ToekomsVenster: In die spieël van sy Woord

spieelbeeld_water_stiltetyd_pixabay.jpg

(Foto: Pixabay)

Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek, sodat die man wat in diens van God staan, volkome voorberei en toegerus sal wees vir elke goeie werk. – 2 Tim.3:16-17

Geen mens kan die lewe van die geloof lewe sonder ʼn liefde en fokus op die Woord nie. God het dit goedgedink om vir ons ʼn rigsnoer vir leer en lewe na te laat.

Die Bybel is die Koninkryk van God se grondwet. Dit bepaal die verhouding tussen die Koning en sy onderdane. Daardie verhouding word deur liefde gekenmerk. Dit is ʼn diensverhouding waarin die burgers hul lewens neerlê vir mekaar en vir ander.

Sonder die Woord egter kan dit nie gebeur nie. Die Woord het groot waarheid om te onderrig, te bestry, reg te stel en te kweek. Daarmee word die ritmes van die geloofslewe weergegee. Dit is op grond van die Woord van God dat ons verneem wat sy goeie wil mag wees.

In die spieël van sy Woord word ons bewus van ons eie tekortkominge en word ons oortuig van sonde, oordeel en geregtigheid. Dit wat verkeerd is in ons lewens word in lyn met God se wil vir ons lewens gebring terwyl die Heilige Gees ons lei en begelei in ons toewyding en gehoorsaamheid aan die Here.

Elke mens staan in diens van God, dit is sonder uitsondering waar. Ten einde ons dienswerk na behore en tot verheerliking van sy Naam te verrig moet ons terdeë kennis neem van wat die Woord sê, trouens, ons moet die Woord en die Gees wat deur die Woord werk toelaat om ons daagliks te vernuwe.

Só groei ons in heiligmaking en geloof. Toegerus en bekwaam vir die goeie dade waartoe God ons roep.

  • ToekomsVenster is ʼn daaglikse boodskap om individuele gelowiges toe te rus met praktiese geloofsvaardighede. Kleingroep-begeleidings, DVD’s en funksionele preeksketse is beskikbaar by Drienie ([email protected]) of besoek www.toekomsvenster.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.