Toer die wynlande op Franschhoek se trem

Leon en Petronel Fourie by die Franschhoek se wyntrem. (Foto verskaf)

Franschhoek se skilderagtige vallei is ʼn bestemming wat elke Suid-Afrikaner eenvoudig vir sy skoonheid móét besoek. Voeg daarby ʼn ouwêreldse wyntrem wat jou met ʼn vrolike fluit van die een historiese wynplaas na die ander karwei, en jy het ʼn onverbeterlike ervaring wat op jou wag.

Wanneer jy die trem bestyg, betree jy ʼn ander wêreld. Die tremroetes ry deur verskillende dele van die Franshhoek-vallei en met die rooster byderhand kan jy na hartelus op- of afklim om wyn te proe, deur kelders te toer, in ʼn restaurant te boer of tussen die wingerde deur te sloer.

Franschhoek, wat deesdae as Suid-Afrika se spys-en-drank-hoofkwartier bekendstaan, is beroemd daarvoor dat die wyn en die gedagtes hiér vrylik vloei. Soveel te meer wanneer jy ʼn dag opsy sit en jou sit op die Franschhoek-wyntrem kry. Glasie in die hand, wind in die hare, lied in die hart baan jy jou weg deur die wonderskone Franschhoek-vallei, van een wynplaas na die ander, op jou stukke tussen die slukke.

Die spore waarop die trem loop is oorspronklik in 1904 gelê as alternatief vir die ossewaens waarmee boere hul produkte by die mark moes kry. Stoomlokomotiewe het vir baie jare op die spoor getjoekepaf, totdat dieselenjins in die 1970’s oorgeneem het. Namate spoorvervoer afgeneem het, het die treinspoor in onbruik geraak en sedert die 1990’s koud en eensaam gelê en vergaan. In 2012 is dit uiteindelik afgestof en opgeknap, sodat die wyntrem besoekers flink, vinnig en veilig by wynplase kon besorg.

Die dubbeldekker-trem met sy groot vensters en oop dek bied ʼn ongeëwenaarde uitsig oor die pragtige vallei. Geen mens sal dit ooit in sy kar aanskou nie. Op sy vinnigste ry die trem 32 km per uur – niks word afgejaag op dié toer nie. Dit neem jou van Babylonstoren se gul tuine en Boschendal se beeste na Anura se heerlike kaas en Vrede en Lust se asemrowende uitsigte.

(Foto verskaf)

Die trem se gasheer vertel jou meer van die omgewing en sy geskiedenis. Franschhoek se wortels lê in Frankryk. In die 1600’s, toe die Katolieke die Protestante ernstig vervolg het, het meer as 200 000 van hierdie Protestante uit die land gevlug, baie van hulle na Nederland. Omdat die Kaap ʼn Nederlandse kolonie was, is ʼn klomp van die Franse hierheen gestuur om ʼn nuwe lewe te begin.

Nege van hierdie Hugenote-families het Franschhoek, of ‘Olifantshoek’, soos dit toe genoem is danksy die trop olifante wat die area bewoon het, hul nuwe tuiste gemaak. Die Hugenote het die Franse tradisie en kennis van wynmakery saam gebring en die Franschhoek-vallei in die paradys wat dit vandag is, verander. Topgehalte wyn lok besoekers van oor die wêreld heen na die wonderskone wynplase. Dié ryk erfenis is oral in die vallei te sien en te proe.

Dit het my inderdaad ook uit my Gautengse gemaksone na die skilderagtige suide van ons land gelok. So betree ek en manlief ook die trem vol verwagting op ʼn sonnige Saterdagoggend. Die ervaring laat my byna liries. Van plomp rooiwyne tot elegante witwyne – en nog talle ander proesels met beskrywings wat ek nie onder normale omstandighede aan kos sou koppel nie – spoel oor my tong tydens ons wyntrem-toer.

Maar daar is immers niks normaal aan so ʼn toer deur Franschhoek se wynlande nie. Inteendeel. Alles wat vir ʼn Gautenger alledaags en normaal is, word op sy kop gekeer. Ek proe anders, praat anders, en dink naderhand skoon anders oor die lewe.

(Foto verskaf)

Dié ervaring bied beslis veel meer as oor ʼn oordaad van wyn. Want kom ons wees maar eerlik, hoe verder terug in die verlede jou studentedae vervaag, hoe minder wyn kan jou gestel hanteer. Of so het ek terdeë besef op dié dag. Want al verlustig ek my in Vrede en Lust se vlagskiprooi, en al bly Boschendal se wyne bobaas, moes ons die trem teen 13:30 vaarwel roep, ter wille van ʼn middagslapie.

Nadat die wyntrem ons weer veilig by ons kar besorg en met sy vrolike fluit afskeid geneem het, groet ons die vallei met genoegdoening. Ons neem ʼn paar bottels uit Franschhoek se wingerde terug noorde toe – ʼn slukkie nektar om ons na dié stukkie paradys terug te voer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.