Taalmonument erken diens aan Afrikaanse taalgemeenskap

Wenners van vanjaar se Neville Alexander-prestige-eerbewyse (Foto: Verskaf)

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) het op 10 Oktober tydens ʼn spoggeleentheid in die Historium Konferensiesentrum in die Paarl die wenners van vanjaar se Neville Alexander-prestige-eerbewyse aangekondig.

Gaireyah Fredericks en die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) het pryse vir die bevordering van Afrikaans ontvang. Prof. Michael le Cordeur van die Universiteit Stellenbosch is ook vir sy lewensbydrae en uitnemende diens aan die Afrikaanse taalgemeenskap vereer.

“Vanjaar se keuses was selfs moeiliker as vantevore, want ons het werklik uitstaande inskrywings gehad,” sê Michael Jonas, direkteur van die ATM. “Ons bedank almal wat genomineer is vir hul onbaatsugtige werk om Afrikaans te bevorder. Dit word nie misgekyk nie. Doe zo voort.”

Volgens Jonas is dié eerbewyse ʼn poging om erkenning aan die onbesonge helde van Afrikaans te gee en om taalprojekte te bevorder.

Fredericks, ʼn aktrise en skrywer, het verskeie inisiatiewe die lig laat sien. Dit sluit in die Moedertong-werksessies vir skeppende skryfwerk, haar formele mentorskapprogram en bevordering van die taal onder Moesliemsprekers van Afrikaans, asook pogings om jong skrywers aan literêre feeste bloot te stel. Deur haar werk in Afrikaans het Fredericks ʼn rolmodel vir baie geword en dra sy by tot die viering van die taal se skoonheid en nalatenskap.

Die SBA se missie is om geletterdheid deur Afrikaans te ontwikkel en terselfdertyd respek vir Afrikaans te bewerkstellig. Met ʼn fokus op onder meer veeltaligheid het dié organisasie die afgelope paar jaar  ʼn praktiese werksoek-sakgids in Afrikaans, Xhosa en Engels die lig laat sien, bykomende Afrikaanse leermateriaal aan skoolleerders versprei, veeltalige kinderboeke uitgegee, ʼn Mandeladag Jeugleiersforum aangebied, en voortgegaan met sy suksesvolle storieprojek, Amagama-veeltaligheidsprojek en Afrikaans Sing!-koorgeleentheid.

Le Cordeur het in sy loopbaan wat oor vier dekades strek, sy tyd en lewe daaraan gewy om Afrikaans vir almal toeganklik te maak en die taal as ʼn medium te gebruik om samehorigheid en nasiebou te bevorder. Le Cordeur het eers as Afrikaansonderwyser en later as dosent in Afrikaans en opvoeder van toekomstige Afrikaansonderwysers gewerk. Hy word ook onthou vir sy volgehoue betrokkenheid by die breë Afrikaanse landskap.

Vorige wenners sluit Suzie Matlhola, Ernest Loth, die fakulteit onderwys van die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (Wellington), Sabina Dumas, Susan Smith, Elizabeth Dennise van Schalkwyk en Woorde Open Wêrelde in.

Prof. Elvis Saal, voorsitter van die ATM-raad, het die pryse oorhandig én die gedenklesing, “Om Afrikaans te Herskep”, gelewer. Saal se lesing het gefokus op die herskep van Afrikaanse ruimtes, bevordering van Standaardafrikaans se veelsydigheid en ʼn verdere afrikanisering van die taal. Dit is gevolg deur ʼn bespreking oor “Vele Tongvalle, Een Taal – veeltaligheid in Afrikaans” met Michael Jonas, ATM-direkteur, as gesprekleier en die jong paneellede Giselle Botha, Monn-lee Geduld en William Sezoe, waarna gaste vrae aan die deelnemers kon stel.

Neville Alexander (1936-2012) was ʼn bekroonde taalkundige, aktivis, opvoedkundige en akademikus wat hom sterk vir veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika beywer het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Johannes ·

Die (feitlik) algehele afwesigheid van enige erkenning van die bydrae wat blanke Afrikaanssprekendes tot Afrikaans lewer, is opvallend. Hierdie onverkwiklikheid het veral duidelik geblyk sedert Michael Jonas die uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) geword het. Die indruk wat die ATM asook die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans (SBA) wek, is dat mense soos Neville Alexander en Adam Small die alfa en omega van Afrikaans was, terwyl hulle bydraes in werklikheid nie meer as randeiers is nie. Michael le Cordeur word bekroon terwyl hy hom ondubbelsinnig ten gunste van die verengelsing van die Universiteit Stellenbosch uitgespreek het. Myns insiens is dit suiwer op grond van ras, dus politieke oorwegings, dat instansies soos die ATM en SBA blankes grootliks uitsluit. In werklikheid is dit blankes wat die hoofbydrae tot Afrikaans gelewer het en steeds lewer. Hulle is ongetwyfeld ook die lojaalste ondersteuners van Afrikaans.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.