Talle vroue gehelp met wolborsprosteses

Renette Bateman, projekadministrateur by Helpende Hand, en Benette Welman, projekorganiseerder by Helpende Hand, by ʼn hoop van die prosteses wat aan Kansa geskenk is. (Foto: Verskaf)

Solidariteit Helpende Hand se ondersteuners brei al sedert Mei aan wolborsprosteses vir vroue wat hul borste weens borskanker verloor het en nie borsrekonstruksies of silikoonprosteses kan bekostig nie.

Oktober is borskankermaand en om bewusmaking daarvoor te skep, het Helpende Hand vandeesweek begin om al die gebreide boesems, altesaam 1 421 enkeles, na die Kankervereniging van Suid-Afrika (Kansa) se kantore landwyd te versprei, vanwaar dit aan hulpbehoewende vroue geskenk gaan word.

Helpende Hand se FroueVonds het in Mei vanjaar besluit om in samewerking met Kansa die #Boesemvriendinne-breiprojek aan te pak,” sê Benette Welman, projekorganiseerder by Solidariteit Helpende Hand en die FroueVonds. Die FroueVonds (met opset verkeerd gespel om te beklemtoon dat alles nie altyd reg verloop nie) is in 2019 binne Helpende Hand gestig om vroue te bemagtig.

“Ons het verskeie breiprojekte waaraan ondersteuners kan deelneem, want dit is ʼn manier vir mense om hul gawes en talente te benut om ʼn verskil in hul medemens se lewens te maak. Veral ons bejaardes vind waardigheid daarin om te weet hulle kan steeds ʼn verskil maak deur iets in hul eie tyd te doen waarvoor hulle lief is.

“Almal wat aan die wolborsies help brei het, het die vroue wat dit gaan ontvang, in hul gebede opgedra. Dit is moeilik om iemand op die vermoeiende pad van borskanker te sien stap. Benewens al die emosionele en geestelike op- en afdraandes wat met die siekte gepaard gaan, is dit vir ʼn vrou traumaties om haar hare én haar borste te verloor. Ons hoop dat die pad deur #Boesemvriendinne vir hulle makliker gemaak word,” sê Welman.

Tanya Rossouw en Charle Marais van Helpende Hand se Vrystaat-streek. Ondersteuners in die Vrystaat-streek het die meeste borste gebrei. (Foto: Verskaf)

ʼn Span afgevaardigdes van Helpende Hand het Dinsdag sowat 400 prosteses by Kansa se hoofkantoor in Pretoria gaan oorhandig.

Gerda Strauss, hoof van dienste by Kansa, het tydens die geleentheid gesê dit is ʼn “wonderlike voorreg” dat Helpende Hand vanjaar dié projek saam met Kansa kon aanpak. Strauss het ʼn spesiale woord van dank teenoor al die breiers uitgespreek en hulle as regte “boesemvriendinne” beskryf.

“Elke prostese wat ons aan ʼn borskankerpasiënt skenk, word opreg waardeer en herstel hierdie vroue se waardigheid. Elke borsprostese wat hier is, is ʼn gesig van ʼn pasiënt op haar pad na herstel en is gemaak deur iemand wat haar talent gebruik het om ʼn reuseverskil in ʼn ander vrou se lewe te maak,” het Strauss gesê.

Die publiek en mense wat kan brei en hekel, kan nou reeds begin om vir volgende jaar te brei of breipakkies aan te koop. Die koste van die volledige pakkie wat benodig word om ʼn stel prosteses te maak, is R60. ʼn Pakkie bevat sintetiese wol, katoen om die bors mee te vul, asook die patroon om die prostese te brei of te hekel. Hierdie pakkies word dan na enige vrywilliger of lid van die publiek wat saam wil brei, versprei.

Mense wat eerder finansieel tot die inisiatief wil bydra, kan skenkings maak by Helpendehand.co.za/donasie met BREIKANSA as verwysing.

Vir meer inligting oor die projek of om saam te brei of te hekel, stuur ʼn e-pos na [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.