Tienie Holloway se nalatenskap gedenk

Dr. Jackie Grobler, Faan Botes, Hettie Botes en Elize Grobler by Tienie Holloway se graf in die Rebeccastraat-begraafplaas. Agter is: Barry Müller, projekorganiseerder van FAK-Kultuurnetwerke in Gauteng. (Foto: Verskaf)

Die FAK het Donderdag, 54 jaar ná Tienie Holloway, die Afrikaanse skrywer veral bekend vir haar kinderliteratuur, se afsterwe, saam met haar kleinkinders weer hulde aan haar gebring.

Dr. Jackie Grobler, bekende historikus, en sy suster, Hettie Botes (81), wat ook Holloway se oudste kleinkinders en lewende nasate is, het op die dag van hulle ouma se dood elkeen ’n blou krismisroos op haar graf in die Rebeccastraat-begraafplaas in die weste van Pretoria neergelê.

“Dit is vir ons ’n groot voorreg om te staan by die graf van ons ouma, Tienie Holloway.”

Grobler het gesê hulle ouma kon wonderlike stories vertel.

“Sy het altyd gesê moet nooit dat die waarheid tussen jou en ’n goeie storie staan nie.”

Grobler vertel hoe hy onthou dat Holloway kort voor haar dood aan sy ma gesê het dat sy soos ’n “papgetrapte kakkerlak voel”.

“Nou dít was ouma Tienie. Dis hoe sy ’n ding kon beskryf.”

Die bekroonde skrywer, Irma Joubert, is nog ’n kleinkind van Holloway. Sy kon ongelukkig nie die kranslegging bywoon nie.

As verdere eerbetoon gaan die FAK die gravering op Holloway se grafsteen, wat byna onleesbaar is, laat hergraveer. (Foto: Verskaf)

“My twee oumas het vir my stories vertel. My Afrikaans-Engelse ouma (Tienie Holloway) sprokiesverhale, my Duitse ouma (Sylva Moerdijk) verhale wat regtig gebeur het. Ek het kleintyd al besluit my een ouma vertel jokstories. Ek meen, ’n wolf wat kan praat? Rêrig?” het Joubert tong in die kies gesê.

Tienie Holloway (gebore Christina Maria Purchase, 1888‑1967) het ’n baie belangrike bydrae tot Afrikaanse kinderverse gelewer in ’n tyd toe daar ’n skaarste aan goeie leesstof vir kinders was.

Joubert vertel dat haar oupa, Gerard Moerdijk, argitek van die Voortrekkermonument, haar ouma Tienie as model gebruik het vir een van die marmerfriespanele in dié monument.

“Op paneel ses kyk my ouma Tienie toe hoe Retief as goewerneur ingehuldig word.”

Vandag is daar amper nie ’n generasie wat nie hier en daar ’n versreël of strofe uit ’n Tienie Holloway-vers onthou nie. Ongelukkig is haar bundels dun gesaai en nog net hier en daar op ’n biblioteekrak in ’n plattelandse dorp te vinde. Protea Boekhuis het pas Die beste kinderverse van Tienie Holloway uitgereik.

“Dit is ’n voorreg en eer om hulde te bring en erkenning te gee aan ’n legende soos Tienie Holloway, wat die pad gebaan het vir die vorming van ons taal en kultuur soos wat dit vandag nog bestaan en dit is wonderlik dat daar 54 jaar ná haar afsterwe weer ’n boek van haar vrygestel kon word,” het Barry Müller, projekorganiseerder van die FAK-Kultuurnetwerke, gesê

As verdere eerbetoon gaan die FAK die gravering op Holloway se grafsteen, wat byna onleesbaar is, laat hergraveer. Voor die kranslegging is Holloway se graf en haar man, Jack, se graf langsaan, ook skoongemaak.

Hettie Botes (81), Tienie Holloway se oudste kleinkind en nasaat, lê ‘n blou krismisroos op haar ouma se graf neer. (Foto: Verskaf)

Meer oor Holloway

Tienie Holloway (ver links) saam met koningin Elizabeth en prins Philip en haar man, Jack Holloway, wat in 1957 Suid-Afrika se ambassadeur in Londen was. (Foto: Verskaf)

Christina Maria (Tienie) Purchase is op 5 Desember 1888 as die derde van twaalf kinders op die plaas Kraalpunt in die distrik Lindley in die Vrystaat gebore. Haar pa, George Purchase, was die seun van ’n Engelse sendeling; hy het twee plase in die distrik, asook ’n suksesvolle wamakery besit.

Sy het aanvanklik by ’n plaasskool in die omgewing skoolgegaan, maar toe die Anglo-Boereoorlog op die punt gestaan het om uit te breek, het die gesin na Johannesburg verhuis. Weens ’n gebrek aan alternatiewe moes die Protestantse meisie die Katolieke Ursuline Convent bywoon; hier het sy uitgeblink in kunsnaaldwerk, ’n stokperdjie wat sy haar lewe lank beoefen het. Na die oorlog het die gesin teruggekeer na Lindley, maar aangesien alles op die plaas verwoes was, moes hulle noodgedwonge in ’n tent woon. Haar pa het egter daarin geslaag om ’n klein plaaslike staatskool op die plaas Chicago in die omgewing op te rig. Sy het by The Seminary in Bloemfontein gematrikuleer en later aan die Normaalkollege in Bloemfontein in die onderwys gestudeer. Daarna het sy ’n pos as kindertuinonderwyseres aan die Practising School in Bloemfontein aanvaar, waar sy ingevolge die Hertzog Onderwyswet van 1908 in Afrikaans en Engels klasgegee het.

In 1911 het sy kennis gemaak met haar toekomstige huweliksmaat, John Edward Holloway, wat toe pas by Grey Kollege aangestel is. Hulle is op 17 Desember 1913 getroud, waarna hulle dadelik na Gent in België, waar hy in die geskiedenis gestudeer het, vertrek het. Altesaam vyf kinders is uit die huwelik gebore. Toe die Eerste Wêreldoorlog uitbreek, het hulle na Engeland uitgewyk, waar hy ’n student was in geskiedenis, ekonomie en staatsadministrasie aan die London School of Economics. Na hul terugkeer na Suid-Afrika is dr. Holloway as senior lektor aan die Grey Universiteitskollege in Bloemfontein aangestel, terwyl Tienie sy inkomste aangevul het deur tydelik skool te hou. In 1919 het die gesin hulle in Pretoria gevestig, waar dr. Holloway eers senior lektor en later professor aan die Transvaalse Universiteitskollege geword het. Hy het egter later tot die staatsdiens toegetree. In 1925 het hy direkteur van sensus en statistiek geword, in 1935 die ekonomiese adviseur van die tesourie en in 1937 sekretaris van finansies. Later word hy as ambassadeur aangestel, eers in Washington van 1954 tot 1956 en toe in Londen van 1956 tot 1958. As ambassadeursvrou het Tienie ’n belangrike rol in die diplomatieke sosiale lewe vertolk. Hulle het in 1957 koningin Elizabeth en prins Philip op ’n amptelike geleentheid ontmoet.

Dit is Tienie Holloway (ver links) op een van die marmerfriestonele in die Voortrekkermonument. Sy kyk hoe Piet Retief as goeweneur ingelyf word. (Foto: Verskaf)

Tienie se oudste lewende dogter het kinderverse wat in Die Volkstem gepubliseer is, geskryf, maar toe sy oorsee vertrek het, het Tienie hierdie funksie op aandrang van die redakteur oorgeneem. Sy het eers bekende verse vertaal, maar later oorspronklike verse onder die skuilnaam Madeliefie begin skryf. Toe daar spottenderwys na haar man as Padeliefie verwys is, het sy besluit om eerder onder haar eie naam te skryf. Die temas van haar verse was gewoonlik die dinge waarin jong kinders belangstel, onder meer die kind self, die gesin, maats, die omgewing en eetgoed. Vir laerskoolkinders het sy langer gedigte geskryf, onder meer die gedig “Haasbekkies” oor tande wat uitval. Haar verse is gepubliseer in bundels soos Hasie kalbassie, Die haasbekkies, Nuwe kleuterversies, Doempie Domkop, Martha-hulle en Nuwe kinderversies. Haar verse is ook vanaf 1944 in die Lentedae-skoolleesboekreeks opgeneem.

Sy het tot voor haar dood op die kleinhoewe Skuilkrans langs die Moreletaspruit in Pretoria gewoon, en op 17 Junie 1967 is sy in die ouderdom van 78 jaar in Johannesburg oorlede. Laerskool Skuilkrans en die NG Kerk Skuilkrans daar naby, het Holloway se plaas se naam as inspirasie vir hulle name gebruik. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het haar vereer deur die Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur op inisiatief van haar man in te stel. Hierdie toekenning is vir oorspronklike Afrikaanse kinderlektuur vir kinders onder agt jaar, spesifiek gerig op kinderverse. Hierdie medalje is in 1979 postuum aan haar toegeken vir Rympies van Tienie Holloway en Versies van Tienie Holloway.

Die hedendaagse kinderboekskrywers Jaco Jacobs en Fanie Viljoen is onderskeidelik elkeen met die Tienie Holloway-medalje vir kinderliteratuur vir hulle stories vir kinders bekroon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.