Tolhuis pryk weer in Montagu-pas soos voorheen

Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, by die herboude Tolhuis naby George. (Foto: Verskaf)

Die herboude Tolhuis en waenhuis in die Montagu-pas net buite George is vroeër die week feestelik vir die publiek oopgestel.

Gerda Stols, voorsitter van die Vriende van die Tolhuis, sê die waenhuis bring nuwe geleenthede om vir besoekers en veral jong mense die geskiedenis van die bergpas en die rol van die ossewa as transportmiddel te toon.

Die fondamente van die Tolhuis is in 1845 gelê. Transportwaens, wat goedere en lewensmiddele oor die Montagu-pas na die binneland moes vervoer, kon hier eers uitspan, koffie drink en tolgeld betaal. In 1971 is die Tolhuis tot ’n nasionale gedenkwaardigheid verklaar, maar ná 1994 het verwaarlosing begin intree. Onder leiding van Stols en haar oorlede man het hulle begin om die geskiedenis van die Tolhuis na te vors. Hulle het die groep Vriende van die Tolhuis gestig met die doel dat die gemeenskap verantwoordelikheid neem vir dié kultuurhistoriese erfenis. Sedert 2011 het ’n handjievol mense begin met restourasiewerk aan die Tolhuis.

In 2014 het die FAK gehelp met die herstel van die rietplafon en om ’n pragtige transportwa vir die tolhuis te bekom. In 2018 is die tolhuis binne minute deur ’n bergbrand verwoes.

Stols sê ná die verwoestende brand was die FAK dadelik weer bereid om te help met die skenking van ’n nuwe rietdak vir die Tolhuis.

“Soos met die vorige restourasieprojek het die gemeenskap van George hulle harte en hande oopgemaak om weer alles te skenk wat nodig was vir die heropbou. Die betrokkenheid van die FAK kan nie genoeg beklemtoon word nie. Behalwe donasies is hulle ook aktief besig met inspirasie en meelewing aan hierdie formidabele projek.”

Vriende van die Tolhuis saam met hulle voorsitter, Gerda Stols, en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK. (Foto: Verskaf)

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK, het die inwydingseremonie dié week bygewoon.

“Gerda en die Vriende van die Tolhuis het nie in sak en as tussen die puinhope gaan sit nie,” het Langner gesê. “Nog voordat die klippe afgekoel het, is die eerste pannekoekverkoping vir die herboufonds gereël. Hulle het opgeruim en skoongemaak, bouplanne opgetrek, skenkings gesoek en nuut gedroom oor die plek se potensiaal.

“Dit is wat probleemoplossers en toekomsskeppers doen. Hulle wag nie. Hulle staan op en begin bou. Alles in geloof. Vandag is die Tolhuis selfs nog mooier gerestoureer as voor die brand. Boonop is ’n splinternuwe waenhuis gebou. Dit was ’n voorreg vir die FAK om tydens ’n pragtige kultuuraand vir die Vriende van die Tolhuis erkenning te gee vir hulle opstaan en bou. Dit inspireer.”

Ziegfried van Huyssteen, adjunkhoof van die FAK, het aan elke Vriend van die Tolhuis ’n sertifikaat oorhandig om vir hulle dankie te sê vir hul bydrae tot die opbou van die Tolhuis en waenhuis.

Stols en haar man, Johan, in lewe ’n kultuurhistorikus, het in 1999 saam gedroom om dié verwaarloosde ou geboutjie te herstel. Toe Johan skielik in 2006 in ’n motorongeluk dood is, het sy min moed gehad om aan te gaan met die projek.

Vriende het haar egter aangemoedig en in 2008 het sy die Vriende van die Tolhuis in die lewe geroep.

Die transportwa binne die waenhuis. (Foto: Verskaf)

Die Tolhuis is tydens die konstruksie van die Montagu-pas tussen 1844 en 1847 opgerig. Sy oorspronklike grasdak is in ’n brand in 1855 vernietig en met sinkplaat vervang. Die Vriende het die gebou tot sy 1880-weergawe gerestoureer. Die restourasie het so vlot verloop vandat die Vriende in 2011 toestemming gekry het om daarmee te begin dat die FAK hulle drie jaar later met ’n toekenning vir buitengewone kulturele prestasie vereer het.

“Met die erkenning van die FAK het ons uiteindelik gevoel iemand sien raak wat ons doen en dit het ons aangespoor om nog meer te doen. Die Tolhuis het toe meubels nodig gehad en vriende het begin om hul ekstra goedjies vir ons te bruikleen. Later het kosbare erfstukke van verskeie skenkers asook van my eie versameling bygekom en het dit ’n heel huislike atmosfeer gehad. Ons het besluit om Saterdae pannekoek en koffie te verkoop, want die bedryfskoste om die terrein skoon en versorg te hou, die aankope van kruideniersware en alles het begin ophoop. Omdat ons net as ’n niewinsgewende organisasie geregistreer is, kon ons slegs donasies vra,” vertel Stols.

’n Klein waenhuisie het etlike maande voor die verwoestende brand in 2018 sy ontstaan gehad ná die verkryging van ’n kapkar en ook die bruikleen van ’n pragtige transportwa aan die begin van 2019 deur die Erfenisstigting. Danksy die FAK is dié wa na die Tolhuis vervoer.

Volgens Stols het die waenhuisie “ongelooflik niks brandskade opgedoen nie”. Die transportwa was ook ten tye van die brand veilig in die Outeniqua Transnet-museum gestoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Stefan

Ek waardeer jul moeite baie maar die tolhuis staan op so’n afgeleë en verlate plek dat ek wonder hoe julle dit gaan oppas.
Daar loop baie vernielsugtige mense daar rond.

Colombo

Hierdie vereniging is voorwaar n voorbeeld van wat bereik kan word as Afrikaners saamstaan.Hou aan met die goeie werk!