Tiener se aanlyn winkel vat hande met gemeenskap

(Foto: Verskaf)

Deur Yolanda Wessels

HandeVat is nie bloot nog ʼn aanlyn winkel nie. Dit is ʼn familie-georiënteerde gemeenskapsplatform met die doel om daadwerklik ʼn verskil in lewens te maak. Teen die agtergrond van toenemende werkloosheid en die rimpeleffek daarvan, word sakeondernemings, verskaffers en verbruikers al meer genoodsaak om buite die “boks” te dink. Die pandemie het hom verleen tot nuwe kreatiewe en oorspronklike denkwyses en die 16-jarige Wedrich Wessels het ʼn gaping vir ʼn nuutskepping gesien.

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie het Wedrich en sy gesin eensklaps dieselfde inperkingsfrustrasies beleef as miljoene ander. Weens die streng maatreëls kon hy, as leerder aan Paul Roos Gimnasium, nie sy passie as krieketspeler uitleef nie en het homself op ander maniere besig gehou. “Die dryfveer was my besorgdheid oor my medemens in nood en my passie vir liefdadigheid en entrepreneurskap. Só is ʼn nuwe geleentheid ontgin met die stigting van HandeVat – ʼn geleentheid om individue en gemeenskappe te help wat hul unieke vaardighede en kennis as tuisteskeppers wil bemark.” Deur persoonlike en ekonomiese bemagtiging kon hy help dat mense hul waardigheid herontdek. Vir ander was dit ʼn geleentheid om hul kunswerke en produkte te bevorder.

(Foto: Verskaf)

HandeVat is ʼn aanlyn winkel wat ʼn platform skep vir handelaars wat hul produkte meestal by informele markte verkoop. “Ons bied geleenthede aan skeppers van topgehalte hand- en tuisgemaakte produkte en dienste om ʼn groter mark en afset te bereik; ook met die visie om werkskepping te bevorder. Die sorg, kundigheid en persoonlike aandag wat in die skep van ons produkte gaan, verseker dat sommige produkte ʼn herinnering aan ʼn vroeëre lekkerte of nuwe gunsteling is, terwyl dit vir ander bloot goeie, unieke kwaliteit produkte is wat nie op winkelrakke beskikbaar is nie.”

HandeVat streef daarna om eksklusiewe en bekostigbare produkte van hoë gehalte te lewer. “Wanneer ʼn produk by ons bestel word, is dit nie net ʼn bestelling nie. Dit is handewerk en idees van klein- en tuis-entrepreneurs en kunstenaars om ʼn inkomste te genereer. Deur hul vindingrykheid, kennis en vaardighede kan hul nuwe en bestaande markte ontgin om sodoende menswaardigheid en gesonder ekonomiese omstandighede te bou.” Wedrich sê ons moet saamstaan en probeer terugwen wat die pandemie by soveel geneem het. “Wanneer ʼn inisiatief soos HandeVat ondersteun word, reik koper en verkoper op ʼn baie persoonlike manier na mekaar uit en spandeer tyd deur op ons aanlyn mark te kuier, te lees oor mense en hul stories in gesinne en gemeenskappe wat deur hul kreatiwiteit, handvaardigheid en passie “pronk-goed” maak en nuwe, interessante paaie inslaan.

(Foto: Verskaf)

Wedrich sê besigheid het hom nog altyd gefassineer, daarom het hy van kleins af geweet dat hy eendag sy eie besigheid wil hê. “Kleintyd het ek goedere gekoop en aan my vriende verkoop en die genoegdoening gesien wanneer hul iets kon besit wat hulle graag wil hê, maar ook hoe ek gevoel het wanneer ek hul behoeftes kon bevredig. My stiefma is betrokke by welsynswerk en ek het besef dat ek ʼn bevoorregte kind is en baie dinge maklik het in vergelyking met ander kinders.”

Wedrich het ʼn passie vir sport, veral krieket, en het besef wat dit kan doen vir iemand se menswees. “Ongeag hoe ryk of arm ʼn sport is, wen of verloor, dit bring mense en veral kinders saam. Veral vandag is ons kinders so vasgevang in tegnologie en wêreldprobleme dat ons die waarde van omgee miskyk. Ek wou graag my gevoel vir besigheid, en die drang om ʼn verskil in lewens te maak, kombineer. Ek is so jonk, sonder ondervinding, maar ek het begin eksperimenteer met als wat jy aanlyn kon doen en gekyk hoe jy op aanlyn platforms kon voordeel trek.” Hy het gesien hoe maklik dit was om produkte aanlyn te verkoop sonder dat jy dit hanteer met dropshipping. Hy het ʼn aanlyn kursus gedoen om ʼn webwerf te ontwerp, moes leer om grafiese ontwerp te doen en met ʼn paar ander aanlyn kursusse het hy begin om sy eie dropshipping-webwerwe te ontwerp. “Ek het ʼn webwerf geskryf vir ʼn tipe kamplig, dan het mense van regoor die wêreld op my dropshipping-webblad teen betaling op hulle sosiale platforms geadverteer en só het ek begin verkope doen en ʼn besigheid is gebore.”

Wedrich was toe maar nog in graad 8 in Hoërskool Paul Roos Gimnasium in Stellenbosch en het tussen sport, skoolwerk en sy besigheid baie uitdagings gehad. “Ek moes leer hoe om geld van oorsee deur die verskillende platforms om te sit in rand en in my bankrekening te kry. Ná báie navorsing, het ek op my pa se naam ʼn Amerikaanse maatskappy met ʼn Amerikaanse bankrekening geskep en toe slaan Covid-19 toe en als kom tot stilstand.” Wedrich het ʼn baie hoë graad van aandagafleibaarheidsindroom en omdat hy nie in die pandemie kon sport beoefen nie, het hy baie opgelet hoe almal onseker en depressief was toe die ekonomie tot stilstand kom. “Ek het op sosiale media gesien hoeveel mense werkloos is en selfs hoe my pa gesukkel het om sy besigheid staande te hou. Maar ek het van hom geleer dat ʼn mens nooit moet gaan lê en verskonings soek nie.” Dié twee het juis eendag gesels oor dinge wat sy pa beplan en dié het gemerk dat Wedrich bevoorreg is om vir homself te werk en sy ondervinding kan niemand wegneem nie. Daar het die vraag opgekom wat van mense gaan word wat nié so bevoorreg is nie en gewoond is aan werk en van ʼn versekerde inkomste geleef het.

“Ons Suid-Afrikaners is nie ʼn nasie wat gaan lê nie. Ek het op sosiale netwerke begin kyk na watter planne mense maak om die pot aan die kook te hou en gesien dat tientalle handgemaakte produkte die lig gesien het. Ek het ʼn paar van die mense gebel en geluister na hul stories van buite die boks dink om die pot aan die kook te hou, en toe onthou ek van my ondervinding in dropshipping, grafiese ontwerp en videoredigering. Só is HandeVat (Edms) Bpk. gebore.”

(Foto: Verskaf)

Dit was wel nie maklik aan die begin nie, want vertroue het nog ontbreek by die jong kind. “Dit het heelwat oortuiging geverg om ons eerste verskaffer te kry om vir ons voorbeelde te stuur, asook hoe ek dit gaan bemark sodat dit verkoop word. Ek het besef dat almal ʼn verhaal het en dat mense aanklank vind by ander se stories.” HandeVat is geskoei op die verkoop van stories waarmee mense kan vereenselwig. Dus ondersteun mense mekaar deur die produkte van ons mense aan te koop.

HandeVat is vol verskaffers met inspirerende verhale en dit is ook ʼn platform om dit te vertel en hul klante bewus te maak van die wonderlike produkte wat hul vervaardig. Tans gebruik HandeVat sosiale media waar mense aangemoedig word om dié platform te gebruik om hul stories te vertel. “Wanneer ʼn verskaffer vir ons sy storie gestuur het, vergesel deur ʼn voorbeeld van sy produk, neem ons foto’s en maak video-bemarkingsmateriaal. Ons plaas dit op al die sosiale platforms en moedig mense aan om die indrukwekkende stories te lees en sodoende inspireer ons mense om by ons produkte te koop en ons verskaffers te ondersteun.

HandeVat het ʼn paar sport-ambassadeurs, onder andere Josh Jordaan. Hulle het hande gevat met ʼn plaaslike kriekettoerustingvervaardiger, MK Handcrafted, en sodoende het Josh altyd goeie toerusting om mee te speel op voorwaarde dat al sy ou toerusting geskenk sal word. HandeVat is ook een van die borge by ʼn minderbevoorregte krieketklub, Spes Bona, in Cloetesville in Stellenbosch waar een van hul verskaffers kos vir elke speler tydens wedstryde verskaf. HandeVat is ook betrokke by die organisasie sonder winsbejag, Acting Hope, waar hul al verskeie uitreike saam gedoen het.

Wedrich is volgende jaar in graad 12 en wil baie graag ná skool by ʼn besigheidskool gaan studeer. “Ek weet soms nie of my punte dit sal toelaat nie, anders gaan ons HandeVat ontwikkel en groei tot ons eendag ons produkte kan verkoop, of in ons eie winkels of in bekende kettingwinkels, waar dit ons verskaffers toegang sal gee tot klante wat hul andersins nooit sou hê nie.”

Wedrich sê dat HandeVat nie net ʼn gewone aanlyn winkel is nie. “Ons doen wat ons naam sê, ons vat hande met mense wat nie so bevoorreg is om hul eie platforms of winkels te hê nie. Ons vat hande met mense wat nie oor die tegnologie of kennis beskik om bemarking te doen nie. HandeVat gee hoop aan mense wat soms net die donker tye raaksien. Ons produkte is tuisgemaak, met die hand gemaak en is aanlyn beskikbaar vir dié wat ook wil handevat en ʼn verskil maak.” ʼn Droom sonder ʼn datum, bly ʼn droom en jong Wedrich het beslis bewys dat sy droom ʼn datum het.

Besoek hul gerus by www.handevat.co.za

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.