Toets jou kennis in dié Afrikaanse geskiedenisolimpiade

(Foto: verskaf)

Is jy iemand wat geskiedenisfeite op die punte van jou vingers ken? Dalk is jy juis dié een saam met wie ander wil speel, of jou dalk eerder nie as teenstander wil hê as daar ’n vasvrakompetisie oor geskiedenis is nie.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) bied eersdaags sy Internasionale Afrikaanse Geskiedenisolimpiade vir laer- en hoërskole landwyd aan. Dit is hier waar jy jou kennis oor die plaaslike geskiedenis behoorlik kan toets.

Vanjaar se tema word verbind aan die Pionierstydperk (1652 tot 1820) en die Groot Trek-tydperk (1820 tot 1845). Die klem val op Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Die geskiedenisolimpiade vir hoërskole sal uit twee rondtes bestaan. Die eerste rondte, wat op 2 Augustus plaasvind, behels ’n aanlyn-multikeuse-vraestel, wat onder meer vrae sal bevat oor idiome uit die Groot Trek, algemene inligting, monumente, erfenisterreine en belangrike persone uit hierdie tydperk, asook Westerse geskiedkundige gebeurtenisse wat tussen 1820 en 1845 plaasgevind het.

Diegene wat deurdring na die tweede rondte, wat op 9 September plaasvind, kry spesifieke onderwerpe oor die Groot Trek-tydperk en sal daarna ʼn opstel moet skryf met ’n standpuntstelling, beredenering en algemene kennis wat getoets word. Om deur te dring na die tweede rondte moet ’n kandidaat minstens 80% in die eerste rondte behaal.

Laerskoolleerlinge van gr. 4 tot 7 sal ’n aanlyn toets op 16 Augustus skryf. Hulle sal weer ’n e-publikasie oor die Pionierstydperk (1652 tot 1820) as navorsingsbron tot hulle beskikking hê.

Deelnemers kan nou reeds by www.projekte.co.za vir die olimpiade inskryf.

Daar is kontantpryse vir die wenners op die spel en alle deelnemers sal ’n deelnamesertifikaat ontvang. Die wenskole ontvang tussen R5 000 en R10 000 se kontant en ’n FAK-Wisseltrofee vir geskiedenis.

Alle navrae kan gerig word aan [email protected] of per WhatsApp by 083 460 6017.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.