Te voet van Pta na Kaapstad: ’n Geloofsdaad vir ander

Running for Hope (Foto: Facebook via Running for hope)

Running for Hope (Foto: Facebook via Running for hope)

Drie Suid-Afrikaners het onlangs die pad van Pretoria na Kaapstad met net hul tekkies aangedurf as deel van ʼn fondsinsamelingsprojek vir die liefdadigheidsorganisasie, Home of Hope.

Jason Knoetze, Miguel Thomaz en Yorke Scott, het op 15 Junie in Pretoria weggespring om fondse vir hul projek, Running for Hope, ʼn inisiatief vir Home of Hope, in te samel.

Die groep was teen Woensdagoggend by Victoria Wes in die Karoo.

Home of Hope is in 2005 deur Eleanor Brook gestig om ʼn veilige hawe te skep vir behoeftige kinders. Die organisasie het begin as ʼn tydelike plek van veiligheid vir kinders wat deur hul gesinne agtergelaat is of wat slagoffers van mishandeling of verkragting is.

Dit het intussen ook ʼn hawe geword vir kinders met MIV/Vigs en diegene wat verslaaf is aan dwelms en alkohol. Kinders met leerprobleme en fetale alkoholspektrumsindroom word ook versorg.

Knoetze vertel Running for Hope, die sustersprojek, is gestig om fondse vir dié kinders in te samel.

“Ek is passievol oor mense en hou daarvan om ander te help en by te staan,” skryf Knoetze op Facebook. “Ek wil ʼn verskil maak en ander mense help om hul volle potensiaal te bereik.”

Thomaz sê dié projek is ʼn geloofsdaad. “Om ander te help om hul drome te bereik en die beste moontlike lewe te lei, is iets wat die Here in my hart geplaas het.”

Die drawwers het sedert Junie al meer as R15 000 vir Home of Hope ingesamel.

Hulle het al meer as 900 km afgelê en behoort voor die einde van die maand in Kaapstad aan te kom.

Besoek die Running for Hope-Facebook-blad en webwerf.

Besoek ook Home of Home se webwerf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Mariette ·

Ek wens julle 3 alle voorspoed toe, hoop julle kom veilig by jul eindbestemming! Dis ‘n groothartige daad wat nie ongesiens verby sal gaan nie…..!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.