The Kindness Revolution: ’n Mandaat om die wêreld ’n beter plek te maak

Die Van Vuurens van Vanderbijlpark se projek, The Kindness Revolution is aanvanklik op sogenaamde “tweens” gemik, maar dit het vinnig duidelik geword dat die gehoor veel groter is. (Foto: Verskaf)

Dié is die storie van ‘n gesin wat diep delf om mense een vir een tot ware vriendelikheid oor te haal. Die Van Vuurens van Vanderbijlpark se projek, The Kindness Revolution (TKR) is aanvanklik op sogenaamde tweens gemik, maar dit het vinnig duidelik geword dat die gehoor veel groter is. Maretha Botes het meer uitgevind.

“As ‘n gesin glo ons heelhartig dat elkeen van ons ‘n mandaat het om die wêreld ‘n beter plek te maak. Ons leef, glo en is absoluut mal oor dié tipe goed,” sê Ellouise van Vuuren, ma van Lexie (12), Lily (10) en Lucy (5).

Sy en haar man, Niel, is uiters bewus van die uitdagings waarvoor kinders te staan kom, veral groepsdruk, druk van die media, en hoe sosiale media besig is om kinders se bewustheid van die realiteit te verdraai. In hul soektog na geskikte selfhelpmateriaal het Ellouise moedeloos te staan gekom voor bitter min bronne op eie bodem. En dié wat sy internasionaal in die hande kon kry, het haar byna laat stik. Eerstens oor die geweldig prysetiket aan dié middels, en tweedens omdat dit nie juis geskryf is met Suid-Afrikaanse kinders in gedagte nie.

“As verbruiker is ek ontevrede met hoe die media absoluut voed op ons kinders se onsekerhede. Die fokus is meestal op die uiterlike. Ek is moeg van die hope grimeerlesse op sosiale media vir pre-tieners, of is-jou-tande-te-geel-videos, hoe om oulike boudjies te kry, en so meer. Onsekerhede, nare maats en klieks staar pre-tieners in die gesig. Ons wou probeer om die gemors waarmee ons kinders oorweldig word, te hervorm en te herfokus. Ek wou inhoud met integriteit hê wat werklik opbou, op die innerlike fokus en wegbeweeg van die uiterlike.

Ons sit natuurlik ook met ‘n ewigdurende aanlyn- en speletjiekultuur. Ek is bevrees baie van ons kinders mis die vreugdes van om in die oomblik te leef en wat werklik hier en nou om hulle aan die gang is.

Ek vind die oorgang van kind na pre-tiener ’n bietjie hartverskeurend, want pre-tieners is op soek na ‘n meer volwasse self. Dis byna asof kindwees skielik nie meer “mag” bestaan nie. Hulle smag na iets wat hulle moes opgee, net om in te pas. Hulle kreatiwiteit wat in die eerste plek hul selfvertroue gevoed het, syfer weg.

Behalwe al dié gebabbel oor identiteit in ons kinders, is ek geweldig bekommerd oor die groot gaping tussen dié wat het en die wat nié het nie. Ek is dikwels hartseer as ek sien hoe baie ouers nie met hul kinders oor die groot ongelykhede in die wêreld gesels nie. Of kinders wat in ‘n borrel van hul geloof en ras bestaan. Ek is bekommerd oor kinders wat so bevoorreg is, dat hulle geen idee het hoe gelukkig hulle is nie. Kinders wat bloot deur hul ouers toegelaat word om blindelings in borrels van voorreg voort te bestaan sonder enige begrip van hoe swaar dit vir sommige ander kinders van dieselfde ouderdom is om bloot veilig te bestaan nie.”

Ellouise het die grootste deel van die joernaal geskryf, maar die hele gesin was betrokke om idees te gee en te laat groei. (Foto: Verskaf)

Die vonk vir TKR

Toe die drie dogters verlede jaar inskryf vir ‘n tekenkompetisie het Lexie besluit om ‘n vreemde klein figuurtjie te teken. Hoewel sy niks gewen het met haar tekening nie, was dit die begin van die TKR.

“Ek het net na die oulike dingetjie gestaar en geglimlag. The Kindness Revolution is al waaraan ek kon dink,” sê Ellouise. “Daardie klein tekening was die vonk om die projek vir ons ‘n realiteit te maak.”

Die Van Vuurens se oorspronklike plan was slegs ‘n paar oulike plakkers en ‘n 30 dae- vriendelikheidsplakkaat. Maar dié gesin se drome is veel groter en buitendien kon hulle nie dertig dae se aktiwiteite alles op een plakkaat inpas nie. Só is die TKR 30 Day Dash Journal gebore.

“Met fantastiese uitleg van Laark Design Studio het ons drie meisies die inhoud geverifieer, bygesit, weggeneem en uiteindelik die ja-knik gegee vir die joernaal.

“Om ons drie dogters op die reis saam met ons te neem, was absoluut net pret. Hulle het die vyf karakters in die veldtog geskep en ook besluit wat elkeen se doel is. Dit het die pilaar van waardes geword wat ons by jongmense wil vaslê,” sê Ellouise.

Die karakters is, Dreamer (om te droom), Brave (om dapper te wees), Wizer (om wys te wees), True (om opreg te wees en ook in jou eie waarde te glo) en Cracka (om aktief die wêreld ‘n beter plek vir almal te maak).

“Ek wil hê ons dogters moet die waarde van entrepreneurskap besef. Die beste manier om dit reg te kry, is om hulle van die begin af op die reis te neem. Hulle het nie net die karakters geskep nie, maar het ook e-posse gestuur, met ons illustreerder en ontwerper gekommunikeer, vir plaaslike afsetpunte gesoek en die kwaliteit van ons dagboek met ‘n valkoog nagegaan.

Ons het hulle ook saamgeneem fabriek toe, geleer van begrotings en bemarking. Hulle het vinnig besef hoe duur alles in die lewe is. Elke keer as ons ‘n kwotasie ontvang het, het hul monde oopgehang oor die pryse. En natuurlik was dit nog elke keer ‘n tamaai vreugde en selfvertroue-booster as hulle ‘n klaar produk in hul hande kan hou. Dit maak hulle ongelooflik trots.

Ellouise het die grootste deel van die joernaal geskryf, maar die hele gesin was betrokke om idees te gee en te laat groei. Die kinders het dele uit die dagboek gelees en gesê as hulle iets nie verstaan nie. Hulle het ook met baie van die prettige aktiwiteite en pittige sêgoed vorendag gekom.

In die hele proses het die Van Vuurens ook geleer dat “ondersteun plaaslik” eintlik merendeels ‘n oulike en “in”-hutsmerk is. Mense is steeds baie apaties in hul ondersteuning van plaaslike klein besighede.

“Dit moet verander as ons wil hê die ekonomie moet ‘n meer regverdige mark word,” sê Ellouise.

Dit het vinnig duidelik geword dat die TKR-joernaal byval by alle ouderdomme vind. Volgens Ellouise het hulle jong volwassenes wat ywerige veldtogdeelnemers is, asook mense so oud (jonk) as vyftig. Dan is daar ook ouers wat laat weet het hulle werk saam met hul vyfjariges deur die joernaal en dit is vet pret.

Vir meer inligting of om jou joernaal te bestel, kan jy gaan loer by www.thekindnessrevolution.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.