Taaldag: Hoe lyk die wortels van Afrikaans?

Taalmonument in die Paarl. (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) vier vanjaar Taaldag, wat jaarliks op 14 Augustus herdenk word, met ʼn webinaar oor die wortels en hedendaagse gedaantes van Afrikaans.

Heindrich Wyngaard, aanbieder van die kykNET&kie-program KLOP!, kykNET Verslag en die RSG-program Kommentaar, is die gespreksleier.

Hy gesels met Michael Jonas, direkteur van die ATM, prof. Elvis Saal, asook drs. Hans du Plessis en Annelise de Vries, en Ria Olivier wat elk ʼn interessante en deurdagte bydrae oor die tema sal lewer. Die gaste wat virtueel inskakel, sal ná die gesprek die geleentheid hê om hul vrae en menings oor die gesprekstema te deel.

Du Plessis het reeds meer as 180 publikasies agter sy naam, en debuteer in 1978 as skeppende skrywer met die digbundel Kleinwild. Sy akademiese publikasies sluit taalkundehandboeke, asook taal- en letterkunde-artikels in nasionale en internasionale tydskrifte in.

Saal is ʼn medeprofessor in die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap aan die Universiteit van Suid-Afrika. Hy doseer Afrikaanstaalkunde op voorgraadse en nagraadse vlak, in die besonder sosiolinguistiek en dokumentontwerp.

De Vries is ʼn dosent in Afrikaans by Akademia en haar navorsingsfokus is toegepaste linguistiek, waaronder taalbeplanning en forensiese linguistiek val. Haar mees onlangs gepubliseerde werk is ʼn hoofstuk in die boek Language and the Law in South Africa and beyond – Language and crime: Issues in forensic linguistics.

Olivier, ʼn taalkundige en taalpraktisyn, was as lid van die Nasionale Taalliggaam vir Afrikaans (NTLA) betrokke by die totstandkoming van die Afrikaanse Taalraad, ʼn grondwetlike liggaam vir die bevordering van die taalregte van Afrikaanssprekers.

Hoewel Afrikaans nie ʼn spesifieke geboortedag of -plek het nie, word die stigting van die Genootskap van Regte Afrikaners op 14 Augustus 1875 (in wat nou die Taalmuseum in die Paarl is) as Taaldag gevier. Hierdie gebeurtenis is noemenswaardig omdat dit uiteindelik tot die erkenning van Afrikaans as amptelike taal gelei het.

Die Taaldag-webinaar vind op Zoom plaas en begin om 09:30. Belangstellendes moet teen 13 Augustus hul plek bespreek: per e-pos aan Jeffrey Pietersen na [email protected] of skakel 021 872 3441.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.