Tinteltong-toekennings beklink koopkrag van Afrikaans

Francois Smit, Sanderien van der Walt, Bartho en Suné Eksteen en Nikkie Nel. (Foto: Lelanie de Beer photography/Verskaf)

Meer as 50 sakeondernemings wat die afgelope agt jaar deel van die Afrikaanse Sakenetwerk se Tinteltong-toekennings was, het Dinsdagaand in Pretoria byeengekom om dié jaarlikse geleentheid én ook die kragtige toekoms van Afrikaans as saketaal te beklink.

Die Tinteltong-toekennings word jaarliks in samehang met Internasionale Moedertaaldag gevier om innoverende Afrikaanse entrepreneurs in verskillende kategorieë te bekroon, van handelsname en kos wat Afrikaans praat tot trotse Afrikaanse produkte vir trippeltoontjies.

Sedert die ontstaan van dié inisiatief in 2016 is meer as 90 ondernemings, insluitend bekende handelsmerke soos Vannie Kaap, Magies vol Liefde, Klerekas.com, Lapa Uitgewers, Bril, Funky Ouma, Idees Vol Vrees en vele meer met ʼn Tinteltong-toekenning bekroon.

Vanjaar is daar egter besluit om eerder “reünie” te hou en vir Tinteltong-wenners en AfriForum Sakenetwerk-verbruikers van verskillende bedryfsrigtings kans te gee om opnuut bande te smee.

Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk. (Foto: Lelanie de Beer photography/Verskaf)

Waar tien of meer ondernemings gewoonlik ʼn toekenning ontvang, het die 50 genooide ondernemings ʼn spesiale herdenkingstoekenning ontvang vir die rol wat hulle in Afrikaans se koopkrag speel.

“Ons wou hierdie jaar bietjie anders aanpak en stilstaan, om terug te kyk na die ongelooflike reis waarop ons as die AfriForum Sakenetwerk die afgelope agt jaar saam met entrepreneurs kon gaan, en terselfdertyd met opwinding vorentoe kyk en die ongelooglike manier waarop hulle elke dag Afrikaans as saketaal sterker maak, vier,” meen Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

Die bekroonde wynmaker Bartho Eksteen en sy vrou, Suné, is egter vanjaar bekroon met ’n ere-Tinteltong vir die kreatiewe wyse waarop Afrikaans in hul onderneming vervleg word.

Eksteen was die eerste wynmaker van Hermanuspietersfontein, en het ʼn rol gespeel in dié wynreeks se keurige Afrikaanse name.

Die bekroonde wynmaker Bartho Eksteen en sy vrou, Suné, is vanjaar bekroon met ’n ere-Tinteltong. (Foto: Lelanie de Beer photography/Verskaf)

“Ek doen nie wat ek doen vir erkenning of prestasie nie, maar bloot omdat dit teen my grein sou wees om besigheid op enige ander wyse aan te pak. Afrikaans is deel van my siel en menswees. Dis die taal waarin ek bid, lag en vloek, en dis net ʼn voorreg om beloon te word omdat ek my passie daarin uitleef,” het Eksteen aan Maroela Media vertel.

Sy advies aan ander entrepreneurs is om in hulself te glo, hul navorsing deeglik te doen en bloot skouer aan die wiel te sit. “As mense my vra hoe voel dit om wynmaak as ʼn beroep te volg, dan sê ek dis nie ʼn beroep nie, dis my passie.”

Hy het ook as gasspreker by die geleentheid opgetree en beaam dat Afrikaans goed ingespan kan word as bron van inkomste omdat dit volgens hom ’n nismark is waarvan toeriste nie genoeg kan kry nie.

“Wat vir my die mooiste deel van vanaand is, is dat 90% van die entrepreneurs wat hier geëer word jongmense is, so die taal is in goeie hande.”

Sakenetwerk trek binnekort nuwe baadjie aan

Die AfriForum Sakenetwerk is ʼn unieke gebruikersgids waarop Afrikaanse (of Engelse ondernemings wat hul dienste of produkte óók in dié taal kan aanbied) gelys word.

Die Tinteltong-toekennings vereer Afrikaanse entrepreneurs. (Foto: Lelanie de Beer photography/Verskaf)

Daar is tans meer as 20 000 sakeondernemings deel van dié gids, en volgens Van der Walt gaan dit binnekort ʼn nuwe baadjie aantrek om “vinniger, moderner, meer interaktief én innoverend te wees”.

Benewens die Tinteltong-toekennings bied die AfriForum Sakenetwerk jaarliks ook unieke netwerk- en blootstellingsgeleenthede aan, ʼn entrepreneur van die jaar-kompetisie waar groot kontantpryse op die spel is, sowel as die gewilde Besigheidsbytjie-entrepreneurskompetisie vir skoliere.

“AfriForum Sakenetwerk se doel is en was nog altyd om besighede wat deel is van ons netwerk te dien, vereer en bymekaar te bring, en wanneer dit gebeur, is dit ’n wonderlike gevoel,” voeg Van der Walt by.

Só sê voormalige wenners oor hul Tinteltong-toekennings

. Rianca en Johan Jansen van Vuuren, eienaars van Klerekas.com het in 2019, skaars agt maande ná hul onderneming se ontstaan, die Tinteltong vir nuweling van die jaar gewen. “Ons is albei baie lief vir ons taal en is passievol daaroor om ’n toekoms vir Afrikaans te verseker. Dis wonderlik om te weet dat ons, asook die ander rolspelers in die bedryf, saam aan ’n toekoms vir Afrikaans bou. Dit gee ons soveel hoop vir ons taal,” het Johan destyds gesê.

. Die trots en uiters suksesvolle “Afrikaapse”-handelsmerk Vannie Kaap is in 2022 met die Tinteltong-toekenning vir eg Afrikaanse produk bekroon, en volgens dié onderneming se mede-eienaar, Marc Jacobs, was hulle uiters trots en oorweldig om dié toekenning te ontvang. “Ek dink dis ʼn baie goeie inisiatief en geleenthede soos hierdie is broodnodig, want dit beteken mense sien dit wat ons as kleiner besighede doen, raak.”

. Zoë Burger, die dinamiese eienaar van Kuif & Baard, ʼn barbier in Pretoria, spog nou met twee Tinteltong-toekennings. Sy is in 2022 vereer met die Tinteltong-toekenning vir kreatiefste Afrikaanse handelsnaam, en het in 2020 weggestap met die Tinteltong vir goeie diens in Afrikaans. “Hierdie toekenning het sedert 2020 soveel blootstelling vir my onderneming gebied. Ek is ʼn versamelaar, so, ek wil nou ʼn hele rak vol Tinteltong-toekennings hê,” skerts sy.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.