Teiken van 67 000 liter sop verpletter

Duisende liters sop is voorberei en aan kerke, weeshuise, halwelose mense en nie-regeringsorganisasie geskenk. (Foto: Verskaf)

Te midde van die onrus in KwaZulu-Natal en Gauteng het die organisasie Chefs with Compassion daarin geslaag om die naweek meer as 70 000 liter sop te kook en 283 588 mense ʼn koppie sop op Mandeladag te gee.

Sowat 280 deelnemers uit al die provinsies in die land het kragte saamgespan en die organisasie se doelwit van 67 000 liter sop vir die dag op dié manier heeltemal oorskry.

Sjefs het verlede jaar ingespring om sop in hul kombuise te kook vir die eerste “#67000 liter vir Mandeladagprojek” en vanjaar kon ondernemings en huiskokke ook help om sop vir begunstigdes in hulle omgewing te maak.

Spanwerk in Gauteng

Die varsproduktemark in Johannesburg het ses kratte vol blaarslaai geskenk en die Protea-hotel by Marriott en die Raddison Blu-hotel, albei by die OR Tambo- internasionale lughawe, het gehelp om dit in heerlike sop te omskep.

Die hele Raddisson Blu-span, van huishoudsters tot die hoofbestuurder, het vir ses dae lank 24 uur gewerk om 14 000 liter sop te kook, wat 56 000 mense in die suide en ooste van die Goudstad gevoed het.

Die Protea-hotel by Marriott sou aanvanklik 200 liter sop lewer maar het ʼn totaal van 6 160 liter gemaak terwyl die hotelgroep landwyd altesaam 8 172 liter vir die uitdaging ingebring het.

Noxolo Shabangu help om die sop vir die MES-projek in Johannesburg se middestad op te laai. (Foto: Verskaf)

Huiskokke

Honderde huiskokke het kleiner hoeveelhede sop vir die uitdaging gemaak.

Hilary Biller en Jenny Kay, wat geregistreer het om vyf liter te kook, het uiteindelik 50 liter na die Bramfischerville-gemeenskap geneem. ʼn Vennootskap van twee sjefvriende, Chef Trey van die Brisket & Biscuits en sjef Katlego Mlambo van die Food Network, wat kook by die HTA School of Culinary Art in Randburg, het hul beoogde bydrae van 20 liter tot 200 liter vermeerder. Dié sop is aan MES, ʼn maatskaplike ontwikkelingsorganisasie, vir hulle werk in die middestad van Johannesburg geskenk.

Overberg gevoed

Sjef Greg Henderson het waterblommetjies vir sy 4 000 liter sop geoes. (Foto: Verskaf)

Die plaaslike gemeenskap in Hermanus, Kleinmond en omliggende gebiede het daarin geslaag om net minder as 4 000 liter sop te kook uit gewasse en plante wat in die omgewing gevind is. Sjef Greg Henderson van The Wild Food Revolution and Culinary Concepts het die projek saam met twee plaaslike brouerye gelei.

Die sop, saam met 800 brode wat deur Blue Ribbon geskenk is, is aan gemeenskappe in Stanford, Hawston, Zwelihle, Caledon, Mount Pleasant, Kleinmond en Botrivier geskenk.

“Die reën het die damme gevul en ons het 1 500 kg waterblommetjies verloor met die damwal wat gebars het, maar ons het ’n plan gemaak en 200 kg waterblommetjies en 50 kg amarant by ons sop gevoeg. Sout wat met die hand geoes is, wilde vinkelsaad van verlede jaar se seisoen, en ekstra speserye van Le Merchant, asook 800 kg aartappels van Food 4 Love het ons in staat gestel het om ons volume te verhoog.

“Bo en behalwe die sop wat gekook is, het ons een ton produkte afgelewer by ’n gemeenskapskombuis in die Strand wat 2 500 kinders vyf dae per week voed en ʼn verdere 12 ton produkte is na KwaZulu-Natal gestuur,” het Henderson gesê.

Vennootskappe

Selfs die jongspan het ingespring om te help sop maak by The Railways Café in Centurion. (Foto: Verskaf)

Sjef Coo Pillay, Chefs with Compassion se nasionale projekbestuurder, het gesê die organisasie is nederig verwonderd oor almal wat by vanjaar se projek betrokke was.

Een van die merkwaardigste verhale vanjaar was die samewerking met die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging, wat meer as agt ton hoendervleis en byna 10 000 eiers van boere uit die vereniging geskenk het.

“Daar is soveel swaarkry in hierdie moeilike tyd, en as ’n bedryf wou ons hierdie Mandeladag in broederskap uitreik om diegene wat honger is, te help. Daar sal minstens vir een dag ʼn warm en voedsame, proteïenryke maaltyd wees vir elkeen van die mense wat deur hierdie inisiatief bereik word,” het Izaak Breitenbach, algemene bestuurder van die vereniging se braaikuikenorganisasie, gesê.

Drie van die grootste produsente, Astral Foods, RCL Foods en Country Bird Holdings, het mekaar uitgedaag om hoendervleis ter waarde van R67 000, of ongeveer 2,6 ton, elk te skenk. Quantum Foods het aangesluit met 67 x 10 dosyn Nulaïde-eiers, en Beckley Brothers, die pluimveeprodusent van Oos-Londen, en die KwaZulu-Natalse pluimvee-instituut in Pietermaritzburg het elkeen nog 67 dosyn eiers bygedra.

Die Gautengse eierboer Aldabri Agricultural het 67 liter vloeibare eiers en 67 bakkies elk van groot en ekstra groot eiers geskenk. Nog ʼn ton vleis is geskenk deur die Bush-Valley Chicken Farm in Tzaneen, wat verseker dat voedingsprogramme in verskeie afgeleë distrikte ook voordeel uit die inisiatief kon trek.

In Johannesburg het die Johannesburg-mark sewe ton aartappels, kool, groenbone, rape en seldery geskenk, en uitgedeel aan Chefs met Compassion se bestaande kombuise om hulle in staat te stel om massiewe hoeveelhede sop vir Mandeladag te kook.

Begunstigdes

Begunstigdes van vanjaar se #67000 liter-projek het nie-regeringsorganisasies ingesluit soos MES, kerke, weeshuise en sopkombuise asook hawelose mense.

Die toekoms van Chefs with Compassion

Die kospotte het ook in die Vrystaat behoorlik geprut vir die projek. (Foto: Verskaf)

Arnold Tanzer, voorsitter van Chefs with Compassion, het mense uitgedaag om elke dag uit te reik na behoeftige mense.

“Ons nooi elke deelnemer aan vanjaar se uitdaging uit om een keer per week vir die mense te kook wat deur honger in die gesig gestaar word.”

Chefs with Compassion is in Mei 2020 gestig in reaksie tot die toename van honger te midde van die Covid-19-pandemie. Die organisasie gebruik kos wat andersins weggegooi sou word, en sjefs en kokke wat as vrywilligers optree het reeds meer as 1,9 miljoen maaltye so bedien.

Besoek www.cwc.org.za vir meer inligting oor Chefs with Compassion.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Gee ‘n man ‘n vis en hy het ‘n maaltyd vir een dag maar leer n man visvang en hy het elke dag ‘n maaltyd.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.