Uithouer, aanhouer

garickvanstaden_williemignon0315

Willie Hamman.

Welkom by die Klipkouers Potgooi. Ek is Jacques Basson, eienaar van Klipkouers, en elke week gesels ek met ʼn ander Klipkouer-aanhouer en -uithouer. Vandeesweek se onderhoud was met Willie Hamman en in hierdie onderhoud vertel hy my meer van hoe sy besigheid, Star Pops, ysies vir kinders maak.

Vertel ons ʼn bietjie meer van jouself.

Ek is ʼn Pretorianer in murg en been en het selfs op Tuks geswot. Ek is in die konstruksiebedryf, siviele werk. Ek het onder meer aan die Gautrein gewerk, en ook hier by Lynnwood Bridge-winkelsentrum en daarna is ek Mosambiek toe. Die plan was om daar ook in bouwerk in te kom, maar uiteindelik was ek ʼn barman en chef en sommer ʼn hele klomp ander goed ook. Toe ek my trouvrou ontmoet, het ek agtergekom so ʼn langafstand-Mosambiek-Suid-Afrika-verhouding gaan nie werk nie, en ek het my stelselmatig weer teruggeskuif hierdie kant toe en met die besigheid, Star Pops, in Polokwane, begin.

Gee ons ʼn idee van die tipe besigheid en die bedryf.

Ons is in die vervaardigingsbedryf, dis seker nou die breër bedryf waarin ons is, maar meer spesifiek: Ek maak ysies, en dis my spesialiteit. Dis daardie ysies wat die kinders eet, gemik meesal op jou laer inkomstemark. Ons hanteer die fabriek. Ons het begin in Polokwane, later ook in die Oos-Kaap en omliggende gebiede uitgebrei, en toe ʼn rukkie later Pretoria toe verskuif. Dieselfde geld hierso: Ons maak, verkoop en versprei ons eie ysies.

 Wat maak jou besigheid anders as jou kompetisie?

Ons kry baie te doen met mense wat dink hulle kan ysies in hul motorhuis maak, maar ek dink wat ons van die begin af reg gedoen het, is dat ek nie my naam wil koppel aan iets wat substandaard is nie. Ek het net gesê kwaliteit, kwaliteit, kwaliteit – ek’s nie bereid om daaraan te sny nie. So as die suikerprys verdubbel, soos die afgelope paar jaar, sny ek steeds nie aan my suiker nie. Kwaliteit kom eerste, en ek dink as jy dit teen die regte prys kan verkoop, gaan jy geld maak. Maak nie saak wat of hoe nie, jy gaan suksesvol wees. Maar my groot ding is die kwaliteit.

Wat dink julle kan julle nog beter doen in die besigheid?

 

Daar is so baie goed. Ek is een van daai ouens wat hou van peuter, so ek dink jy kan aan enigiets verbeter. Ek is ʼn ou wat hou van variasie in my dag; as ek nou moeg is vir x of y of z doen, dan takel ek ʼn ander probleem. Daar is altyd iets wat jy kan leer of verbeter, van sisteme tot hoe die prosesse werk tot resepte – ek verbeter aanhoudend. Ek dink dis iets wat elke entrepreneur moet doen – hou aan verbeter, moenie dink jy’s goed genoeg nie.

Wat is jou topprioriteit vir 2017? Wat’s daardie een ding wat jy gaan aanpak?

Topprioriteit vir 2017 is: Ek wil my sisteme en prosesse in plek kry. Soos ʼn tipiese entrepreneur het ons hierdie ding gevat en met hom gehardloop. Ons het die afgelope vyf jaar 50% groei getoon. Party dinge het dus agterweë gebly, van die sisteme en goed wat in plek moet wees, veral as ʼn besigheid bietjie groter raak. Ek wil stilstaan en daardie goed regkry, sodat ek gereed kan wees vir verdere groei. Ek dink as jy net aanhou groei sonder om jou basis reg te hê, gaan jy in ʼn stadium begin misluk.

star-pops

Wat is die grootste besigheidsfout wat jy tot dusver gemaak het en wat het jy geleer?

Ek het al baie foute gemaak, ek is nie skaam om dit te erken nie. Nog darem niks groots wat my gesink het nie! Ek dink ook die groot ding wat ek geleer het, is dat ek bietjie naïef was aan die begin, mense op hulle woord geneem het, nie my huiswerk ordentlik gedoen het nie en toe het dinge skeefgeloop. Ek het my eerste masjien byvoorbeeld so gekoop – dit is die duurste paperweight wat ek in my lewe aangeskaf het! Jy weet, die ou het hom opgestel en toe werk alles perfek. Ons haal toe ʼn groot klomp geld uit vir die ding, sit hom in ʼn fabriek en álles gaan verkeerd. Ons het so twee maande gesukkel met die ding, toe besef ons ons gaan nêrens kom nie. En toe’t ons maar die regte ding gaan koop en die res van die geld gebruik om dit reg te kry, en toe werk dinge. Maar ons het eers staatgemaak op ʼn ou sonder om ons huiswerk te doen. Dit was ʼn duur les wat ek geleer het. Jy moet maar altyd seker maak van iets en iemand.

Hoe gaan julle te werk om nuwe kliënte te werf?

20161020_145628My direkte kliënte is die grootmaatverskaffers of die onafhanklike Cash & Carry’s – die ouens wat nie deel is van ʼn groot groep nie, maar nog steeds ʼn redelike groot winkel aan die gang het. Ek verkoop direk aan hulle, hulle verkoop dan weer aan die kleinhandelaars of smouse en húlle verkoop weer aan kinders, die eindverbruiker. So, ek bemark aan die eerste ou in daardie ketting. Aanvanklik was dit maar ek en my sakkies ysies. Dan ry jy na die ou toe, wys vir hom jou produk, vra hom of hy belangstel – totdat iemand jou ondersteun. Ek was baie gelukkig omdat een ou bereid was om my ʼn kans te gee. Ek het ook ʼn hele paar keer fisiek in ʼn winkel gaan staan om mense te oortuig om my produk uit te toets. As hulle daarvan hou, vertel hulle vir ander en sodoende is word of mouth een van my beste verkopers.

Watse raad kan jy aan die Klipkouers gee ten einde nuwe geleenthede te identifiseer?

Vir my is besigheid my passie. Dit het my ʼn rukkie geneem om dit agter te kom, want ek kon nie verstaan hoekom raak ek so vinnig verveeld met wat ek doen nie. Totdat ek besef het besigheid is die ding wat my ʼn geleentheid of uitdaging kan bied waar jy heeltyd iets anders doen, selfs in dieselfde besigheid. En vir my was dít die lekkerte –  jy moet net nie jou oë toemaak en dink ek is nou ʼn X, so ek mag net in hierdie bedryf speel nie. As jy bereid is om te leer en moeite te doen kan jy enigiets doen, so moenie jouself beperk nie. As jy ʼn geleentheid raaksien en dit val nie in jou portefeulje van sterk punte nie, gryp dit aan. Moenie jou afsluit vir geleenthede nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.