Tonne patats vir honger kinders en oues ná geil oes

Patats-4.jpg

Herman Kloppers, bestuurder van die Helpende Hand Gemeenskapsentrum in Derdepoort saam met Dewald du Plessis wat sy vragmotor beskikbaar gestel het. (Foto: Helpende Hand)

’n Bielie van ’n skenking van 13 ton patats aan Solidariteit Helpende Hand het verseker dat honderde behoeftige kleuters en bejaardes minstens vir die volgende paar aande nie honger hoef te gaan slaap nie.

Hierdie skenking wat van die Lama-Pibe Stoetery op Groblersdal afkomstig is, is die gevolg van ’n besonder goeie oes nadat die boerdery ’n kontrak met die maatskappy McCain aangegaan het vir 70 ton patats per hektaar. Hulle het egter ’n opbrengs van 110 ton gekry en dus ’n reuse-oorskot gehad, sê Hannes Noëth, uitvoerende direkteur van Helpende Hand.

“Twee vrywilligers het hul vragmotors beskikbaar gestel, die sowat 350 km afgelê en die patats gaan oplaai.

“Die vrag het Maandag by die Derdepoort Gemeenskapsentrum in Pretoria aangekom vanwaar dit na kleuterskole, ouetehuise en versorgingsentrums versprei is.”

Herman Kloppers, bestuurder van die Derdepoort Gemeenskapsentrum, skat dat hierdie berg pasella patats se verkoopwaarde nagenoeg R52 000 is.

Patats-1.jpg

Herman Klopper van Helpende Hand saam met ’n vrywilliger wat kom help het met die aflaai. (Foto: Helpende Hand)

“Die vragmotors het gistermiddag [Maandagmiddag] om 15:00 met vragte van onderskeidelik 8 ton en 5 ton hier aangekom en ons pak steeds met behulp van vrywilligers uit,” het hy laat Dinsdagoggend laat weet.

“Nou word die patats met behulp van drie bakkies en ’n minibus onder behoeftiges versprei.

“Dit is reusepatats. Party is so groot soos my kop,” vertel hy verwonderd.

Kloppers sê enige kosskenking is welkom by die gemeenskapsentrum.

“Dit wat ons nie by die gemeenskapsentrum gebruik nie, versprei ons in die gemeenskap. Ons het 50 skoolkinders in ons naskoolsentrum en beplan ook ’n kleuterskool. Daarbenewens het ons met ’n projek begin om ongehude moeders te help hoe om hulle babas te versorg en hulle op moederskap voor te berei. Ons maak ook babaklere bymekaar.”

Kloppers sê hulle het verlede week ’n skenking van 1,5 ton lemoene ontvang van ’n boer wat naamloos wil bly.

“Ons is ook dankbaar vir gereelde skenkings van Fournos Bakkery wat ons ondersteun. Hulle skenk alle brood wat nie aan die einde van die dag verkoop is nie aan ons, wat ons dan gaan afhaal. Dit is varser as vars.”

Voedsame kos soos groente en vrugte sal ook verwelkom word.

Abrie Botha, bestuurder van die La-Mapibe Stoetery, sê hulle bedryf eintlik ’n stoetboerdery, maar het vanjaar vir die eerste keer besluit om patats te plant.

Hy skryf die puik oes aan onder meer water en goeie bestuur toe.

Hy skat dat hulle al 120 ton patats weggegee het.

“Daar staan juis nou weer bakkies van Helpende Hand hier wat patats na Roossenekal toe neem.

“Die eienaar sê ons is geseënd met ’n goeie oes, dus gee ons in oorvloed.”

Patats-2.jpg

Hier is Sameul, Stefan Pieterse, Hannes Noëth en Herman Klopper hard aan die werk om die patats afgelaai te kry. (Foto: Helpende Hand)

Hierdie reuseskenking volg nadat Helpende Hand hierdie week die uitslae van ’n navorsingverslag wat Helpende Hand by by 52 kleuterskole oor hongersnood onder Afrikaanse kleuters gedoen het, bekend gemaak het.  Daar is bevind dat sowat 85% van behoeftige Afrikaanse kleuters ná ʼn naweek honger by hulle kleuterskole opdaag terwyl 35% van die kleuters elke weeksoggend honger by die skool opdaag.

Hierdie kleuterskole is deel van Helpende Hand se voedingsprogramme wat reeds vir 4 800 kleuters sorg.

ʼn Gemiddeld van 24% van die kleuters by dié kleuterskole kry vermoedelik nie saans kos nie en ly dus honger.

“Dit terwyl meer as 40% van hierdie kleuterskole nie kan bekostig om meer as een maaltyd vir die kleuters op ʼn dag te bied nie,” het Ernst Vorster, adjunk- uitvoerende hoof van kommunikasie by Helpende Hand, gesê.

Margolé Riekert, die projekorganiseerder van Helpende Hand se Kosblikkie-voedingsprogram, het gesê die program het reeds aansoeke van 93 kleuterskole ontvang wat vir sowat 12 000 kleuters sorg.

Só kan lesers help:

Jy kan betrokke raak, ʼn bord kos vir kleuters borg, en Helpende Hand só help om 1,5 miljoen etes vir 8 000 kleuters landwyd te voorsien.

SMS die woord STOP na 38969 en skenk ʼn bord kos vir ʼn honger kleuter. Die SMS kos R10.

Besoek ook Stophonger.co.za waar jy meer oor dié projek van Helpende Hand kan uitvind. Onder aan die webwerf is daar meer besonderhede oor die verskillende opsies van hoe jy hierdie projek kan ondersteun.

Dit is ook belangrik om vrywilligers te kry wat bereid is om die skenkings te versprei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Wonder net ·

Dit is ‘n baie mooi gebaar van die betrokke boerdery.
Om die patats te verpak en na die markte in Pta en Jhb te skuif is nie altyd die oplossing nie. Verpakking, vervoer en markkoste alles vir jou rekening, dan bly daar nie iets oor nie.
Gee weg dis lekerrrr!!!
Helpende Hand dankie ook vir julle onbaatsugtige diens.
Ek wonder net hoeveel mense kan regtig nie kos bekostig nie en hoeveel gee liewers geld uit op onnodige items, die kinders kry mos kos by Helpende Hand.
As hulle so behoefgtig is kry hulle sekerlik kindertoelaag. Ek weet dit is min maar word die geld werklik vir die kinders gebruik of word dit spandeer op sigarette, drank, lugtyd en data of DSTV?
Soms moet ouers en kinders geleer word om dit wat hulle wel het sinvol te gebruik.
Ek klink nou veroordelend maar dit is nie die geval nie. Kry ander maklik jammer en probeer help maar trap ook soms ‘n lelike stel af bv. Help eenkeer ‘n mamma wat nie geld het om vir haar 3 jaar seuntjie kos te koop nie net om haar ‘n paar dae later met ligstrepe in die hare te sien. Geld verkeerd spandeer.

Marie ·

Jy sien miskien die paar vrot appels,maar glo my daar is honger daar buite onder wit,swart,watter kleur ookal.Gee vir die mense wat die naaste aan jou is,dan as iets oorbly aan almal wat dit nodig het.

Humbug ·

Marie ek stem saam daar is n paar vrot appels wat bedel maar nog meer wat werklik honger is. Dit kom uit eie ondervinding. As dit nie vir ons groente oom n paar jaar terug was nie sou my kind nie kon eet nie. Vandag nie om eie gewin nie help ek waar ek kan en om te weet iemand veral n onskuldige kind kan eet maak dit die moeite werd. Eendag gaan daai vrot appels besef mense sien en is niw stupid nie dan word nie kraantjie toegedraai en hul vra hoekom. Well done aan die boer en helpende hande en almal wat help.

Magaretha van heerden ·

Wat n wonderlike skenking. Lekker en maklik. Kook met skil en al Werk lekker in mikrogolf Steek gaatjies in skil en maak dit nat Die skil trek dan net af Dit hou ook lank By my meer as n week as ek dit nie alles gaar maak nie.

Dankie ·

Kinders hou van patatslapchips met kaneelsuiker
en bietjie sout wonderlik dankie vir skenking.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.