Terugploeg se hulp wat werk

Die nuwe Terugploeg inisiatief onder die vaandel van die Atterbury Trust is ‘n positiewe storie van die private sektor en individue wat saamspan om minderbevoorregte gemeenskappe te help. Agter, van links: Vasti Kirchner (Vibro Bricks & Paving), Leonie du Preez, Jani Doms, Ananja Koen (almal Atterbury Trust), Herman Marx (Vibro Bricks & Paving), Lood Bester en Louis van der Watt
Voor: Mariaan Keulder (StartupClub), Zahn Hulme. (Foto: Verskaf)

Die Covid-19-pandemie het baie swaarkry voor Suid-Afrikaners se deure gelê, maar dit het ook wonderlike inisiatiewe van naasteliefde en omgee tot gevolg gehad.

Terugploeg is een so ’n idee wat nou tot sy volle reg kom. Volgens Lood Bester, medestigter van Terugploeg, het hierdie konsep ontstaan in gesprekke tussen hom en sy vriend Herman Marx van Vibro Bricks.

Bester sê toe hulle gedurende die staat van inperking bewus geraak het van die enorme kosnood in sekere Afrikaanssprekende gemeenskappe en dat daar vir hulle geen hulp beskikbaar gestel is nie, wou hulle graag help.

“Reg aan die begin het ons kos aangekoop, wat ons dan self in van hierdie gemeenskappe rondom ons versprei het. Later het ons gaan aanklop by ons boerevriende om ons idees met hulle te deel. Almal het dadelik ingestem om vir ons kos te skenk. So stuur ons byvoorbeeld deesdae een van Herman se trokke na ’n plaas toe, wat ons skenkers vol laai met tussen drie en agt ton groente of vrugte. Dit word daarna by Vibro Bricks in Pretoria afgelaai. Daar word die kos verdeel in kleiner porsies, op bakkies gelaai en verder versprei onder ouetehuise, kinderhuise en skole wat ons geïdentifiseer het, waar daar spesifiek kosnood is.”

Terugploeg is ’n netwerk van weldoeners wie se skenkings verantwoordelik bestuur word om eerstens kos te verskaf aan weerlose Afrikaanse gemeenskappe en om honger te bestry. Maar daar bestaan ook ’n groter droom – dat dit ’n volhoubare projek word wat ook werk kan verskaf aan mense uit hierdie gemeenskappe, sodat hulle weer kan hoop en droom van ’n beter toekoms. Hoop, respek, vaardighede en geleenthede is geweldig belangrik vir hulpbehoewendes.

Volgens Zahn Hulme, uitvoerende trustee van Atterbury Trust, pas die Terugploeg-inisiatief gemaklik in by die ander liefdadigheidsprojekte wat vanuit die trust bestuur word.

“’n Maand of wat nadat Lood en Herman die inisiatief van stapel gestuur het, het hulle met die Atterbury Groep se hoof uitvoerende beampte, Louis van der Watt, ooreengekom om Terugploeg vanuit Atterbury Trust te bestuur.

“Die voordeel van die verbintenis is dat die trust meer as twee dekades lange ervaring van liefdadigheidsprojekadministrasie het, asook die infrastruktuur om sulke teruggeeprojekte doeltreffend te bestuur. Ons is ook trots op ons goeie naam vir betroubaarheid en deursigtigheid.”

Terugploeg het so vinnig gegroei dat hy reeds uit sy nate bars. “Ons het gou besef dat ons ’n goed toegeruste en maklik toeganklike perseel nodig het sodat ons groot hoeveelhede kos op een slag kan ontvang, selfs verwerk, indien nodig, asook berg tot tyd en wyl ons dit wil uitdeel,” verduidelik Bester.

“Ons het agtergekom as dit kom by voedingsprogramme is die kontinuïteit van ’n bord kos elke tweede dag baie belangriker as ’n hele wavrag kos wat op een slag afgelaai word by iemand wat in ’n Wendyhuisie woon – sonder ’n koelkas. As ’n boer ’n paar beeste of bokke skenk, moet ons dit in maalvleis kan verwerk, en kan berg sodat ons dit selektief kan uitdeel waar dit nodig is.”

Faan en Dirk van der Walt, die stigters van WeBuyCars, het hierdie groot struikelblok uit die pad gerol deur agt hektaar grond in die ooste van Pretoria – teen die N4, digby die Rayton-afrit – aan Terugploeg beskikbaar te stel. “Ons kan hierdie perseel nou gratis gebruik om ’n hoofkantoor vir Terugploeg te vestig,” sê Bester.

Benewens die kosverwerkingsgeriewe en koelstoor word ’n groente- en vrugtetuin beplan, asook ’n klerebank. Bester-hulle beplan verder om braaihout daar te laat sny en verpak vir verkoop.

“Al hierdie funksies het hande nodig; om die tuine te versorg, die kos te verwerk, die klere wat ons inkry te sorteer, was en stryk, die vragte hout te verpak in braaipakke. Hiermee wil ons werk skep vir die mense uit die gemeenskappe wat ons bedien,” vertel hy opgewonde.

Verder word daar beoog om ’n lesingsaal in die gebou in te rig, waarin kursusse en praatjies aangebied kan word om skoolkinders en volwassenes te inspireer met praktiese raad en opleiding, sodat hulle ook hul eie omstandighede self kan verbeter.

Die opening van Terugploeg se nuwe geriewe word vir Mei 2021 beplan, met bouwerk wat reeds in Januarie volgende jaar afskop.

Terugploeg is formeel op 17 November 2020 in samewerking met mediavennoot GrootFM 90.5 in die Atterbury-teater bekend gestel. Die geleentheid is deur ongeveer 200 kommersiële boere, potensiële donateurs en sakelui bygewoon en aanbiedinge van ondersteuning stroom reeds in.

Hoe mense kan help

Aangesien werk aan die Terugploeg-gebou binnekort begin, sal skenkings in die vorm van konstruksiemateriaal verwelkom word. Dit sluit skenkings van bakstene en sement, roldeure, matte, lugversorgers, kombuistoerusting en vleisverwerkingsmasjinerie in. Skenkings van kontant is ook welkom.

Alle skenkings kwalifiseer vir ’n 18A-belastingsertifikaat wat deur die Atterbury Trust uitgereik word om dit belastingaftrekbaar te maak.

As jy kan help, of meer wil weet oor Terugploeg, maak kontak met Lood Bester by 082 925 1118 of Jani Doms by 076 313 7212 of stuur ’n e-pos na [email protected] of [email protected]

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Mad Mike die Rhodesiër

Dis nou daad by die woord voeg!