Talle studente wil gevorderde grade in Afrikaans doen

bcom graad studeer akademia

Argieffoto.

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is oorval met aansoeke van talle studente wat hulle meesters- en doktorsgrade in Afrikaans wil onderneem, nadat ʼn beursplan hiervoor bekendgestel is.

“Beurse tot ʼn maksimum van R120 000 vir voltydse doktorsgraad­studente en R60 000 vir meestersgraadstudente is verlede jaar vir 2016 toegeken. Vanjaar se aansoeke vir 2017 is byna verdubbel en by die sluitingsdatum (einde Augustus) is aansoeke ten bedrae van meer as R6 miljoen ontvang,” het die uitvoerende hoof van die SA Akademie, dr. Dioné Prinsloo, gesê.

Volgens dr. Prinsloo bevestig die feit dat soveel senior studente in allerlei vakrigtings van ʼn verskeidenheid universiteite in Afrikaans wil studeer, weereens die behoefte wat bestaan vir Afrikaans op universiteite.

“Universiteitbestuursrade se neiging om Afrikaans uit te sluit of af te skaal – soos vervat in die Universiteit van die Vrystaat se taalplan wat in die hoog­geregshof gestuit is – is roekeloos, kortsigtig en teenproduktief. Dit lyk of universiteite vreesagtig toegee aan die taal- en ander eise van ʼn minderheid anargisties georiënteerde studente wat geboue aan die brand steek en skade van miljoene rande aanrig,” het dr. Prinsloo gesê. Daar word vergeet van die derduisende studente wat ongesteurd wil studeer, hetsy deur medium van Afrikaans of Engels. Dit word hoog tyd dat universiteite kragdadiger teen oproerige studente optree, volgens dr. Prinsloo. “Die regering behoort hieroor ʼn sterker standpunt in te neem en universiteite in dié verband te steun.”

Die SA Akademie is verras met die getal aansoeke wat die beursbegroting ver oortref en sal poog om soveel moontlik verdienstelike studente te help. Enige Suid-Afrikaanse student kan vir die Akademie se beurse kwalifiseer. Die enigste kontraktuele vereiste is dat die uitkoms van sy of haar studie in Afrikaans moet wees.

Vakrigtings waarin studente op gevorderde vlak wil studeer, sluit die volgende in: Opvoed­kunde, Regte, Biochemie, Tale (verskeie rigtings), Beeldende Kunste, Handelswetenskappe (verskeie rigtings), Drama, Teologie, Chemiese Ingenieurswese, Geskiedenis, Filosofie, Chemie en Toerisme. Aansoeke het ingestroom van Unisa, Universiteit van Pretoria, Universiteit Stellenbosch, Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, Universiteit van Kaapstad, Universiteit van die Vrystaat, Universiteit van Johannesburg, Noordwes-Universiteit en die Sol Plaatjie Universiteit. Aansoeke om die beurse het einde Augustus gesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

John ·

Jo!… Doen so mense en hou die taal aan die kook! Fluks het nie ‘n wortel, ‘n baas of ‘n vuurhoutjie nodig nie.

wynand ·

Wonderlik wonderlik !
Dood sal hulle ons taal nie kry nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.