Elf akteursagentskappe het net voor die feestyd saamgespan om 22 geskenkpakkies aan die Teaterbystandsfonds te oorhandig.
Die Teaterbystandsfonds is ʼn liefdadigheidsfonds wat vrywillig deur mense in die vermaakbedryf geadministreer word. Die fonds se doel is om akteurs wat nie meer aktief is in die vermaakbedryf nie, maar weens die aard van hul werk nie vir hulself voldoende voorsorg soos medies en pensioen kon tref nie, by te staan met onder meer maandelikse toelae, mediese en begrafniskostes.
“Hierdie tyd van die jaar word universeel beskou as familietyd en aangesien sommige veteraan akteurs alleen en sonder die warmte van ʼn familie leef, wil ʼn mens hoop skep waar dit nodig is,” het Marius Meyer, ʼn organiseerder van die projek, gesê.
Meyer is al sedert 1997 ʼn agent vir akteurs en vertel dat hy vanjaar besluit het om ʼn verskil te maak. Hy het ander agente in bedryf genader om pakkies op te maak en elf agente het vinnig ingespring om bydraes te maak.
Hy vertel dat hy al baie ellende onder die akteursgemeenskap gesien het, veral onder die ouer generasies.
Brümilda van Rensburg het verlede week die geskenke namens die agente aan die verteenwoordiger van die fonds, Gert van Niekerk, oorhandig.
Vir meer inligting oor die Teater Bystandsfonds klik hier.