Tannie Emsie se goeie maniere bly byderwets

(Foto: Verskaf)

Toe Emsie Schoeman en haar “boekie” so ʼn maand of wat gelede om ʼn etenstafel as “ouderdoos” beskryf is, was my hand onmiddellik op om te protesteer. Ek het met daardie “boekie” grootgeword en al was dit voor slimfone en sosiale media, staan tannie Emsie se Goeie maniere en etiket steeds immer-fiks-en-ferm in my boekrak. En, terloops, sy hét haar repertoire intussen aansienlik uitgebrei met digitale moets en moenies.

Daar is baie moderne definisies vir goeie maniere en etiket, maar dit kom neer op beleefdheid en sosiaal-aanvaarbare gedrag. Die Ierse skrywer, Laurence Sterne, het meer as twee eeue v.E. (voor Emsie) dit na my mening perfek bewoord: “Respect for ourselves guides our morals; respect for others guides our manners”.

Na die etenstafelgesprek het ek opnuut oor “goeie maniere” of die gebrek daaraan, gedink. Ek is onlangs nie een keer nie, maar twéé keer, deur ʼn buitelander vir ʼn sakeontbyt genooi om hom te help met die uitbreiding van sy plaaslike netwerk. Maar nie een van die twee kere het hy opgestaan om my te groet óf vir my ontbyt aangebied nie. Hoewel die rooilig na die eerste ontbyt geflikker het, het ek sy swak maniere toegeskryf aan vlugvoosheid en ʼn besige kop. Maar toe ek vir die tweede keer sy uitnodiging aanvaar en tyd maak in my werkdag maar wéér droëmond daar uitstap, het die doppie geklink. Wel, eintlik met die val, gekletter.

In skrille kontras met dié ontmoeting het ek met groot waardering en respek weggestap na twee gesprekke met dr. Imtiaz Sooliman van Gift of the Givers net voor die tragedie in Turkye en Sirië, waar sy span mediese sorg verskaf en aan soek-en-reddingsoperasies deelgeneem het. Hy het nie alleen tyd gemaak in sy geweldige besige program met 43 afsprake op één dag nie, maar ook met my aankoms opgestaan en dadelik vir my ontbyt aangebied. Tussendeur het ʼn paar waarderende Kapenaars verby ons tafel gestap om dankie te sê en vir elkeen het hy ʼn handdruk en vriendelike woord gehad.

Emsie Schoeman saam met Christi Panagio. (Foto: VIA)

Maar terug na ons etiketkoningin: Die Emsie-afskiet aan die etenstafel het my sommer weer nuuskierig gemaak en laat kyk na wat sy van tafelmaniere sê. Aangesien my (waarskynlik eerste weergawe én eerste druk) van Goeie maniere en etiket nie byderhand was nie, het Google my by ʼn stukkie in Sarie uitgebring:

“Moenie jou neus aan ʼn servet afvee, te veel alkohol drink, te stadig eet, mense in die rede val of op slegte nuus bly hamer nie. Vermy onaangename argumente en persoonlike aanmerkings soos: ‘Jy lyk moeg!’. Help die gasvrou, wees betyds – nie te vroeg nie. Trek ordentlik aan, wees ʼn goeie luisteraar, maak ordentlike bydraes, vertel kort stories, kou met ʼn toe mond, nies in jou sakdoek en wys jy geniet die ete.”

Wie kan hiermee stry, al is jy nou hóé hip, cool of woke..?

Tog wil ek net nog een reël vir tafelgedrag byvoeg: los vir tannie Emsie uit.

  • Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM. Lizma kan elke Vrydagmiddag 12h45 op Die Kwik Styg op RSG gehoor word. Sy is die aanbieder en regisseur van die reeks oor klimaatsverandering.

Meer oor die skrywer: Lizma van Zyl

Lizma van Zyl is ’n bekroonde veteraan radiojoernalis en –aanbieder met ’n meestersgraad in joernalistiek. Sy is stigterslid van die Kaapse kommersiële radiostasie, Smile 90.4FM.

Deel van: Goeie nuus, Leefstyl, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Manie ·

Begin by die begin en sit aan vir ete by ‘n gedekte tafel. Sit sommer die TV ook af dankie. Dit toon respek vir die hande wat dit voorberei het en is die beste plek vir ‘n gesin vir samesyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.