Sy toekoms wink saam met hupstoot van besonderse fonds

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Lukas Rychvalsky/Pexels)

Deur Suzette Oosthuizen

“Vandat hy gebore is het ek geweet dat daar iets besonders is aan hierdie donkerkop seun van my.  Op tweejarige ouderdom was hy reeds my anker en my rede om te oorleef in ʼn baie donker tyd in my lewe toe sy pappa oorlede is.”

Ek lees die brief en kan duidelik die liefde van ʼn ma vir haar kind lees. Dit is egter nie al nie, ek lees die storie van oorlewing, van harde werk, glo aan ʼn droom, maar ook nou iets van desperaatheid omdat al die hulpbronne opgedroog het.

“Na my man se afsterwe het die Here jare later weer vir ons ʼn pappa gegee om te help versorg en liefhê. Ek kon darem daarin slaag om ʼn werk as opsigter te kry by ʼn vakansieoord om ons inkomste te help aanvul, ons kon selfs gratis behuising daar ook kry. Dit het egter beteken dat *Sebastiaan moes koshuis toe gaan omdat die vakansieoord te ver van die skool af is.

“Sebastiaan het gou aangepas in die koshuis en is so gelukkig, hy blink uit in sy rugby en is redelik gemiddeld met sy akademiese prestasie. My man moes egter nou sy eie klein sakeonderneming, waar hy ys vervaardig, sluit weens ʼn verlies aan inkomste omdat beurtkrag sake bemoeilik. Ons moet dus nou die hartseer besluit neem om my kind uit die skool te haal aangesien ons nie meer sy koshuis kan bekostig nie. Ons bid hieroor en besef dat hierdie skrywe ons laaste hoop en poging is.

“Sal julle asseblief vir Sebastiaan kan help?”

Só sluit die mamma haar brief af. Ek lees die liefde van ʼn ma vir haar kind en ek hoor die desperate hulpkreet. Natuurlik moet ons help! Kinders is ons toekoms en ons wil vir elke kind ʼn brug na ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms in Suid-Afrika bou.

Die Bemagtig-ʼn-kind-fonds-paneel besluit eenparig om vir Sebastiaan te ondersteun om hom in staat te stel om sy maktriekjaar in sy skool en koshuis te voltooi.

Ons by Solidariteit Helpende Hand hoop dat ons hom hierna sal kan ondersteun uit die studietrust met ʼn rentevrye lening om sy droom om na matriek verder by Sol-Tech te gaan studeer te verwesenlik.

Ons beste wense vergesel jou liewe Sebastiaan!

Besoek gerus www.bemagtignkind.co.za, en vat hande met ons om nog kinders soos Sebastiaan te bemagtig.

  • Suzette Oosthuizen is die hoof van sentrums en nasionale takke by Solidariteit Helpende Hand.

*Sebestiaan is ʼn skuilnaam om die seun se identiteit te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.