Superheld en Helpende Hand pak gehoorprobleme aan

Captain Hear’O (regs) help om die fokus te plaas op die noodsaaklikheid van gehoorsiftingstoetse. (Foto: Verskaf)

Vandag is Wêreldgehoordag met die tema “Om te hoor vir ʼn leeftyd, luister met sorg”. Dis ook met hierdie sorg wat Solidariteit Helpende Hand en Captain Hear’O hande vat om om te sien na die gehoor van kinders wat deel is van Solidariteit Helpende Hand se Kosblikkie-projek. Helpende Hand verseker nie net dat kinders ʼn gesonde bord kos ontvang nie, maar deur bewusmaking en gehoorsiftingstoetse by sekere van die skole wat deel is van die projek identifiseer en voorkom hulle ook reeds op ’n vroeë ouderdom gehoorverlies.

Yolande van der Westhuizen, oudioloog en stigter van Captain Hear’O, vertel meer oor die noodsaaklikheid van gehoorsiftingstoetse.

Ouers leer hulle kinders dat lekkergoed tandbederf kan veroorsaak en dat hulle hul tande gereeld moet borsel, maar weet hulle regtig wat om vir hulle kinders te leer oor ore en gehoor?

Captain Hear’O is gebore uit die behoefte om gemeenskappe bewus te maak van hulle ore en gehoor en hoe om dit op te pas. Ontmoet vir Captain Hear’O – die superheld wie se hoofdoel is om kinders se ore te red deur vir kinders die feite oor gehoor en gehoorsorg te leer. Captain Hear’O doen dit op ʼn prettige manier waarby kinders aanklank vind sodat hulle kan onthou wat hulle leer en sodat hulle dit ook weer eendag vir hulle kinders kan leer.

Die voorkoms van gehoorverlies onder kinders is wêreldwyd baie hoog, en in Suid-Afrika selfs nog hoër as in baie ander lande. Ongeveer twee tot vyf uit 1 000 kinders het ʼn matige gehoorverlies terwyl selfs meer kinders moontlik ʼn geringer graad van gehoorverlies het. Hierdie geringe en matige gehoorverlies bly dikwels onopgemerk.

Die moontlike redes vir gehoorverlies by kinders sluit onder meer die volgende in:

  • Was wat in die oorkanaal opbou
  • Middeloorinfeksie
  • Vog wat in die middeloor opbou
  • Genetiese gehoorverlies
  • Kongenitale gehoorverlies (teenwoordig by geboorte)
  • Gehoorverlies as gevolg van blootstelling aan geraas (oorfone/speelgoed/geweerskote)

In Suid-Afrika is neonatale gehoorsiftingsprogramme by baie hospitale beskikbaar; tog word baie kinders met gehoorverlies steeds misgekyk. Dit veroorsaak natuurlik dat ’n aangebore gehoorverlies dikwels eers heelwat later in ’n kind se lewe ontdek word. Ouers is ook dikwels oorgerus oor hulle kinders se gehoor ná die aanvanklike neonatale gehoorsifting. Die realiteit is egter dat gehoorverlies dikwels later kan ontwikkel, byvoorbeeld as gevolg van die opbou van was of vog of middeloorinfeksie. Dit is daarom van kritieke belang dat kinders se gehoor gereeld getoets word, en daarom besoek Captain Hear’O skole om kinders bewus te maak van hulle ore en gehoor en om hulle gehoor te toets.

Gehoorverlies by kinders kan onder meer soos volg presenteer:

  • Dit lyk of jou kind jou ignoreer / nie luister nie / selektiewe gehoor het.
  • Die kind se spraakontwikkeling is vertraag.
  • Die kind sit die televisie/musiek baie hard aan.
  • Die kind presteer akademies swakker as verwag.
  • Die kind gee nie aandag aan gesprekke nie.
  • Die kind sukkel om te hoor as daar ’n geraas in die agtergrond is.
  • Die kind reageer nie altyd wanneer jy sy/haar naam noem of hom/haar roep nie.
  • Die kind hoor dikwels verkeerd.

Captain Hear’O in aksie. (Foto: Verskaf)

In werklikheid kan selfs ʼn baie geringe mate van gehoorverlies ’n groot impak op ʼn kind hê. Dit is veral die geval in ʼn klaskamer wat dikwels nie ʼn ideale luisteromgewing is nie weens geraas en swak akoestiek. Die Covid-19-maskers het dinge ook nog verder bemoeilik.

In baie gevalle toon kinders min of geen simptome van gehoorverlies nie, en gevolglik gaan dit onopgemerk verby. Al voel jy nie noodwendig dat jou kind ʼn gehoorprobleem het nie, is dit daarom noodsaaklik om die kind se gehoor gereeld te toets.

Captain Hear’O bied die nodige inligting op ’n praktiese, ouderdomsgerigte en humoristiese manier aan wat kinders kan onthou, soos byvoorbeeld met vyf reëls vir jou ore.

Die volgende gehoorsiftingstoetse word gewoonlik by skole gedoen:

  • Otoskopiese ondersoek: Visuele ondersoek van die oorkanaal en oordrom
  • Timpanometrie: Middeloortoets om te bepaal of daar enige vog of drukking in die middeloor opbou
  • Suiwertoon-oudiometrie: Toets die gehoor deur piepklankies op verskillende toonhoogtes te maak
  • Oto-akoestiese emissies: Toets die gehoororgaan sonder dat die kind op klank hoef te reageer

Dit is belangrik om te onderskei tussen siftingstoetse en diagnostiese toetse. Siftingstoetse dui slegs aan dat daar moontlik ’n gehoorprobleem is, terwyl diagnostiese gehoortoetse die presiese oorsprong en graad van die probleem bepaal. Besoek www.captain-hearo.co.za vir meer inligting.

  • Raak betrokke by Helpende Hand se Kosblikkie-projek en inisiatiewe wat uit dié projek voortvloei deur die woord STOP te SMS na 45763. (Elke SMS kos R2.) Besoek kosblikkie.co.za vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.