Terapiehonde bring glimlagte so ver hulle gaan

Die terapiehond, Milo, ontmoet een van die jong pasiënte by ʼn Netcare-hospitaal. (Foto: TOP Dogs/Facebook)

Die gesegde lui ʼn hond is ʼn mens se beste vriend, maar TOP Dogs se tientalle terapiehonde is bewys daarvan dat dié stertswaaiende vierpotiges veel meer is en ʼn onmisbare verskil in mense se lewens maak.

Daar is toenemend erkenning vir die terapeutiese rol wat troeteldiere kan speel met betrekking tot die mens se geestesgesondheid. Verskeie navorsingstudies het bevind dat interaksie met honde voordele kan inhou vir mense wat sukkel met sielkundige probleme of stresverwante toestande.

Troeteldiere, insluitend honde, kan ook as ondersteuning dien vir mense wat trauma moet verwerk of sukkel met angs. Navorsing toon dat terapie-troeteldiere, ook bekend as emosionele ondersteuning-troeteldiere, kan help om mense se bloeddruk te verlaag, asemhalingstempo te reguleer en mense se vermoë om pyn te hanteer kan verbeter.

Dit is juis hierdie voordele wat aanleiding gegee het tot die stigting van TOP Dogs, ʼn niewinsgewende organisasie gesetel in Gauteng wat in 2008 op die been gebring is. Touch Our Pets Therapy Dogs, oftewel TOP Dogs, spits hom daarop toe om terapiehonde te gebruik om emosionele ondersteuning te bied aan verskeie persone wat daarby baat vind, van pasiënte by rehabilitasiesentrums, tot inwoners van aftree-oorde en universiteitstudente wat sukkel met eksamenstres.

TOP Dogs bied ook opvoedkundige programme aan waardeur kinders geleer word hoe om honde te hanteer, asook oor die behoeftes van honde en hoe om hulle behoorlik te versorg.

“TOP Dogs het begin met sewe staande lede en was aanvanklik net aan die Oos-Rand werksaam, maar het uitgebrei na Johannesburg en Pretoria, en sal van September ook in KwaZulu-Natal werksaam wees,” sê Ilona Kruger, president van TOP Dogs. “Vandag het ons 180 hondehanteerders in Gauteng met sowat 190 honde wat besoeke doen.”

Kruger sê omdat TOP Dogs ʼn niewinsgewende organisasie is, is al hul hanteerders vrywilligers wat hul honde en dienste beskikbaar gestel het, deur die nodige keuring en opleiding gegaan het en nou op vrywillige basis, tesame met hul voltydse beroepe, ook as hondehanteerders optree.

‘n Terapiehond hou ‘n wakende oog oor ‘n terapiesessie by ‘n die Care Cure-rehabilitasiesentrum. (Foto: TOP Dogs/Facebook)

Wat is ʼn terapiehond?

“’n Terapiehond is ʼn hond wat gebruik word om emosionele ondersteuning te bied aan verskillende mense en in verskillende omstandighede,” verduidelik Kruger. “Terapiehonde maak mense kalm, hulle laat die betrokke persoon se bloeddruk daal en hulle veroorsaak dat ‘happy’-hormone afgeskei word – hormone wat die persoon meer gelukkig en tevrede laat voel.”

Kruger verduidelik TOP Dogs se terapiehonde word by ʼn wye verskeidenheid plekke gebruik. Een hiervan is by rehabilitasiesentrums waar pasiënte fisio- en arbeidsterapie moet ontvang nadat hulle byvoorbeeld in ʼn ongeluk betrokke was.

“Die arbeidsterapeut sal ʼn program met die hond vir die pasiënt uitwerk, byvoorbeeld die pasiënt sal op ʼn balk loop met die hond langs hom. Daardie pasiënt konsentreer so op die hond wat hier langs hom loop en hom op so ʼn wyse ondersteun, dat hy nie eens agterkom hy is besig om op sy eie op ʼn balk te loop nie.”

TOP Dogs se terapiehonde bied ook kameraadskap aan inwoners van aftree-oorde wat dikwels baie alleen is, of wat hul eie honde moes agterlaat toe hulle na die aftree-oord verhuis het. “As ons die honde vat om by daardie bejaardes te gaan kuier en jy sien hoe hulle die honde vryf en die glimlag oor hul gesigte kruip … jou hart bons sommer so uit jou lyf. Dit is waaroor terapiehonde vir ons gaan,” sê Kruger.

TOP Dogs was ook verlede week vir drie dae lank by die Universiteit van Pretoria waar studente genooi is om met hierdie vierpotiges te kom kuier en sodoende ʼn bietjie van hul eksamenstres ontslae te raak. Die organisasie besoek ook kleuterskole, kinderhuise, klinieke en werk selfs in die kinderhof.

Kruger beklemtoon dat enige dier as terapietroeteldier gebruik kan word, en dat katte ook gewild is om dié funksie te verrig. TOP Dogs maak egter net van honde gebruik.

Hayley die terapiehond is te bly om die inwoner van ʼn Johannesburgse aftree-oord te groet. (Foto: TOP Dogs/Facebook)

Van vierpootvriend tot terapeut

Kruger sê enige ras hond ouer as een jaar oud kan ʼn terapiehond word, solank die hond goedgeaard is en met alle mense en ander honde oor die weg kom. Die honde word gebruik totdat hulle tien jaar oud is en daarna word elke hond individueel geëvalueer om te bepaal of hy nog in staat is om te werk. Indien nie, tree woef af en kan die hanteerder ʼn nuwe hond oplei indien hulle sou wou.

“Wanneer iemand graag hul hond as terapiehond wil aanbied, is daar ʼn keuringsproses wat gevolg word. Ons kyk na die interaksie tussen die hond en sy hanteerder en hoe die hond op die hanteerder reageer,” verduidelik Kruger. “Daarna moet die hond ses proefbesoeke suksesvol aflê om finaal toegelaat te word. Ons sal die hond na verskillende plekke toe neem om te kyk hoe die hond en sy hanteerder dit hanteer, asook om seker te maak dat die hond dit wel geniet om dit te doen.”

Kruger verduidelik dat hoewel al TOP Dogs se terapiehonde gemaklik is met alle volwassenes én kinders, is daar honde wat beter aard by sekere situasie en sekere besoek meer geniet as ander. Hulle word dus ingedeel vir die besoeke waarby hulle die meeste aanklank vind.

“Wanneer iemand versoek dat ons hulle besoek, word hulle op ʼn waglys geplaas. Ons gebruik nooit minder as vier honde nie wanneer ons ʼn plek besoek en moet dus eers seker maak dat ons genoeg hanteerders het en dan doen ons ʼn maandelikse besoek.”

Kruger sê hoewel dit nie ʼn vereiste is dat ʼn hond vooraf gehoorsaamheidsopleiding of ander formele opleiding moet hê om ʼn terapiehond te kan word nie, is dit beslis nuttig wanneer die hond reeds opgelei is om opdragte te kan uitvoer.

“Soms kry ons ook honde wat deel was van gidshond-opleiding, maar wat dan uit hierdie opleiding geval het en dan by ons kom aansluit,” sê sy. “Dit is maar baie ‘on the job training’. Die honde leer soos hulle aangaan.

“Maar ons handhaaf ten alle tye die hoogste moontlike standaarde en bly getrou aan ons visie om glimlagte te bring waar ons gaan. ‘Spreading smiles for miles’.”

As niewinsgewende organisasie is TOP Dogs afhanklik van donasies en finansiële steun van die publiek vir sy voortbestaan. Kruger sê enigiemand wat graag by die organisasie wil aansluit en meen hul hond sal goed aard as terapiehond, kan ʼn e-pos stuur na [email protected].

Besoek TOP Dogs se webtuiste vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Lizelda ·

Klop my hart sommer van voor af warm!!! Ek wens mense kan meer bewus gemaak word van hoe terapeuties ons vier voetige vriende/kinders is, dalk sal daar minder diere in skuilings of op straat wees. :-) Daar is geen lekkerder gevoel vir my om in die middae bd huis te kom en my hond Marshall wag vir my of Jerry en London die katte wat sit en asof hulle wil se: ” Is dit nou die tyd om bd huis te kom? Ons kos asb.” Troeteldiere is AWESOME.

honourable member ·

Stem saam jou Lizelda. Jy kan hoe n slegte dag op kantoor he maar as jy by die huis stop en daai lyfie sien wat so bly is om jou te sien is alles vergete. Dis die beste terapie op aarde.

mc ·

Daar is so baie eensame mense wat aan die einde van die dag selfmoord pleeg, het hulle maar so ‘n ou lyfie gehad, hetsy ‘n kat of ‘n hond of net ‘n voeltjie, het hulle rede gehad om aan te gaan. “Geen troeteldiere toegelaat” het ‘n euwel geword by die verhuring van eiendomme, dit is al bewys dat mense wat na troeteldiere kyk, in die meeste gevalle beter na huur eiendomme kyk – dis onvoorwaardelike liefde – dit sou die wereld ‘n baie beter plek maak as daar meer diereliefde bestaan het.

Lizelda ·

MC my seun werk in Atterbury Value Mart, daar stap toe n vrou in met haar Golden Retriever met n baadjie aan wat se “emotional support dog”. Toe my seun vir haar vra wat presies is die hond se taak, toe se die vrou syt erge depressie so die terapiehond help haar met haar depressie.

Johan Coetzer ·

My pa het vir n paar jaar voor sy dood in n n hoësorg eenheid gebly. Hulle was gaaf genoeg om my toe te laat om my Schnauser hondjie te neem vir kuiers by Oupa. My hart het soms gebreek as ek sien hoe oupa se gesig ophelder as hy van die hondjie se teenwoordigheid bewus geword het. Mauser moes dan opklim en by oupa op die bed sit, sodat hy behoorlik gevryf kan word. Oupa het so lekker met die hond gepraat oor die ou dae in Upington dat die hondjie sommer doodstil gesit en luister het. Alle ouetehuise en plekke wat na bejaardes omsien moet dit toelaat. Dit verlig elke ou mens se wroeging en las, veral omdat baie van hulle daar afgelaai en vergeet word, want hulle is dan nou moeite. Gaan kyk bietjie wat doen die mense in Japan met robot diere. Werklik iets besonders.

JohanL ·

Johan, baie bly om te hoor die eenheid was tegemoetkomend om jou toe te laat om jou hondjie saam na Oupa te neem.

Alhoewel Oupa die hond sekerlik geken het (en omgekeerd), is die belangrike dat klein Schnauser nie gekeur was nie. Nou kan ek aanvaar dat Top Dogs nie enige kond kan toelaat nie, maar ek wil tog ‘n stuiwer in die armbeurs gooi dat hul kriteria dink ek te streng is. Die vereiste hoeveelheid besoeke wat die hond moet kan doen, as ek reg onthou is onder andere ‘n kriteria.

Ek glo daar is vele honde met die regte temperament wat so groot bydrae kan maak, maar agv hul eienaars se werksure, net eenvoudig nie gereeld so iets kan doen nie. En dan word sulke honde “gediskwalifiseer”.

Die idee agter Top Dogs is puik, maar ek dink hulle moet net bietjie weer kyk na hul kriteria en daaroor besin.

Penellope Jones ·

My kind se hond speel ‘n ontsettende groot rol in kind se lewe.
Is daar in gelukkige tye, maar tree in in moeilike tye.
Dit sal bitter moeilik wees sonder hierdie pragtige dier, in karakter, liefde en in voorkoms.
Hy gee net liefde en verstaan uit sy hondehart uit.

Natasha ·

Dis so lekker om sulke artikels te lees – ek wens net die oue te huise wil bykom en ook toelaat dat die oumensies hulle diere kan hou – daar word soveel honde weekliks by die shelters afgelaai omdat die oumensies ou te huis toe moet gaan – en daai diere verstaan dit nie!!!! Dis nou al hoeveel keer bewys dat diere is terapeuties vir ou mense…..

Lizelda ·

Ja, Natasha dit sal die oumensies baie rede gee om elke dag op te staan en aan te gaan veral daardie mense wat so vergeet word deur hul families. Dit is waarom my bloed kook as ek by n kompleks verby ry en n GROOT bord se “No Pets/Geen troeteldiere.”

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.