Suster spoor gestremde broer ná maande op

Heleen Rust en haar broer Francois Venter (Foto: Verskaf)

Nadat die omstrede Life Esidimeni-tragedie die lewe van meer as 100 psigiatriese pasiënte geëis het, het ʼn broer en suster se hoop om herenig te word aan skerwe gelê.

Heleen Rust, wat deesdae in Namibië woon, vertel haar broer, Francois Venter, was maar een mens in ʼn see van name wat deur dié omstrede kwessie geraak is.

Die gesondheidsombudsman het vroeër vanjaar in ʼn verdoemende verslag bevind meer as 100 psigiatriese pasiënte is dood nadat hulle vanaf Life Esidimeni-fasiliteite na ongelisensieerde NRO’s oorgeplaas is. Die pasiënte is onder meer dood aan verwaarlosing en ondervoeding. Qedani Mahlangu, die voormalige LUR vir gesondheid in Gauteng, het destyds gesê ʼn tekort aan geld het die oorplasing van die pasiënte genoodsaak.

Venter was maar een van die slagoffers wat spoorloos “weggeraak het in die stelsel” nadat die pasiënte na NRO’s oorgeplaas is. Hy is vanuit die Witpoort-sorgsentrum na ʼn NRO oorgeplaas sonder dat sy familie daarvan in kennis gestel is.

Rust het die Witpoortsentrum in Mei 2016 genader net om te hoor dat haar broer en al die ander pasiënte weg is. Sy was duisende kilometers ver en géén inligting oor die pasiënte was beskikbaar nie.

Sy vertel sy was egter nie bereid om moed op te gee nie. Sy het vir maande onverpoos na haar broer gesoek, maar sonder sukses – selfs personeel van die Witpoortsentrum kon geen antwoorde aan haar verskaf nie.

Francois Venter (Foto: Verskaf)

Sy het haar uiteindelik tot Solidariteit Helpende Hand gewend om met dié proses te help. “Ek het my verwyt omdat ek nie beter na hom gekyk het nie. Ek het daardie versekering gehad dat my broer versorg en in goeie omstandighede is, maar toe word die mat onder my uitgeruk,” het sy gesê.

Rust vertel haar broer benodig deurlopend voltydse versorging en medikasie – iets wat die NRO’s nie aan hom kon verskaf nie. Dit is juis daarom dat sy Isabel Faurie, ʼn maatskaplike werker by Solidariteit Helpende Hand, genader het om haar broer te help opspoor om sy veiligheid te verseker. In dié tyd het die media egter wyd berig van talle pasiënte wat in die proses gesterf het, en sy het nooit geweet of haar broer een van dié slagoffers was nie.

Faurie het ʼn maand later daarin geslaag om haar broer op te spoor. Venter is na talle sentrums verskuif en sy het hom uiteindelik in ʼn versorgingsentrum in Germiston in Johannesburg opgespoor. “Ek het toe sommer self na die sentrum gery om seker te maak dat dit wel hy is,” vertel Faurie. “Ek wou haar in geen omstandighede valse hoop gee nie.”

Helpende Hand het Rust na Suid-Afrika gevlieg om met haar broer herenig te word. “Francois kon nie ʼn duidelike weergawe gee van waar hy die afgelope paar maande was nie, maar hy kon wel verduidelik dat hy oorgeplaas is,” het Faurie gesê.

“Vroeër die dag, net voor ons Heleen na die sentrum geneem het, het personeel vertel hy het die hele dag sit en wag vir haar; hy kon nie sy opgewondenheid beteuel nie. Al die ontsteltenis van die tragedie was vergete toe hy sy suster weer ná al die jare gesien het. Hoewel hulle gereeld telefonies gekommunikeer het, het hulle mekaar laas in 2005 van aangesig tot aangesig gesien.

Francois Venter (Foto: Verskaf)

“Dit was wonderlik om daardie oomblik saam met hulle te beleef. Dit was hartroerend en hulle was baie emosioneel. Hoewel hy gestremd is, verstaan hy steeds alles wat om hom gebeur. Hy het haar herken en kon met moeite praat. Dit was ʼn wonderlike oomblik om te sien hoe hulle herenig is. Sy het ongelooflik mooi na hom begin kyk – sy het elke dag vir hom gesê om sy medikasie te gebruik en te bad, en sy het hom help versorg in die week wat sy in Suid-Afrika was. Sy voorkoms het elke dag verbeter en ons is dankbaar ons kon ʼn rol daarin speel,” sê Faurie.

Volgens Faurie het die broer en suster afgespreek om mekaar meer gereeld te besoek. Hy sal aanbly by die versorgingsentrum in Germiston waar hy volgens Faurie nou in goeie hande is. Helpende Hand se personeel het ook onderneem om elke ses weke vir Francois te gaan kuier.

  • Solidariteit Helpende Hand is nou amptelik deel van die alternatiewe geskilbeslegtingsproses (ADR). Families van pasiënte wat skade gely het deur die Esidimeni-tragedie en hulp met die arbitrasieproses verlang, kan ʼn e-pos stuur na Isabel Faurie by [email protected] of Helpende Hand bel vir meer inligting by 012 644 4390. Die sperdatum hiervoor is 25 Augustus 2017.
  • Luister gerus ook na die onderhoud boaan hierdie berig om agter te kom hoe Helen Rust en Pieter de Jager, familielede van psigiatriese pasiënte, deur die Esidimeni-tragedie geraak is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Eish ·

Ai tog mense, dis hartroerend! Dankie aan Solidariteit vir hul liefde.

Carien ·

Dit is wonderlik, dankie Solidariteit Helpende Hand dat jul gehelp het in die hereniging van hierdie mensies.

Riaan ·

Moet asb nie beloftes maak wat julle nie kan vol hou nie Solariteit.

RDP ·

Uitstekende werk en deursettingsvermoë Isabel Faurie! Jy verstaan waaroor Helpende Hand vir Jan Alleman gaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.