Taliban-moorde: ʼn Nuwe begin in geloof

Die Groenewald-gesin. Foto: Verskaf

Die Groenewald-gesin. Foto: Verskaf

Dr. Hannelie Groenewald se lewe is minder as ʼn jaar gelede lewe abrup verander toe haar gesin in hul huis in Afganistan deur ’n Taliban-moordbende uitgewis is. Sy, haar man en kinders het vir 12 jaar in die hoofstad, Kaboel, gewoon, en sy het die aanslag slegs oorleef omdat sy by die werk was en nie tuis nie waar haar man ook sy kantoor gehad het. Sy het haar geliefdes huis toe gebring en in Pretoria begrawe, en die afgelope jaar stadig begin om weer haar voete te vind.

Onlangs het sy deelgeword van die Atterbury-trust se Triomfkliniek waar sy nou elke twee weke diens lewer as algemene praktisyn.

Hannelie sê hoewel die wonde nog teer is, weet sy dat God met haar lewe ʼn doel het. “Jy weet, ek glo die Here bring niks op ’n mens se pad wat jy nie kan hanteer nie. Daar is ’n rede hoekom ek oorleef het, en ek glo ek moet my getuienis deel en uitleef. Hoewel dit baie swaar is, het ek geweldige vertroosting in die Here gevind. En wat ek hiervan oorgehou het is ’n ontsettende nou band met die Here, en ’n verdieping van my geloof, wat my daagliks dra en wat ek vir niks sal verruil nie.”

Die afgelope jaar was vir haar ʼn moeilike aanpassing. “Alles is nog steeds nie uitgesorteer nie, maar met genade van bo kom dit stadig aan. Ek het die afgelope jaar baie getuienis gelewer in kerke – hier en in Namibië en Brasilië – so ek het baie gereis. Maar toe die eerste herdenking nou op 29 November kom, het ek vir myself gesê ek gaan dit nou begin afskaal, want nou moet ek aangaan met my lewe. Ek sal nog as motiveringspreker optree as ek genooi word, maar ek wil fokus op my getuienis,” het sy gesê.

Hoewel die seer nie verby is nie, weet sy dat haar geloof haar sal dra. Sy weet ook dis die rede vir haar verlies. “Ons is geteiken omdat ons Christene is, en omdat ons die Here met hand en voet gedien het. My man was voordat ons Afghanistan toe is, predikant in NG kerk Moreletapark, en in Kaboel het hy onderrig gegee.”

Sy onthou haar tyd in Kaboel egter nie as net sleg nie. “Ek het nie voltyds as mediese dokter gepraktiseer nie, maar ek het altyd ’n spreekkamer by ons huis gehad, en daar het ek Westerse sowel as Afghaanse pasiënte gesien; tipiese spreekkamer-konsultasies, kleiner prosedures, voorskrifte en so aan. Mense daar is maar baie arm, so die behoefte is baie groot, en ek het nie ’n inkomste daaruit verdien nie. Ek moes soms selfs vir mense medisyne gee uit my eie sak. In die laaste jaar het ek gewerk by ’n Afghaanse mediese kliniek – anders as Afghaanse vrouedokters kon ek as Westerling darem manspasiënte ook behandel.”

Sy het onlangs by die Triomfkliniek begin werk nadat sy by Solidariteit se Mpumalanga-tak van die kliniek gehoor het. “Dis ideaal omdat dit my die geleentheid gee om informeel weer te begin werk en omdat dit juis gaan oor dit wat my so na aan die hart lê: naastediens, met liefde, vir mense wat dit so nodig het, maar dit nie kan bekostig nie. Mediese werk het vir my sin en gee betekenis aan my lewe.”

Sy beplan om voltyds weer in die mediese veld betrokke te raak. “Ek wil weer my voete vind in die mediese wêreld. Ek wil ook my geloof uitleef in my beroep, so ek wil werk daar waar die sekulêre en die geestelike mekaar ontmoet. Dit kry ek by die Triomfkliniek. Dit gaan ook oor uitreik na mense wat dit nie kan bekostig nie. Daar is so baie hartseer; dit maak regtig ʼn mens se oë oop vir al jou seëninge.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Grotman ·

Alle Gods genade en krag aan jou. Weet dat jou gesin by Vader is.

Arie ·

God seën jou in jou werke vorentoe. Jy weet waar jou man en kinders is, hoe gelukkig kan ñ mens wees. Sterkte vir die toekoms, sal nie altyd maklik wees nie, maar GOD voorsien en troos

Spioen ·

Ek voel jammer vir jou en jou familie. Maar het jy dalk nie besef dat daar baie Afrikaners in SA is wat jou hulp net so brood nodig soek nie? Charity starts at home. Jy is reg dat jou huis gesin gemoor was deurdat hulle christene was. Nadat jy genoem het dat jou man ‘n predikant was, se alles…miskien het hy probeer om hulle geloof te verander na christenskap en dit was ‘n GROOT NO – NO!Jy gaan nie na ‘n moslem land toe en gaan preek daar nie. Glo my as die Afghane of so te se die taliban jou wil aanval net omdat jy ‘n christen is sou hulle jou ook doodgemaak het. Sterkte vir jou

HP ·

Ek dink nie dit is in ń mens se mag om te kies waar God jou wil gebruik om sy werk te doen nie. Elke persoon is jou naaste maak nie saak waar in die wêreld jy is nie.

HP ·

Net n korreksie: God gebruik jou waar Sy wil geskied. Sterkte Hannelie en mag God jou met Sy genade, liefde en krag vul.

Rupert Ashford ·

Sterkte jy is ‘n inspirasie en voorbeeld vir ons almal. God se seen sal jou dra omdat jy Hom eerste stel in jou lewe.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.