Taaldag: Wat is jou gunsteling- Afrikaanse woord?

Die Voortrekkermonument in Pretoria. (Foto: Verskaf)

Taaldag word jaarliks op 14 Augustus gevier en die Voortrekkermonument meen vanjaar is ʼn gulde geleentheid om in jou argief te gaan rondkrap en dié woorde wat jou ouma of oupa so lipleklekker gebruik het, te onthou.

Dalk glimlag jy breed oor woorde soos “klopdisselboom”, “verruklik”, “prontuit”, “vermurwe” en “piekfyn”, of miskien voel jy dat “taaipitperske”, “fynproewer” en “holderstebolder” daardie ekstra oemf in jou taal sit.

As ʼn gebruiker van Afrikaans moes jy al op unieke woorde in die taal afgekom het wat jou stomgeslaan het en nou is die tyd om dit met ander te deel. Die Voortrekkermonument wil ter viering van Taaldag by jou weet wat jou gunstelingwoord in Afrikaans is.

Sou jou woord as die beste en mees unieke woord gekies word, wen jy ʼn besonderse prys: ʼn Ontbytpiekniek vir vier mense bo-op die Voortrekkermonument se dak. Die dak is gesluit vir lede van die publiek en slegs ʼn handjievol mense kan Pretoria so asemrowend beleef.

Jy kan deelneem deur jou gunstelingwoord in Afrikaans na 34158 te SMS. ʼn SMS kos R1,50 en die kompetisie sluit 14 Augustus om middernag.

  • Die kompetisie word deur die Voortrekkermonument (VTM) aangebied. Maroela Media is nie betrokke by die kies of aankondiging van die wenners nie. Vir enige navrae hieroor skakel 012 326 6770 of stuur ‘n e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Elinette ·

Maaifoedie … is een van my gunstelingwoorde. Dit sê wat ek wil sê sonder om goedkoop of vuilbekkig te wees.

Jojo ·

Kiekie….ek gebruik net die woord as ek van fotos praat. Lief dit baaaie

Jojo ·

Laat my nou dink aan iemand wat eendag gevra het waar sy karkoere kan kry vir konfyt. Met dokter google kon ek toe agterkom hoeveel name vir hierdie vrug is..tsamma, makataan, wildewaatlemoen dieselfde eintlik. Daar is verskillende varieteite van die vrug daarom so baie name

Pietertjie ·

“Anglisisme” . Dís my gunsteling-woord. Ek moet dit dikwels gebruik.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.