Swaksiende kunstenaar vasbeslote om aan te hou skilder

Etmáál van Jaarsveld saam met Riana Nel. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Etmáál van Jaarsveld saam met Riana Nel. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Toe ʼn oogspesialis destyds vir Etmáál van Jaarsveld (36), ʼn passievolle kunstenaar van Pretoria, aanraai om op te hou om sy kuns te beoefen aangesien fyn detailwerk, kralewerk of ontwerpe sy reeds swak sig verder sou belemmer, het hy in sy hart geweet hy sou nie die dokter se raad kon volg nie.

“Ek teken en skilder om die verskillende seisoene waardeur ek in my lewe gaan, te kan hanteer en verwerk. Kuns is vir my ʼn toevlug ongeag van my omstandighede en ek sou nie daarmee kon ophou net omdat daar ʼn kans is dat ek heeltemal blind kan word nie,” sê Van Jaarsveld in ʼn onderhoud met Maroela Media.

Van Jaarsveld, wat aan ʼn seldsame oogsiekte ly, het onlangs die publiek se aandag getrek nadat hy die sangeres en liedjieskrywer Riana Nel by die Jacaranda FM-ateljee in Midrand verras het met ʼn skildery van die albumomslag vir haar splinternuwe album, Sterker.

Van Jaarsveld vertel dat hy reeds op skool agtergekom het dat sy sig al hoe meer verswak. “Ek moes van gr. 10 af ʼn bril dra omdat ek nie op die bord voor in die klas kon sien nie. Ek het later kontaklense begin dra, maar dit het heeltyd uitgeval. Ek het ná skool toelating gekry om kuns en ontwerp te studeer en op ʼn dag het my kontaklense weer net uitgeval.

“My ma het later met my baklei en gedink ek party die kontaklense uit my oë uit,” lag hy.

Uiteindelik het ʼn oogarts hom verwys na die ooginstituut in Pretoria en op die ouderdom van 21 is hy met ʼn oorerflike oogsiekte, degeneratiewe kornea‑siekte, gediagnoseer. “Dit beteken die kornea verander die heeltyd van vorm en die oogvlies word al hoe dunner. My linkeroog is tans swakker as my regteroog. Albei my korneas is die vorm van ʼn rugbybal – een wat plat lê en een wat regop staan soos net voor dit oor die pale geskop word.”

Later het hy ʼn oogoperasie ondergaan om sy sig te herstel, maar dit was nie suksesvol nie. “Ek het vir ʼn hele paar weke ná die operasie in die donker rondgetas wat ek niks kon sien nie. Dit was gedurende daardie tyd wat ek heeltemal op ander mense moes staatmaak om deur die dag te kom, dat ek besef het hoe ʼn mens jou sintuie soos sig en gehoor só as vanselfsprekend aanvaar. Ek het gewonder of ek my ma eendag sou sien oud word, of ek my suster sou sien trou. Het ek genoeg gekyk? Het ek genoeg goeie dinge in die lewe, en nie net die foute nie, raakgesien?”

Die skildery wat Etmáál van Riana Nel gemaak het. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Die skildery wat Etmáál van Riana Nel gemaak het. (Foto: Facebook via Riana Nel)

Sy sig het later teruggekeer na hoe dit was voor die operasie en dokters het hom meegedeel dat hulle nie sy sig sou kon red nie. “Daar was geen lang termyn verbetering nie.”

Dit was toe dat die spesialiste hom aangeraai het om nie meer sy kuns te beoefen nie, aangesien dit hom heeltemal blind kon laat. Hy vertel dat hy buitelyne van mense op ʼn afstand kan sien, maar nie detail nie, en dat hy sy kuns kan doen deur sy oë op skrefies te trek en baie naby aan die kunswerk te sit.

“Ek het vrede met die Here gemaak oor my sig. Deur my kuns wil ek vir Hom dankie sê dat my sig gespaar is en dat ek nog nie heeltemal blind is nie en dat ek nog geleenthede kan kry soos om vir Riana met ʼn skildery te bedank vir haar musiek,” sê Van Jaarsveld.

Hy vertel Nel se liedjie “Hou die hemel oop” was die groot inspirasie vir die skildery en sê hy het dié dag by Jacaranda FM se ateljee nie verwag dat hy die sangeres sou ontmoet nie.

“Ek wou net die skildery by haar uitkry. Daar het soveel goed die laaste ruk in my lewe gebeur. My neef se babatjie is oorlede. My geliefde ouma, wat ʼn moederfiguur in my lewe is, het dié nuus nie goed gevat nie en het self later in die hospitaal in ʼn bedenklike toestand beland. ‘Hou die hemel oop’ het een middag, te midde van al die chaos by die hospitaal, oor die radio gespeel en die lirieke het so duidelik met my gepraat,” sê hy.

“Die liedjie het my daardie dag uit ʼn baie donker plek gered. Die liedjie sê dat nie een van ons weet wanneer dit ons tyd is om te gaan nie en ek het vir die Here daardie dag by die hospitaal gesê, as dit my ouma se dag is om te gaan vandag, dat Hy die deur na die hemel vir haar moet oophou en dat sy daar die babatjie en my oupa, wat lankal reeds weg is, weer sal sien. Die liedjie het my weer hoop gegee en in ʼn mate baie vertroosting gebring.”

Nicole Capper by die skildery wat Etmáál van haar gemaak het. (Foto: Instagram via @etmaal)

Nicole Capper by die skildery wat Etmáál van haar gemaak het. (Foto: Instagram via @etmaal)

Volgens Nel was dit vir haar ʼn groot verrassing om vir Van Jaarsveld te ontmoet by die Jacaranda FM-ateljee. “Ek volg hom al ʼn tydjie op Instagram, want hy is ʼn fenomenale kunstenaar en ek bewonder sy werk al vir ʼn rukkie,” sê sy.

Sy vertel sy kon sien Van Jaarsveld is oorweldig deur al die oë op hom en die mikrofone in die radio-ateljee. “Hy het my so diep aangeraak met sy storie oor hoe die liedjie hom geraak het. Dit is vir my so wonderlik hoe twee kunstenaars so langs mekaar kan sit en mekaar kan seën met hulle kuns. Daar is ʼn foto van ons waar hy my soen op die voorkop en dit is só spesiaal, want hy is regtig net ʼn besonderse mens.

“Hy het so ʼn sagte hartjie en is so saggeaard. Ek verstaan nog steeds nie hoe hy daardie massiewe skildery in ʼn Uber-taxi vervoer het nie, want dit het skaars in my nutsvoertuig gepas!” lag Nel. Sy verklap dat sy plek gemaak het vir dié skildery bo haar klavier in die kamer waar sy haar musiek skryf.

En dit is geen wonder dat Nel reeds vroeër Van Jaarsveld se kuns op Instagram opgemerk het nie. Van Jaarsveld se Instagram-profiel is as’t ware ʼn digitale kunsgalery van kunswerke wat hy van beeldskone en bekende vroue gemaak het. Skoonhede soos die voormalige mev. Suid-Afrika Nicole Capper, voormalige mej. Suid-Afrika Melinda Bam, die internasionale model Lee-Ann Liebenberg, en die voormalige mej. Heelal Demi-Leigh Nel-Peters, is almal deur Van Jaarsveld op die skilderdoek vasgevang.

Hy vertel dit is nie noodwendig slegs dié vroue se uiterlike skoonheid wat hom inspireer nie, maar elke vrou se storie van innerlike krag. Hy sonder Capper, wat tans te sien is in die realiteitsreeks Survivor op MNet, uit.

“Ja, sy is ʼn skoonheidskoningin, maar haar dogtertjie ly ook aan sistiese fibrose en sy is deur ʼn moeilike egskeiding. Agter elke mooi gesig is daar ʼn storie,” sê Van Jaarsveld.

“My ouers is geskei toe ek en my suster baie klein was en ons het nie ons grootouers aan my pa se kant geken nie. My ouma aan my ma se kant, wat nou siek is in die hospitaal, is ʼn baie sterk vrou en so ook my ma en my suster. My suster se dogtertjie sal ook sterk wees, soos hulle. Ek word deur vier generasies van sterk vroue omring wat bly deurdruk deur moeilike tye in die lewe en daarom inspireer dié vroue my.”

Enigiemand wat met Van Jaarsveld wil kontak maak, kan vir hom ʼn e-pos stuur by [email protected].

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Maria ·

Etmaal ek so trots op jou!! Ek is doof en besig om sig te verloor weier op te gee werk nog en draf nog dit voorbeeld vir almal STAAN OP… GO ….WEES STERK ! Deur gestremheid maak mens sterker en waardeer meer :)

Jess ·

Sjoe jou werk is ONGELOOFLIK MOOI. Jy is vreeslik talentvol, moet nooit ophou waarmee jy besig is nie. Jou skulderye is iets ongeloofliks. Mag God jou dra deur die daggies wat moeilik is en mag Hy jou oumie baie vining gesond maak.

Wow ·

Wow, jou kunswerk is ongelooflik mooi. Jys verskriklik talentvol.

Wow! ·

Wow Etmaal, jou kunswerke is ongelooflik en sò eg; die skildery van Riana lyk net soos sy!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.