Fees ’n baken van hoop vir toneel, jeug

“Adamtog” se plakkaat. (Foto: Verskaf)

Dit was “’n geskiedkundige dag” toe ʼn aantal uitsoek tienertoneelproduksies mekaar die afgelope naweek die stryd aangesê het op die verhoog in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument.

Die FAK-Allegretto-toneelfees hou elke jaar ’n kompetisie waarin die beste tienertoneelproduksies van hoërskole regoor die land meeding vir die FAK-Fakkel-wisseltrofee en heelwat ander pryse.

Vyf produksies uit ʼn ingeskrewe 49 toneelproduksies het in die eindstryd meegeding. Dié vyf was Hoërskool Noordheuwel in Krugersdorp se twee produksies, Movies vir Ava en Vier vingers, Helpmekaar Kollege in Johannesburg se Vlieërs en Hoërskool Hugenote in Springs aan die Oos-Rand se Ademtog en Jy. Vrou.

Vanjaar se beoordelaars, Phillru van Achterbergh, Reynard Slabbert, Bertha le Roux en Schalk Schoombee, moes behoorlik kopkrap om die wenners en wenproduksies aan te wys.

Soos Van Achterbergh, sanger, liedjieskrywer en akteur, gesê het: “Teater het aangegaan te midde van Covid-19. Daar is hoop vir toneel in ons land en vir ons jeug.”

Vier vingers, geskryf deur Nico Scheepers, is vanjaar as die beste tienertoneel aangewys, Jy. Vrou het die tweede plek behaal en Vlieërs die derde plek.

Die vyf akteurs in Vier vingers was Danielle Evans, Estia Scheepers, Karli Marais, Clarissa Conradie en Ruben Tolmay, leerlinge aan Hoërskool Noordheuwel.

Die toneelstuk handel daaroor dat die waarheid relatief is. Daar is my waarheid, jou waarheid… en die ware waarheid.

Die twee akteurs in “Vier vingers” is Karli Marais en Ruben Tolmay, leerlinge aan die Hoërskool Noordheuwel. (Foto: Verskaf)

Vier vingers het ook ʼn sertifikaat ontvang vir nuutgeskrewe teks en beste choreografie.

Kobus van der Schyff-Smal, organiseerder van dié toneelfees, het gesê vanjaar se tienertoneelproduksies was van die boonste rakke. “Met ʼn virus wat hulle in die oë staar het hulle uitgeblink en die verhoog aan die brand gespeel. Dit was vir my ʼn wonderlike gevoel en hoendervleiservaring om die eerste keer tienertoneelproduksies se stem te hoor in die Voortrekkermonument.

“Ons wil dankie sê dat die FAK hierdie studente die kans gee om hulle passie uit te leef op die verhoog. Die vier weke van toneelstreekfeeste het ons en ons beoordelaars se monde laat oophang met aanskouing van die talent. Elke jaar groei die fees en ons hoop om volgende jaar weer die fakkel in tienertoneel te wees.”

Van der Schyff-Small het vanjaar ook die regie behartig van Hoërskool Hugenote se produksies. Hy en Bertie Luus is as die beste regisseur vir Jy. Vrou aangewys. Jy. Vrou is as die beste komedie/musiekspel aangewys.

Dié skool se Ashlin de Lange is as die beste aktrise bekroon. Dié produksie het ook die toekenning vir beste grimering gekry. Dié stuk handel oor vroueregte in 1951.

In “Ademtog” is die akteurs: Dillan Bach as Dawid en Marioné Muller as sy ma, Sandra. (Foto: Verskaf)

Ademtog het ook sertifikate ontvang vir grimering en beste dekor en inkleding.

Zoë Labuschagne, leerling aan die Hoërskool Noordheuwel, het in die eenvrouvertoning, “Movies vir Ava”, opgetree. (Foto: Verskaf)

Vlieërs het’n sertifikaat ontvang vir die beste plakkaat en beste klanksamestelling. Dié stuk met Zonika de Vries en Vian Singleton in die rolverdeling handel oor twee mense wat op ʼn lugmagbasis grootgeword het. Hulle staan bekend as die Langebaan “fighter pilots”, waar hulle tussen vliegtuie en windkouse speel.

Movies vir Ava het ʼn sertifikaat ontvang vir beste tegniese versorging en Monja van Heerden is aangewys as beste verhoogbestuurder vir dié produksie.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en Voortrekkermonument, sê die FAK-Allegretto-tienertoneelfees was puik. “Daar is jong diepte en ’n groot toekoms vir Afrikaanse toneel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.