Swartlandse planmakers verseker hul eie inkomste

Braam en Jamie Dawson op die rooi bank waarop Braam vroeg verlede jaar virtuele toere onderneem het op soek na werk. (Foto: Verskaf)

Hoe gemaak as jy en jou vrou werkloos is, julle in ʼn klein plattelandse dorpie woon waar werkgeleenthede skaarser as hoendertande is en jul bankrekening wys nul? Hoewel dit ʼn redelik algemene verskynsel ná Covid-19 in Suid-Afrika is, inspireer die manier waarop hierdie Swartlandse egpaar planne beraam het om ʼn inkomste te genereer, skryf Sarie Marais-Nell.

Braam en Jamie Dawson van Abbotsdale buite Malmesbury het beide hul werk tydens die pandemie verloor. Gelukkig het hulle die voordele wat uitbetaal is, gebruik om alle skuld af te betaal. Maar vroeg in 2022, toe Braam op sy gunstelingplek op hul voorstoep sit, kon hy nie help om moedeloos te voel nie. Hulle was reeds ʼn jaar lank sonder inkomste, hul spaargeld was op en geen mens se familie kan heeltyd instaan om jou en jou vrou gevoed te hou nie. Die egpaar het nie kinders nie, maar Braam het twee jong kinders uit ʼn vorige huwelik.

Terwyl Braam daardie dag op die rooi bank op hul voorstoep sit, dink hy diep en ernstig oor planne om werk te skep. Die huis wat hulle self gebou het, is reeds afbetaal, maar hulle benodig dringend ʼn inkomste. Met sy oë op die koringlande oorkant hulle huis, stap hy in sy gedagtes deur hul naaste groot dorp, Malmesbury.

“Die oomblik toe hy verby die Binnelandse Sake-gebou ‘stap’, toe tref dit hom: Hy kan teen betaling vroegoggend in daardie lang rye namens kliënte gaan staan,” vertel Jamie.

“Ek het daardie dag besef dat Braam ʼn bietjie geheimsinnig optree,” onthou Jamie. “Hy was opgewonde, maar hy wou eers die gedagte op Facebook toets voor hy my daarvan sê.”

Sommer dadelik kry Braam reaksie op sy Facebook-navraag – drie persone wil graag R150 betaal sodat hulle eers later in die ry by binnelandse sake kan inval. “Eers tóé vertel Braam vir my en sy broer hiervan, en vra of ons as nommer twee en nommer drie in die ry sal staan.”

Gelukkig is Jamie net so ondernemend soos Braam. Sy het dadelik die plan omarm en 03:00 die volgende oggend het Jamie, Braam en sy broer by hul voordeur uitgestap. “Onthou, ons het toe nie eens ʼn ryding nie, ons moes ʼn bakkie by iemand huur.”

Een van hulle eerste kliënte was uit Yzerfontein, 60 km buite Malmesbury. “Die volgende dag wou vyf persone Q4U se dienste gebruik en omdat een persoon nie vir twee mense kan plek hou nie, betrek ons toe ander werklose persone uit Abbotsdale om te help.”

Die verligting vir Braam en Jamie om ʼn inkomste te kry, die nederige dankbaarheid van werklose mense wat kan kos koop voor hulle terugry huis toe, beteken dat daar van Januarie af nie een keer teruggekyk is nie. Baie vinnig moes Q4U vir 15 persone plek hou.

Jamie (tweede van voor, in pienk) op ‘n reënerige oggend voor die kantoor van Malmesbury se binnelandse sake. (Foto: Verskaf)

“Die gehuurde bakkie kon tien persone vervoer; vir die ekstra personeellede moes ons taxi-geld betaal vir die rit na Malmesbury. Ons almal was so dankbaar, al het sommige bure aanvanklik gesê: ‘Braam is mal’; al was daar soms wagtendes wat woedend raak as ons kliënt kort voor 08:00 opdaag en sy plek by ons oorneem.

“Sedertdien het ons die aanbod verfyn. Ons beloof aan kliënte ʼn plekkie onder die eerste tien; hulle moet 07:15 self hul plek in die ry kom inneem. Ons kan geen waarborg gee dat binnelandse sake se stelsel dalk van lyn af sal wees nie; maar hulle het wel kragopwekkers. Vandat ons eerder net aanlyn betalings ontvang, is die bakleiery met aflostyd veel minder.

“Ek bly heeltyd in kontak met persone wat op pad is na binnelandse sake vir hul afspraak met ons. Ek laat weet vroegoggend per WhatsApp dat ons reeds stelling ingeneem het, hoe die proses vorder. Mense hou van die kommunikasie; dit bied sekuriteit.

“Ons moes ook ʼn stelsel uitwerk vir gedeeltelike terugbetaling wanneer kliënte kanselleer, aangesien dit tyd en veral reiskoste van ons verg.”

Twee weke na Q4U se geboorte het Braam seisoenwerk as vragmotorbestuurder gekry. Sedertdien bestuur Jamie hierdie sakeonderneming terwyl hy op die pad is. “Wanneer Braam soms ʼn dag of ʼn week oop het, kom hy ook saam werk.”

Intussen het hulle vele interessante kliënte ontmoet: vlieëniers, ʼn egpaar wat vroegoggend (05:10) op Kaapstad-lughawe land en 08:00 by binnelandse sake op Malmesbury kon instap vir hul kind se dokumente; die eienaars van Reebok en later ook Van’s Skoene; die egpaar uit Seychelle saam met wie hulle gaan ontbyt eet het en steeds kontak behou; persone uit China, Nieu-Seeland, Constantia, Noordhoek en Dwarskersbos.

“Verhoogde brandstofkostes het veroorsaak dat ons tarief moes styg, maar ons kon intussen self ʼn Opel Corsa Utility-bakkie koop vir ons en ons personeel se 7 km-ritte Malmesbury toe.”

Vandat Q4U meer mense in diens moes neem, begin die egpaar waardevolle lesse leer: Abbotsdale se mense is desperaat vir werk – nog niemand het hulle vroegoggend in die steek gelaat nie. Hoewel Q4U aanvanklik net jong werklose moeders betrek het, fokus hulle nou op ouer vroue.

“Sedert einde laasjaar raai ek die jonger vroue aan om voldag werk te soek; ek wil graag vir ouer dames hierdie kans gee.”

Sy huiwer, wonder of sy dit moet sê: “Daar is dikwels so baie swaarkry in huise. Hierdie werk bring hoop en uitkoms vir vele gesinne, al werk ons net van 04:00 tot 07:15.

“Dit voel vir my en Braam lekker om mense te kan bemagtig. Ons sien reeds hoe loop hierdie werk in ʼn ritme – stiller voor maandeinde, besiger in wintertye – tog bly my dagboek propvol geskryf. Gedurende ons eerste jaar was ons slegs tien dae sonder werk.”

Jamie se innemende geaardheid het ook reeds nuwe voordele meegebring: “Een van my kliënte werk by ʼn versekeringsmaatskappy, toe skenk haar kantoor vir ons tien heldergeel sambrele teen winterreën. Ons werk gemaklik saam met die personeel by binnelandse sake. Hulle bring soggens 07:00 stoele uit vir die wagtendes, en wanneer dit vroegoggende reën, probeer hulle meer mense binnenshuis akkommodeer.”

Jamie en Braam is beide 37, asook planmakers en ware entrepreneurs. Hulle het intussen hul huis verkoop en ʼn oop erf gekoop waarop hulle nog baie gaan woeker.

“Ek glo vas elkeen van ons het ʼn doel wat ons elke dag moet uitleef.

“Ek glo ook dat ons almal baie versigtig moet wees vir die invloed wat sosiale media dikwels op ons gees kan hê – die manier waarop dit soms jou gees dreineer en die toksiese idee dat jy heeldag net positief en gelukkig moet wees.

“Ek soek tans na nog ʼn besigheid; ʼn mens moet nooit vasgevang raak nie.

“Ek bid regtig dat Q4U van krag tot krag sal gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

RS ·

Wel gedaan aan julle! Mag julle besigheid mooi groei en baie werklose mense help.

Susanna ·

Dis nou baie nice, maar hier in Centurion doen die mense dit al lankal en dis ‘n absolute irritasie, tussen die wat plek hou en die lap swaaiers. Mense betaal om voor te staan en as Binnelandse Sake se sekuriteit sien mense betaal om voor te staan, dan word hulle net weer so agtertoe gestuur. Vra my dit het met mense voor my gebeur. Sekuriteit sal wag tot die mense hulle R150 betaal het om voor in ry te staan, en sy tjommies klaar gescore het, dan jaag hy die mense om agter in die ry te gaan staan. En moenie dink die wat plek hou, of die geld vat word aangespreek nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.