
Die toergidse verken die trekroetetuin saam met Barry Müller, die projekleier van die trekroetetuin. (Foto: verskaf).
Die Voortrekkermonument het onlangs ʼn paar Suid-Afrikaanse toergidse beïndruk met die opknapping van hul bekende trekroetetuin.
Dié tuin betower besoekers al sedert 1963, maar het onlangs ʼn nuwe baadjie aangetrek. Die befaamde tuin het op 9 Desember verlede jaar amptelik sy spreekwoordelike deure weer oopgemaak.
In hierdie fokustuin word die roetes van die Groot Trek se vyf Voortrekkerleiers – Louis Trichardt, Hendrik Potgieter, Gerrit Maritz, Piet Retief en Piet Uys – aangedui.
Roe-Hetta Ras, ʼn toergids verbonde aan die Instituut vir Professionele Toergidse van Suider-Afrika, kon nie uitgepraat raak oor die ervaring wat sy by die monument se eerste trekroetetuin-opleidingsessie gehad het nie.
“Dit het my asem weggeslaan. Ek kan nie glo die roetes is hier en dit is so oulik gedoen nie.”
Ras, Brenda Paro en Heidi Lehodey het die tuin onder leiding van Barry Müller, die projekleier van die trekroetetuin, verken en hulle kon nie uitgepraat raak oor hoe goed die geskiedenis van die Voortrekkerleiers uitgebeeld word nie.
Die monument het die afgelope paar maande ’n omvattende opknappingsprojek aangepak. Die projek sluit onder meer die restourasie van die vyf Voortrekkerroetes wat in die vyftigerjare aan die oostekant van die monument uitgelê is, in.
Die tuin spog nou met inligtingsborde oor die Voortrekkers en replikas van historiese monumente wat op die trekleiers se roetes opgerig is. Dié replikas sluit onder andere die Bloukransmonument, die Geloftekerk en die Kaalvoetvroumonument in.
“Ek sal sommer my vriendin en haar man van die Kaap af nooi dat ek hulle deur die tuin kan vat. Dit is werklik oulik gedoen. Dit is ’n wonderlike toevoeging tot die monument se toerisme-aanbod en visueel baie goed uitgelê,” het Lehodey gesê.
O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.
2 Kommentare
Altyd ‘n trotse voorreg om by die Voortrekkermonument te kom
Wat ‘n voorreg om nou onlangs weer die Monument te beleef. Daar was egter min toeriste en dit was ‘n Saterdag.. Asb mense ondersteun die Monument ek het dinge vir die 1ste keer raakgesien wat seker voorheen daar was maar dit het nou vir my meer betekenis en dit is regtig nie duur nie. .