Tien universiteite dra by tot Afrikaanse debat

agenda-universiteitsdebatkompetisie-2017

‘n Debatspan in aksie tydens die 2017-aflewering van Agenda se “Dink of Sink”-universiteitsdebat. Foto: Agend/Youtube.com

Skud jou vere reg vir warm debatte, sterk opinies en goedberedeneerde argumente wanneer die lede van die Afrikaanse Gemeenskaps- en Debataksie (Agenda) binnekort weer die vloer warm praat in die Afrikaanse debatkompetisie vir universiteite.

ʼn Handjievol passievolle veteraan-debatteerders het dié onafhanklike organisasie vir die bevordering van debatsgeleenthede in 2016 geskep. Dit bied studente en skoliere die kans om oor die belangrike kwessies in Suid-Afrika en die wêreld in Afrikaans te debatteer.

Nie minder nie as 40 studente van sewe universiteite en hoëronderwysinstellings het in 2017 aan die eerste “Dink of sink”-universiteitsdebat, wat deur Agenda georganiseer is, deelgeneem.

Kwinkslae en spitsvondighede het oor en weer in die nagevorsde argumente van die spanne gespat en dit alles terwyl die spanne net ʼn uur het om voor te berei vir die debat nadat die onderwerp bekend gemaak is.

Onderwerpe soos internet-neutraliteit, suikerbelasting, privaatheid, veiligheid, rassisme, vlugtelinge, armoede, die welsynstaat en spraakvryheid is maar net ʼn paar die temas wat bedink, bepeins en bespreek word. ʼn Paneel van gesoute beoordelaars wat bestaan opvoedkunde-, regs- en taalgeleerdes het die sprekers en spanne beoordeel.

Verlede jaar het die Spanjaard-span van die Universiteit van Pretoria met die louere weggestap, maar hierdie jaar het daar reeds nagenoeg tien universiteite en tersiêre instellings met ʼn totaal van 18 debatspanne en 70 debatteerders ingeskryf.

“Elkeen van hierdie debatteerders is doelgerig om in Afrikaans die brandpuntkwessies van die dag te debatteer. Die sukses en belangstelling wat Agenda in die eerste 18 maande van die organisasie se bestaan beleef, is vir ons ʼn bewys van die vele generasies wat Afrikaans as diskoerstaal koester en wil uitbou,” het Hermann Pretorius, direkteur van Agenda, gesê.

Volgens Pretorius jeuk die organisasie om soveel moontlik vir debat in Afrikaans te vermag. “Ons bied debatwerksessies by universiteite en hoërskole aan en beoordeel ook debatskompetisies by laerskole, hoërskole en universiteite. Verder het ons ʼn aktiewe Facebook-blad, ʼn Twitter- en YouTube-rekening waar debathulpbronne, debatsinspirasie en debatspunte gepubliseer word en hier kan ʼn mens ook Agenda se onlangse en toekomstige doen en late te siene kry.

“Agenda het groot planne vir nuwe debathulpbronne en geleenthede vir nog debatskompetisies. Ons wil verseker dat Afrikaans, in ʼn tyd van probleme, ʼn nie-rassige oplossingstaal kan wees vir die nagenoeg 7 miljoen moedertaalsprekers daarvan.”

Lesers kan die studente wat met moed en mening die debatte tydens “Dink of sink 2018” gaan uitvoer, kom ondersteun.

“Kom kyk. Kom luister. Kom sien die volgende geslag se leiers in aksie – leiers met ʼn wil, vonk in die hart, vuur op die tong en ʼn vars, toekomsgerigte agenda,” het Pretorius bygevoeg.

  • Vanjaar se “Dink of sink”-universiteitsdebatkompetisie word by die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria van 5 tot 7 April aangebied. Besoek Agenda op Facebook, Twitter of YouTube vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Fanie Kemp ·

Pragtige inisiatief vir talentvolle deelnemers in ons mooi en woordryke taal.
Sterkte en mag dit van krag-tot-krag groei ter bemagtiging van ons jeug wat nog trots is op Afrikaans.

Vranet ·

Sal dit op TV gebeeldsaai word? Soos bv ANN7, SABC2,3 ens?

Werk dit nie ·

My besorgdheid is dat die Afrikaanse debat eenvoudig beperk word tot oppervlakkige speletjies op betaalkanale soos bv. KykNet .

n Werklike Afrikaanse debat word nooit op oop kanale geduld nie omrede die ANC al sedert 1994 die Afrikaanse stem snoer met hul houding van “bly stil en sit. Afrikaners moet gesien en nie gehoor word nie”. Intussen verkondig al wat marxist en liberalis is ‘n verdraaide beeld oor Afrikaans en sy geskiedenis sonder enige balans of gesprek tot die teendeel nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.