Susette en Sheri is ’n wenspan

Susette en Sheri Brynard. (Foto: Verskaf)

Deur Elize Perrin

Saam is hulle ’n wenspan. Susette en Sheri Brynard het nie toegelaat dat ’n ekstra chromosoom Sheri se menswees aan bande lê nie. Vir Susette was en is dit steeds ’n roeping om te sorg dat Sheri haar volle potensiaal bereik.

Die feit dat Susette nie vooraf kennis gedra het dat Sheri as ’n Downsindroom-baba gebore sou word nie, het nie haar liefde vir haar oudste kind beïnvloed nie.

“Sy was so pragtig,” vertel Susette. “Sy was my dogtertjie en ek was tevrede met die Here se geskenk aan my. Ek het geen aanpassings gemaak nie, net ’n kopskuif. Ek het haar presies dieselfde grootgemaak as wat ek sou as sy net die regte hoeveelheid chromosome gehad het.”

Sheri beaam dit.

“My ma het ons altyd geleer,” vertel sy. “Wanneer ons gaan stap het, het ons gesing en wanneer ons in die sand gespeel het, het ons die abc opgesê. Alles was speel-speel en vol grappies en lekkerte.”

Grense word verskuif

Sheri se CV lees soos ’n storieboek: gasspreker op nasionale en internasionale vlak, ’n rol in ’n televisiesepie, verskyning op televisieprogramme soos Kwêla en Praat met Rian. Sheri ploeg ook terug in haar gemeenskap met, onder meer, donasies aan die Lettie Fouché Skool vir leerders met spesiale behoeftes. Sekerlik is haar grootste prestasie die feit dat sy die enigste persoon ter wêreld is wat onderwyskwalifikasies behaal het.

Met haar ma se ondersteuning en liefde is die wêreld vir Sheri oopgebreek. Susette se betrokkenheid by Sheri is duidelik. Mense kan dalk wonder of sy nie soms voel dat sy in haar eie lewe iets gemis het nie?

“Dit kan dalk so wees dat ek dinge gemis het, maar dis al realiteit wat ek ken,” antwoord Susette. “Sheri is sensitief vir my behoeftes en baie onselfsugtig. Sy weet ek het soms eie tyd nodig en gee dit vir my sonder dat ek vra.”

Ter wille van kontinuïteit en om verwarring uit te skakel, het Susette haar eerste man (Sheri se pa) se van behou nadat hy in ’n fratsongeluk by die Augrabies-waterval gesterf het. Susette het vyf jaar ná sy afsterwe weer in die huwelik getree.

“In ’n groot mate voel ek elke dag dat ander mense wat nie my pad saam met Sheri loop nie, iets mis. Ek dank die Here gereeld dat ek soveel by haar kan leer,” sê Susette. Sy vertel dat Sheri ’n heerlike reisgenoot is. In Australië wou sy graag op ’n besigtigingstoer na ’n bekende teater gaan en, volgens Susette, het sy dit geweldig geniet en selfs vrae in Engels gevra.

Susette se trots op Sheri se ontwikkeling en menswees is te verstane.

“Sy verras my gereeld met haar insig, sin vir humor en omgee vir ander,” sê Susette.

“Sy ontwikkel steeds en die ou geloof dat hulle net tot sewe jaar ontwikkel en gou doodgaan, word elke dag verkeerd bewys. Haar ontwikkeling was net bietjie stadiger en ek het dit in gedagte gehou. Ek wou haar nooit probeer normaal maak nie.”

“My ma beteken die wêreld vir my,” vul Sheri aan. “Sy laat my besluite neem, maar verduidelik vir my wat die effek van my besluite kan wees. My ma is streng en nie heeltyd jammer vir my nie. Dit is goed vir my omdat ek dan in myself glo.”

“Ek het my kinders geleer om hul eie drome te hê,” vertel Susette verder. “Ek het nie besluit dat Sheri moet gaan swot nie; sy het dit besluit. Ek het net die deure vir haar drome probeer oopmaak.”

Susette saam met haar drie dogters. Van links: Susette, Sheri, Suzette en Marisa. (Foto: Verskaf)

Koesteroomblikke tussen Susette en Sheri is volop. Volgens Susette geniet hulle dit om saam oor ’n koppie koffie oor die dag se gebeure te gesels.

“Dan vertel sy my van die kindertjies by haar skool se probleme,” sê Susette. “Ook van haar drome, hoe sy haar toesprake wil aanpas en dan beplan ons ook haar afsprake en dagboek. So word ons binnekante gevoed deur die spesiale stilstaanoomblikke.”

Vir Sheri is daar niks so lekker as om saam met haar ma oorsee te reis nie.

“Ons verstaan mekaar so goed,” sê sy. “Ek hou ook daarvan dat sy mooi aantrek en my ook help om altyd te probeer mooi lyk.”

Moedersdag

Susette saam met haar gesin. Agter: Susette en Sam. Middel, van links: Pieter en Josua Steyn, Suzette en haar man Jaco met baba Lara Lamprecht. Voor: Marisa en Mia Steyn en Sheri. (Foto: Verskaf)

Susette is die trotse ma van drie dogters. Met haar tweede huwelik het sy nog drie dogters ryker geword.

Vra jy Susette wat vir haar die lekkerste van ma-wees is, antwoord sy dat dit bevredigend is om te sien dat haar kinders die mooiste verlengstuk van haar eie lewe is.

“Ek het drie kinders wat aan die voete van Jesus lewe, wat nederig, maar sterk is en wat nooit afkyk of slegpraat van ander mense nie. Ek bewonder Sheri omdat sy haar eie mens is en haar sussies gun wat haar nie beskore is nie.”

As ma is dit vir Susette belangrik dat Sheri nie té afhanklik van haar moet wees nie.

“Ons praat baie oor die dood en alles wat ek moontlik kon doen, is getref vir Sheri indien ek eerste sou sterf. Ek probeer seker maak dat sy onafhanklik genoeg is om sonder my steeds ’n vol lewe te leef. Sou ek voor haar gaan, vertrou ek die Here om na haar om te sien soos Hy dit haar hele lewe lank gedoen het.”

Sheri sluit hierby aan.

“My ma wil nie hê dat ek ooit moet sukkel sonder haar nie,” eggo sy Susette se begeerte. “Wanneer sy dink ek kan iets self doen, sal ek altyd probeer, soos om op my eie in Suid-Afrika te vlieg sonder enige hulp.”

Vir Susette en haar hartsmense is Moedersdag nie belangrik nie.

“Ek het my kinders grootgemaak dat my verjaarsdag my Moedersdag is,” sê sy. “My mooiste bederf was met my sestigste verjaarsdag. Ek en Sheri was in Italië waar sy die volgende week in Rome sou optree. In Rome sou ons ’n trein na Sorrento neem om my droom om Pompei te besoek, te bewaarheid. Op die stasie het my ander twee dogters, hul mans en my kleinkind my verras.”

Vra jy tog vir Sheri wat sy graag vir haar ma vir Moedersdag sou wou gee, is sy gereed met ’n antwoord.

“My ma maak nie ’n groot ophef van Moedersdag nie,” sê sy. “Al wat ek eintlik vir haar kan gee is my liefde… en ek gee dit reeds elke dag vir haar.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
James

Pragtig!
Mag die Here julle seën.

Inkpot

Die mooiste storie en ook inspirasie vir ander in dieselfde omstandighede.