Suidoosterfees: Só lyk 2022-program  

Brendon Daniels speel die rol van Bernard in ‘Opdrifsel’ en teenoor hom is Tinarie van Wyk Loots in die rol van Mara. (Foto: Verskaf)

Kaapse gehore kan vanjaar uitsien na ʼn volgepakte feesprogram op die Suidoosterfees wat van 27 April tot 1 Mei by Kunstekaap in Kaapstad plaasvind.

Die program bied ʼn verskeidenheid van vermaak aan kunsteliefhebbers: van operettes en klassieke musiek tot drama, jeugteater en skrywersgesprekke.

Aangrypende dramaproduksies is ingesluit op die NATi Teaterfees-program. Brendon Daniels en Tinarie van Wyk Loots speel in Philip Rademeyer se Opdrifsel, Frank Opperman is te sien in Ek wens, ek wens, gegrond op Zirk van den Berg se bekroonde boek, en Cintaine Schutte en De Klerk Oelofse speel in Mutton Hour, ʼn unieke produksie waarin kort stories oor liefde, verlies, hansworse en katte keurig tot ʼn geheel saamgeweef is.

Drie gewilde Suidooster-sepiesterre Christian Bennett, Dean Smith en Gantane Kusch speel in Koeksusters, ʼn komediedrama wat handel oor geslagsgebaseerde geweld in Suid-Afrika. Frieda van den Heever is verantwoordelik vir Die oerkluts kwyt, ʼn produksie met Antoinette Kellermann waarin Kellermann verse van Antjie Krog vertolk. Krog en Kellermann word vanjaar 70, en dié dubbele mylpaal word met hierdie aanbieding gevier.

Ander hoogtepunte op die NATi Teaterfees-program is Herschelle Benjamin se Agulhasvlakte, met Kay Smith, René Cloete en Wilhelm van der Walt, en Ferdinand Bekker se Dis 20:15, met Waldemar Schultz en Brendon Daniels.

Frank Opperman vertolk die rol van Seb in die solostuk “Ek wens, ek wens”. (Foto: Facebook)

Die NATi Jong Sterre, een van die Suidoosterfees se vlagskipprojekte, word in samewerking met die Suidoosterfees, NATi en die Jakes Gerwel Stigting aangebied. Vyf tekste deur dié nuweling-dramaturge debuteer op vanjaar se fees: Stephen Saayman, Heloïne Armstrong, Melissa Myburgh, Jane Mpholo en Henque Heymans. Die tekste is tydens ʼn skrywersverblyf in die Jakes Gerwel Stigting se Paulet-huis op Somerset-Oos ontwikkel. Akteurs wat in hierdie produksies speel, sluit in Rehane Abrahams, Jill Levenberg, Tinarie van Wyk Loots, Ben Albertyn, Boitumelo Mohutsioa en Robert Hindley.

ʼn Nuwe afdeling op die feesprogram, NATi Jeugteater, fokus op produksies van skoliere en studente. Feesgangers en jong teaterliefhebbers kan uitsien na drie produksies wat as wenners by die ATKV-Tienertoneel aangewys is. Studente van Stellenbosch Universiteit, Northlink Kollege en CPUT bring ook hulle opvoerings na die feesverhoog.

Nataniël se aanhangers kan uitsien na Moscow, wat ʼn Kaapse draai by die fees kom maak. Verskeie ander musiekproduksies gaan die feesverhoog ook met kleur en klank vul. Die Suidooster-sterre Cedwyn Joel, Jawaahier Petersen, Eden Classens, Irvine van der Merwe en Natasha van der Merwe is te sien in Suidooster Stormsterk. Ode op akkoorde, ondersteun deur die Johann Brink Trust, gaan gehore meevoer met kunstenaars soos Louis Loock, Magdalene Minnaar en Jarrad Ricketts. Op die klassieke musiek- front bekoor Lauren DaSappa, Janel Speelman, Janelle Visagie en Elna van der Merwe gehore in Klassieke divas. AGL Opera bring die gewilde Don Pasquale na die feesverhoog.

Internasionale jazz-dag op 30 April val weer in die feestyd en liefhebbers van dié genre kan uitsien na eg Suid-Afrikaanse klanke in “Jika” – Sounds of the SA Jazz Real Book, waarin inheemse jazz-genres soos kwela, ghoema, mbaqanga, sopvlei en tsaba-tsaba gevier word. Onvergeetlike nommers soos die “Click Song”, “Paradise Road” en “Pata Pata” word uitgevoer.

Mense wat mal is oor boeke en letterkunde kan uitsien na die Jakes Gerwel Stigting en die ATKV se gespreksreeks wat vanjaar met 13 aanbiedinge spog. Alle gesprekke is gratis, maar weens Covid-19-regulasies is daar beperkte sitplekke en besprekings moet vooraf by [email protected] gedoen word.

Marita van der Vyver kom gesels met Cintaine Schutte oor haar ontroerende jeugmemoires, ʼn Baie lang brief aan my dogter. Ronelda Kamfer praat oor haar debuutroman, Kompoun, en Audrey Jantjies gesels oor haar boek, As die katjiepiering blom.

Maroela Media het vroeër berig dat die Suidoosterfees die afgelope twee jaar daarin geslaag het om ondanks die Covid-19-pandemie ʼn verskeidenheid aktiwiteite en projekte aan te bied.

Die fees gaan vanjaar oudergewoonte in Kaapstad voort, maar personeel, gehore en kunstenaars sal bewys van inenting moet kan lewer om dit by te woon. Die beleid word op die Suidoosterfees se webwerf en sosialemedia-platforms uiteengesit.

Die volledige program is op die Suidoosterfees se webwerf beskikbaar en kaartjies is by Computicket te koop. Daar is spesiale pakkette beskikbaar vir mense wat beplan om die fees in Kaapstad by te woon, en dit sluit onder meer verblyf en kaartjies in.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.