ToekomsVenster: Dié wat op die Here wag

wag-uitkyk-berg-wolke-man

(Foto: Joshua Earle/Unsplash)

Maar die wat op die Here wag, sal hulle krag hernu; hulle sal met vleuels optrek soos arende; hulle sal hardloop en nie moeg word nie; en hulle sal wandel en nie flou word nie. – Jesaja 40:31

Op die Here wag, sê die teks. Wag vra geduld, vertroue, dissipline en oorgawe.

Dit is die soort wag waarvan ons lees in die getuienis van Nightbirde, die vrou met kanker wat by America’s Got Talent opgetree het.

Sy het egter veel meer as dit gedoen. Sy het aan medegelowiges die vrymoedigheid gegee om met God te worstel, eerlik, opreg en sonder om doekies om te draai.

Dit is die soort mens wat nuwe krag ontvang.

Hoor hier wat sy skryf:

“Noem my vervloek, noem my verlore, noem my minagtend. Maar dit is nie al nie. Noem my uitverkore, geseënd, gesog. Noem my die een aan wie God sy geheime fluister. Dit is ek wie se buik gevul is met brode van genade wat vir my verborge was.

“Selfs op dae wat ek nie so siek is nie, gaan lê ek soms in die middaglig op die mat om na Hom te luister. Ek weet dit klink mal, en ek kan dit nie regtig verklaar nie, maar God is daar – selfs nou nog. Ek het gehoor daar word gesê dat sommige mense God nie kan sien nie, want hulle sal nie laag genoeg kyk nie, en dit is waar.

“As jy hom nie kan sien nie, kyk laer. God is op die badkamervloer”.

Sy sê: “God is op die badkamervloer”. Dit is die ontmoetingsplek, eerder as die katedrale en kerkbanke. Daar waar dit stukkend is en mense nie bang is om Hom daarvan te vertel nie.

Uiteindelik getuig Nightbirde: “Dit is belangrik dat almal weet dat ek soveel meer is as die slegte dinge wat met my gebeur.”

Sy het ook gesê: “Jy kan nie wag totdat die lewe nie meer moeilik is voordat jy besluit om gelukkig te wees nie”.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.