Kikker jou drafskoene op vir ʼn goeie saak

tekkie-tax-2017

Vanjaar se spoggerige nuwe skoenveters en krale vir die Tekkie Tax-veldtog. Foto: Esté Meyer Jansen.

Het jy al jou tekkies afgestof en die jongste paar Tekkie Tax-veters aangeskaf om jou drafskoene vir ʼn goeie doel op te tower?

Tekkie Tax vind weer hierdie Vrydag (26 Mei) plaas en dit is ʼn kans vir alle Suid-Afrikaners om vir so min as R10 ʼn bydrae te maak tot ʼn welsynsorganisasie van hul keuse. Vanjaar kan jy boonop jou helderkleurige skoenveters nóg verder versier met ʼn paar kraletjies.

Dié nasionale geldinsamelingsprojek het in 2013 ontstaan en raak elke jaar gewilder. Sowat 12 welsynsorganisasies trek voordeel uit die projek waarvoor daar al oor die afgelope paar jaar R22 miljoen ingesamel is.

“Jy kan ʼn Tekkie Tax-plakker vir R10 koop of ʼn paar prettige skoenveters vir R35 aanskaf, wat ʼn plakker insluit. Verder het jy die keuse om jou geld vir jou hartsaak te gee, hetsy dit diere, kinders, persone met gestremdhede of onderrig- en opleidingsentrums is,” het Annelise de Jager, stigter van die projek, gesê.

“Tekkie Tax is nou ’n gevestigde deel van die Suid-Afrikaanse liefdadigheidskalender. Die veldtog word goed bestuur en daar kan verantwoording gedoen vir elke sent wat geskenk word. Dit is die manier waarop geld ingesamel behoort te word: waarde word tot mense en diere se lewens toegevoeg terwyl almal hope pret het,” het De Jager bygevoeg.

Besoek Tekkie Tax se webwerf om uit te vind watter welsynsorganisasies finansieel deur die veldtog ondersteun word.

So, waarvoor wag jy? Dra jou plakker met trots en tooi hierdie Vrydag jou drafskoene volgens jou persoonlike smaak op, alles ten bate van ʼn welsynsorganisasie wat jou na aan die hart lê.

Plakkers en skoenveters kan by deelnemende welsynsorganisasies, Clicks, Toys R Us of Babies R Us aangekoop word, of direk bestel word deur ʼn e-pos aan [email protected] te stuur.

  • Luister boaan hierdie berig na Esté Meyer Jansen se onderhoud met Annelise de Jager en Germa Hattingh van Tekkie Tax om nog meer oor vanjaar se geldinsamelingsveldtog uit te vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Lee ·

Klaar gekoop. Dis baie oulike veters. Het sommer by hulle kantore in Centurion T-hemde ook gekoop. Kom mense ondersteun hulle!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.