T-hemp help pa om nier te kry

Rob Leibowitz en sy kinders by Walt Disney World (Foto: ANA-Washington Post)

ʼn Enkelpa van vyf, Rob Leibowitz, wat in Lawrenceville, New Jersey, woon, is al vir jare op soek na ʼn nierskenker nadat sy nier versaak het en hy derhalwe dialise moes ondergaan.

Leibowitz (60) was dankbaar vir die behandeling wat hom aan die lewe hou, maar hy moes dit vir vier uur lank, drie dae per week verdra. Dít is ʼn strawwe taak vir ʼn enkelpa van vyf wat ook voltyds moet werk.

Leibowitz se soeke na ʼn nierskenker is bemoeilik omdat sy bloedgroep O-positief is. Dié bloedgroep maak hom ʼn universele skenker, maar hy kan net skenkings ontvang van mense wat in dieselfde bloedgroep as hy is. Sy kinders kan weens mediese redes ook nie vir hom ʼn nier skenk nie.

Leibowitz was by vier verskillende hospitale in New York op die waglys vir ʼn nier, maar die wagtydperk was sewe tot 10 jaar, en hy kon nie so lank wag nie. “Jou liggaam raak elke jaar swakker,” het Leibowitz gesê.

Leibowitz het gedurende sy soeke na ʼn skenker sy lewe probeer geniet en gereeld saam met sy kinders met vakansie gegaan. Hulle het omtrent elke tweede jaar Walt Disney World toe gegaan.

Terwyl hulle die volgende vakansie na Walt Disney World beplan het, het Leibowitz met die idee vorendag gekom om ʼn hemp te dra wat vra vir ʼn nierskenker. Hy het gereken hy werk vir ʼn advertensiefirma, so hy weet hoe om ʼn boodskap aan mense oor te dra.

“Ek wou van dialise afgaan,” het hy gesê. “Ek wil nóg 25 jaar saam met my kinders deurbring. As ek een mens se aandag kon kry met die T-hemp, is dit meer as wat ek voorheen gekry het.”

Leibowitz se dogter het ʼn T-hemp ontwerp wat hulle laat druk het. Die T-hemp was ʼn eenvoudige wit hemp waarop daar voor en agter in swart geskryf is: “Benodig ʼn nier. O-positief. Bel …” Daarna  het ʼn telefoonnommer gevolg.

“Waar anders sal ek meer aandag kry as by Disney World met honderde mense wat dit elke dag besoek?” het hy gevra.

Terwyl hulle by die pretpark was, het hy gesien mense neem kennis van sy hemp. Hulle het ook foto’s daarvan geneem. Iemand het ʼn foto daarvan op Facebook geplaas, in die hoop dat dit 200 keer op sosiale media gedeel word.

Die foto is toe meer as 33 000 keer gedeel op die dag waarop dit opgelaai is, en meer as 90 000 keer teen die einde van daardie week. Binne ʼn paar dae was Leibowitz in aanraking met sowat 100 mense.

“Eensklaps kon my foon nie ophou lui nie,” het Leibowitz gesê. “Ek het geen benul gehad dat die ding so wyd verspreid en suksesvol sou wees nie.” Hy het elke boodskap, oproep en Facebook- boodskap beantwoord.

Uit al die mense wat hom genader het, was 50 van hulle ernstig daaroor om vas te stel of hulle ʼn gepaste skenker vir hom sal wees. Ná dié toetse het drie skenkers voortgegaan met verdere toetse. Ná al die nodige toetse gedoen is, was geen van die drie oorblywende mense ʼn gepaste skenker vir Leibowitz nie.

Leibowitz het later van Richie Skully gehoor, wat ook ʼn enkelpa is. Skully het ʼn 16 uur lange busrit New York toe onderneem om toetse te doen vir ʼn skenking.  Ná vier jaar van soek vir ʼn skenker, was Skully uiteindelik ʼn gepaste nierskenker vir Leibowitz.

“Ek het my kinders gebel en hulle was baie emosioneel. Dit was só ʼn gevoel van verligting en geluk.”

Leibowitz het vir Skully op ʼn toer deur New York geneem en hulle het vinnig baie goeie vriende geraak. Die operasie is op 18 Januarie voltooi en alles het vlot verloop.

“Dit is nie so ʼn groot kwessie om ʼn nier te skenk nie. As meer mense kan verstaan dat dit nie so ingrypend is nie, sal daar baie meer skenkings wees,” het Skully gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.