Taakspan voorsien 10 000 voedsame maaltye aan gestremdes

Die taakspan oorhandig die Genesis-kitsmaaltye aan SOSA. (Foto: Verskaf.)

Die Covid-19-taakspan wat deur die burgerregteorganisasie AfriForum en die familieboernetwerk Saai gestig is, het Maandag in samewerking met Laeveld Agrochem 10 000 voedsame Genesis-kitsmaaltye aan Special Olympics South Africa (SOSA) by hul hoofkantoor in Bryanston geskenk.

SOSA ondersteun hulpbehoewende gesinne met kinders wat verstandelik gestrem is, en dié maaltye is onder die gesinne versprei.

Die taakspan het die afgelope 72 uur ongeveer 200 000 maaltye onder gesinne en instellings versprei wat deur Solidariteit Helpende Hand geïdentifiseer is.

“Kinders in hul vroeë ontwikkelingsfase het hierdie voeding dringend nodig en veral gestremde kinders verstaan nie waarom hulle nou moet honger ly nie. Die kinders wat ons vandag help, is onderaan die lys wanneer dit by staatshulp kom.

Ian Cameron van AfriForum met van die 10 000 kitsmaaltye wat aan gestremde kinders, atlete en persone geskenk is. (Foto: Verskaf.)

“AfriForum kan nie toelaat dat kinders se ontwikkeling belemmer word weens die ekonomiese impak wat die regering se inperkingsmaatreëls veroorsaak nie. Die taakspan het daarom besluit om vandag meer as 10 000 voedsame kitsmaaltye aan SOSA te skenk,” het Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum, gesê.

“Ons projekte word groter en bydraes deur skenkers al hoe meer. Die taakspan werk direk met behoeftiges; ons verspreiding is deursigtig en ons hou boek daarvan. Hierdie deursigtigheid lei tot vertroue in die taakspan se werkwyse en verleen legitimiteit aan die proses,” sê Francois Rossouw, uitvoerende hoof van Saai.

“Laeveld Agrochem is dankbaar om deel van hierdie taakspan te wees deur hierdie voedsame produkte te borg aan mense wat dit regtig nodig het. Die Genesis-produk bevat al 55 noodsaaklike voedingstowwe, 12 vitamiene en vyf minerale van die daaglikse voedingsvereiste. Die voedingstowwe word stadig vrygestel, wat beteken dat dit jou vir tot ses ure versadig kan hou. Dit beteken dat hierdie gesinne se mae vol sal wees en hulle ten minste een voedsame maaltyd per dag sal hê,” sê Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur by Laeveld Agrochem.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Willem ·

Klink my Genl Ginger wil dit stop sit. Sy met haar kamoe pakkie en beret met kubaanse vlag voe vere vir haar eie mense

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.