Tieners ruk begraafplaas reg vir sakgeld

Marike en Eugene maak oor naweke en na skool grafte skoon vir ekstra sakgeld (Foto: Facebook)

Marike en Eugene Erasmus van Hartbeespoort in Noordwes het begin om Harties se begraafplaas skoon te maak vir ekstra geld. Marike (16) wil spaar sodat sy ʼn motor vir universiteit kan koop en Eugene (14) wil met gimnastiekklasse begin.

Die tieners se ma, Charmaine Erasmus, sê hulle ry gereeld verby die begraafplaas en het agtergekom hoe oorgroei dit is. Hulle het een dag as ʼn gesin na die begraafplaas gegaan en hulle het begin praat oor hoe hartseer dit is om te sien hoe die grafte lyk, terwyl dit iemand se geliefde is wat daar lê.

“Marike het toe gevra of daar nie iets is wat ons daaraan kan doen nie,” sê Erasmus. “Ons het bietjie navorsing op Facebook gedoen en dit het gelyk of die gemeenskap dink dis ʼn goeie idee.”

Hulle het toe die Facebook blad “Kids in Action Cemetery Care” begin om hul dienste aan te bied.

Marike wil spaar om vir haarself ‘n kar te koop met die ekstra sakgeld (Foto: Facebook)

Vir R100 per maand maak hulle elke tweede week jou geliefde se graf skoon. Dit sluit in die sny van gras, die uittrek van onkruid en die was van die grafsteen. Hulle stuur ook elke keer ʼn foto aan die families om te wys dat die graf skoon is.

Erasmus sê sy is baie trots op haar kinders en bly dat hulle soveel uit dié ervaring kan leer ook.

“Hulle leer entrepreneurskap en hoe om met mense te werk. Hulle moet self begroot en toerusting koop as dit breek. Dit leer hulle hoe om met geld te werk en hoe om te spaar.

“Maar die belangrikste is dat hulle leer hoe om met mense te werk, veral mense wat ʼn geliefde verloor het. Mense kom ontmoet hulle by die grafte en huil oor hul geliefde. Die kinders leer so deernis en dit is kosbaar, veral op so ʼn jong ouderdom.”

Marike en Eugene Erasmus maak grafte in Hartbeespoort skoon vir ekstra sakgeld (Foto: Facebook)

Erasmus sê hulle kry baie goeie terugvoer van die gemeenskap af, en dat sakeondernemings in die omgewing selfs al grafte geborg het van mense wat hulle nie eens ken nie om hul projek te ondersteun.

“Mens kan beslis al sien waar my kinders werk in die begraafplaas. Enigeen wat die begraafplaas inry, sal kan sien watter grafte hulle skoon hou,” sê Erasmus.

Vir meer inligting besoek hul Facebook-blad hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Danie ·

Dit is nou n mooi voorbeeld wat die twee kinders uitdra na ander kinders. Selfs is daar ouers wat by hulle kan leer. Hulle sal nog eendag ver kom want hulle het ambisie en is bereid om daarvoor te werk. Baie mooi julle twee.

Twopence ·

Pragtig. Al ken ek julle van geen kant, is ek sommer baie trots op julle.

Elize ·

Goeie idee. Die begrafplase lyk verskriklik sleg en dis jammer dat die mense wat daarvoor verantwoordelik is nog steeds betaling kry terwyl ander dit moet skoonhou. Eks net bekommerd oor hulle veiligheid maar andersins is dit n puik idee

Kerneels ·

Ook bekommerd oor hul veiligheid. Hier in Pretoria word mense wat hul geliefde se graf besoek, beroof.

Johan ·

Hulle is raakvatters so na my hart! Mag dit die hand uit die moue projek wees wat na hoë hoogtes gaan lei. Bereidheid om te werk is ‘n sleutel na die toekoms. Mooi so!

Mallie ·

Dis een van die redes hoekom ons trots Afrikaans is. Baie dankie julle twee.

Kobus ·

Waarom doen die munisipaliteit(e) nie hul werk nie? Waarom word hulle nie daaroor aangevat nie? Dankie aan die twee kinders vir hul goeie poging.

Susan ·

Ek is die Klub bestuurder by die gimnastiekklub in Hartbeespoortdam ( Gymnastixellence ) en het reeds met sy moeder gepraat vandag. Eugene is welkom om by ons te kom gimnastiek doen. My seun is ‘n voormalige Protea Gimnas en sal hom inskakel by sy klasse.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.