Talle bome in Knysna-gebied geplant ná brande

Boy Sabelo en Chris Boshoff plant ‘n boom by die Pledge-natuurreservaat in Knysna. (Foto: Verskaf)

AfriForum het die afgelope maand as deel van sy jaarlikse boomplantprojek sowat 50 bome in brandgeteisterde gebiede rondom Knysna in die Wes-Kaap geplant.

Volgens Chris Boshoff, AfriForum se koördineerder vir omgewingsake, het AfriForum Donderdag nie nét inheemse bome geplant nie, maar ook uitheemse plante in die Knysna-gebied verwyder aangesien dié plante bekend staan as indringerplante. Boshoff verduidelik dat die plante vinnig brand, baie water absorbeer en volop in die gebied is.

Volgens Boshoff het kenners in die gebied tien jaar gelede gewaarsku dat uitheemse bome vinnig vlam vat. In teenstelling hiermee gebruik inheemse bome weer minder water aangesien hulle aangepas is vir die spesifieke klimaat van die gebied. Die bome is ook ’n tuiste vir voëls en die ontwikkeling van insekte.

Boshoff vertel dat 800 fynbosplante ook in die Brenton-omgewing geplant is om die endemiese fynbosspesies te rehabiliteer en die Brenton-bloutjie te beskerm. “Dié bedreigde skoenlapper leef in ’n simbiotiese verhouding met ’n spesifieke fynbosspesie, Indigofera erecta,” verduidelik Boshoff.

(Foto: Verskaf)

“AfriForum het ook ’n 2 500 l-watertenk aan die Pledge-natuurreservaat geskenk omdat hulle gewoonlik reënwater vir natleidoeleindes opgegaar het. Dié infrastruktuur is egter tydens die 2017-brande verwoes,” verduidelik Boshoff.

Nasionale Boomplantdag word jaarliks op 1 September gevier. AfriForum se boomplantprojek wy hom egter die hele Septembermaand aan die goeie doel en sluit die projek in samewerking met die Gaan Groen Knysna-groep in dié dorp op die Tuinroete af.

“Deur inheemse bome te plant, is ons nie bloot besig om die omgewing te bewaar nie, maar wys ons ook dat ons toekomshoop het. Om Suid-Afrika te laat floreer, moet ons almal ons deel doen en aanhou bou – tot voordeel van almal in die land,” sê Boshoff.

Volgens Boshoff is die jaarlikse projek omtrent ’n spanpoging. Hy vertel dat talle AfriForum-takke asook duisende vrywilligers hande neem en die hele Septembermaand lank help bome plant. ’n Allemintige 3 000 bome is vanjaar oor die hele land geplant. Boshoff vertel dat dié inisiatief “deel vorm van ’n groter poging om ’n gesonde, volhoubare omgewing vir nageslagte te verseker”.

Hy meen dat vanjaar se boomplant-inisiatief uiters suksesvol was. Hy kan egter nie die sukses aan iets spesifieks toeskryf nie. “Ons probeer elke jaar 1 000 bome plant. Oor die afgelope sewe jaar is 7 000 bome geplant, maar dié jaar is 3 000 bome geplant.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.