Toneelgeselskap van ‘Die Gelofte’ kuier by monument

Die toneelgeselskap van ‘Die Gelofte’ kuier by die Voortrekkermonument. (Foto: Verskaf)

Op 6 Mei vanjaar sal die splinternuwe musiekblyspel Die Gelofte vir die eerste keer op die planke te siene wees.

Ter voorbereiding van die geskiedkundige gebeurtenis, het dié toneelgeselskap ’n draai by die Voortrekkermonument gaan maak om hulself behoorlik van die geskiedenis te vergewis.

Die geselskap is met ope arms ontvang en dr. Danie Langner, besturende direkteur van die FAK en die Voortrekkermonument, het sy lyf toerleier gehou tydens die besoek.

“Ek kan nie wag vir die musiekblyspel nie. Ek dink dit gaan ongelooflik wees,” het Langner gesê.

Die geselskap het tydens die besoek die kleurvolle stories en waardevolle, geskiedkundige skatte geniet.

Johan Vorster, wat die rol van Sarel Cilliers vertolk, was verwonderd oor Grietjie, die kanon wat by die Slag van Bloedrivier gebruik is.

“Dis baie spesiaal om vandag hier te wees en ’n dieper waardering vir die geskiedenis te kry. Dis tyd dat die Afrikaner weet waar hulle vandaan kom en dat ons voorsate volkome op die Here vertrou het. Die toneel maak 200 jaar se geskiedenis lewend en toepaslik,” het Vorster gesê.

Nadia Beukes, bekend ook vir haar rolle in produksies soos Ons vir jou en Tree aan vertel dat die projek haar na aan die hart lê.

“Dis ’n groot voorreg om deel van hierdie projek te wees. Die geskiedenis word op so ʼn mooi manier ten toon gestel wat ons voorsate se deursettingsvermoë en geloof wys,” sê Beukes.

Na afloop van die toer het die geselskap heerlike jaffels by die Voortrekkermonument se eie restaurant, Skool op Wiele, geniet.

  • Die Gelofte sal van 6 tot 29 Mei vanjaar op die planke wees, en kaartjies daarvoor kan hier aangeskaf word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Danelle

Klink interresant, maar ek het probeer ingaan waar dit se jy kan ingaan om kaartjies te koop, maar dan kom n boodskap op wat se die webwerf bestaan nie……..Kan julle dalk help asb>