Tiener ‘skuld’ nou byna R3 miljoen aan kinderhospitaal

Danni Messina (Foto: Facebook)

ʼn 19-jarige student sê sy het geen idee gehad dat ʼn eenvoudige plasing op Twitter só gewild sou wees nie.

Danni Messina van Washington in die VSA het ʼn eenvoudige plan gehad vir dié feesseisoen: om geld te skenk aan die St Jude-kindernavorsingshospitaal.

Sy het op Twitter verduidelik sy wil graag dié jaar ʼn skenking maak aan St Jude en die gesinne wat deur hul ongelooflike dienste ondersteun word. Vir elke ‘favorite’ van die plasing wat sy kry, het sy onderneem om $.25 (R3.38) te skenk en vir elke ‘retweet $.50 (R6.77).

Sy het egter nie die spankrag van sosiale media in gedagte gehou nie. Die plasing is nou reeds meer as 205 000 keer gedeel en 476 000 persone het van die plasing gehou. Teen Maandagaand het sy op Twitter bevestig dat sy nou altesaam $221,539.50 (ongeveer R2,99 miljoen) aan die liefdadigheidsorganisasie “skuld” en sy het reeds $172,753.00 ingesamel danksy skarefinansieringswebwerwe.

Danni het gesê haar inspirasie om ʼn skenking aan die kinderhospitaal te doen, kom nadat ʼn vriendin Danksegging in die hospitaal moes deurbring saam met ʼn gesinslid. “Ek het besef dis ʼn realiteit vir baie mense en vir baie gesinne. Hierdie kinders is in ʼn wonderlike plek. Hulle is by St Jude’s, maar hulle is ook daar vir die vakansie.”

Sy verduidelik haar vriende het aanvanklik van die Twitter-plasing gehou en dit gedeel, maar skielik het hulle vriende ook begin deelneem en daarna het duisende mense die plasing begin sien.

Sy het ʼn veldtog op die GoFundMe-skarefinansieringswebwerf begin en ʼn doelwit van $50 000 gestel. Sy het binne drie dae dié bedrag verbygesteek met behulp van die vrygewigheid van 800 mense.

“Ons waardeer die bewusmaking vir ons hospitaal wat Danni Messina en haar Twitter-veldtog verseker het,” het Richard Shadyac Jr., president en uitvoerende hoof van Alsac, namens St Jude-hospitaal, gesê. “Danni se bedoelings was eg, en alhoewel sy geleer het hoe vinnig iets op sosiale media kan versprei, het sy ons ook herinner aan die krag en noodsaaklikheid om ander persone te help en hoe aansteeklik dit kan wees in dié feesseisoen waar ons veral ons dankbaarheid wys.”

Die stigter van Alsac, Danny Thomas, het bygevoeg: “Dit sal vir my beter wees dat ʼn miljoen mense elkeen vir my ʼn dollar gee, as een persoon wat vir my ʼn miljoen dollar gee. Só was een miljoen mense betrokke.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.