Tegniese Oscar vir oud SA’ner; nog benoemings vir plaaslike flieks

‘n Skermgreep uit die video van Nicolaas Verheem se aanvaardingstoespraak.

Die Suid-Afrikaans gebore Nicolaas Verheem is tydens vanjaar se tegniese en wetenskaplike been van die Oscar-toekennings vereer vir sy sakeonderneming se baanbreker-draadlose transmissiestelsels wat ʼn sleutelrol speel in die proses van rolprente maak.

Die wetenskaplike en tegniese toekennings van die Akademie (Academy of Motion Picture Arts and Sciences) vereer enkelinge en ondernemings wie se uitvindsels op ʼn belangrike en blywende manier tot die rolprentbedryf bydra. Die virtuele prysuitdeling het op 13 Februarie plaasgevind.

Verheem (48) het die Wetenskaplike en Ingenieurswese-toekenning saam met Greg Smokler en Ilya Issenin vir die ontwikkeling van ʼn robuuste Teradek Bolt- draadlose video-oordragstelsel vir ʼn afstandsmonitor op ʼn rolprentstel ontvang.

Teradek Bolt- draadlose videostelsels stuur buitengewone HD-video op afstande tot 10 000 voet (3 048 m) sonder enige waarneembare vertraging. Die stelsel is gelaai met kragtige sagteware-instrumente, soliede draadlose werkverrigting en geïntegreerde kragopsies, en die XT-lyn skep ʼn nuwe paradigma vir videomonitering. Dit word deur filmmakers oor die hele wêreld gebruik.

Verheem is die man agter Teradek, ʼn onderneming wat hoëprestasie-video-oplossings vir uitsaai-, film- en beeldtoepassings ontwerp en vervaardig.

“Ons is geëerd om die prys van die Akademie te ontvang vir ons ontwikkeling van die Teradek Bolt. Die Bolt is geskep oor ʼn dekade van harde werk, terwyl ons meedoënloos op die kliënte gefokus het. Dit het daartoe gelei dat ons oplossing stadig bo die alternatiewe kon uitbrei en ʼn betekenisvolle en blywende impak op die bedryf kon maak,” het Verheem in sy toespraak gesê.

“Ek moet byvoeg, ons het op die skouers van reuse gestaan, nie net dié van ons kollegas in Kalifornië en Israel nie, maar ook die vele baanbreker-wetenskaplikes wat die afgelope twee eeue reeds die towerkuns van draadlose video ʼn werklikheid gemaak het.”

Volgens Verheem is daar vandag meer as 40 000 Bolt-senders en 60 000 Bolt-ontvangers in die rolprent- en uitsaaibedryf, wat gebruik word deur onder meer Steadicam-operateurs, hommeltuigvlieëniers en produksiemaatskappye. “Dit is danksy die mense wat ons tegnologie gebruik dat ons hierdie prys kan aanvaar.”

Kyk Verheem se volledige aanvaardingtoespraak hier.

Nog SA rolprente haal Oscar-kortlys

‘n Skermskoot uit die animasie kortprent “The Snail and the Whale”. (Foto: Panmacmillan.com)

Terwyl alle plaaslike rolprentliefhebbers styf duime vashou vir die drama Toorbos wat vanjaar se Oscar-kortlys gehaal het, het nog twee Suid-Afrikaanse rolprente nou ook dié lys gehaal.

Die Suid-Afrikaanse dokumentêr, My Octopus Teacher, wat reeds op die British Academy of Film and Television Arts-toekennings (Baftas) se langlys vir benoemings verskyn het, is saam met die animasierolprent The Snail and the Whale op dié lys geplaas.

The Snail and the Whale is gegrond op die Engelse kinderboekskrywer Julia Donaldson en die Duitse kinderboekillustreerder Axel Scheffler se 2003-kinderboek.

Magic Light Pictures in Engeland het die kortprent vervaardig, maar dit is in Kaapstad deur Triggerfish Animation Studios geanimeer. Fliekvlooie kan The Snail and the Whale plaaslik op Showmax kyk.

“Ons het net ʼn paar dae gelede gespog oor The Snail and the Whale se briljantheid, maar vandag is ons spoggery geregverdig. Hierdie prag-kortprent is deur die Akademie gekies as een van tien kort animasieprente wat vir vanjaar se Oscar gekortlys is. Wat ʼn merkwaardige prestasie!” lui ʼn inskrywing op Triggerfish se Facebook-blad.

Die benoemings vir die 93ste Oscar-toekenningsgeleentheid word op 15 Maart bekendgemaak. Die Oscars word vanjaar weens die Covid-19-pandemie eers op 25 Maart uitgedeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.