspirant-dramaturge wat gekeur is vir deelname aan die Suidoosterfees se NATi Jong Sterre-projek, is pas aangekondig.

Henque Heymans, Jane Mpholo, Heloine Armstrong, Melissa Myburgh en Stephren Saayman is die derde groep jong skrywers wat aan dié ontwikkelingsprojek deelneem.

NATi se Jong Sterre-projek word in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting aangebied. Die projek, wat belowende jong dramaturge ondersteun deur hul skryfvaardighede te ontwikkel en af te rond, het in 2019 die lig gesien.

Deelnemers ontvang opleiding tydens ʼn mentorskapprogram wat ʼn skrywersverblyf van drie weke in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet Huis in Somerset-Oos insluit. Abduragman Adams is vanjaar as mentor betrokke, en Rafiek Mammon gaan toesien dat die nuwelingskrywers se werk as produksies by Suidoosterfees 2022 debuteer.

Heymans het verlede jaar by die ATKV Tjokkertoneelkompetisie weggestap met die prys vir beste mini-toneelteks vir Kamerverlaat. In 2019 was sy toneelstuk Br(o)os onder die toptien ATKV Tienertoneel-produksies en hy het ook naam gemaak as skrywer vir die een-tot-een-teaterbeweging DEURnis.

Mpholo het ʼn graad in drama aan die Universiteit van die Vrystaat, en sy het haar op die verhoog onderskei in Jerry Mofokeng se produksie van The Island. Haar outobiografiese teaterproduksie Psalm69, was in 2018 op die program van The Global Leadership Summit. Sy is tans ʼn provinsiale ambassadeur van BASA se debuutprogram.

Armstrong het ʼn BA-graad aan die Universiteit Stellenbosch behaal. Sy woon in die Noord-Kaap waar sy op gemeenskapsontwikkeling fokus. Die afgelope twee jaar was sy aktief betrokke by die Garage Dance Ensemble.

Myburgh het in 2020 ʼn honneursgraad in kreatiewe skryfwerk aan die US se dramadepartement voltooi. Sy was medeskrywer van die verhoogproduksie NiksAllesToglets, wat vir ʼn Woordtrofee tydens die US Toyota Woordfees benoem is.

Saayman het in drama aan die Universiteit Stellenbosch gegradueer. Hy het die DKES-dramakompetisie gewen met sy produksie Ek, Eva, wat in 2020 as deel van die NATi Jong Sterre-projek by die Suidoosterfees gedebuteer het. Vroeër vanjaar is hy as beste akteur aangewys vir sy rol in die fees se Jong Sterre-produksie Mannetjie.

Hierdie ontwikkelingsprojek gee gestalte aan wyle professor Jakes Gerwel, ʼn stigterslid van die Suidoosterfees, se passie vir die ondersteuning van talentvolle jong individue wat andersins nie die geleentheid daartoe sou gehad het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.