Aan die woord is Ashton Moran van die Hoërskool Framesby in Port Elizabeth in die Oos-Kaap, wat met nie minder as agt onderskeidings spog nie.
Ashton het A’s behaal in Afrikaans, Engels, wiskunde, fisiese wetenskappe, lewenswetenskappe, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp en lewensoriëntering.
Hy gaan vanjaar chemiese ingenieurswese by Maties of BSc (biochemie, chemie en mikrobiologie) aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit (NMMU) studeer.
Ashton skryf sy sukses toe aan harde werk en volgehoue ondersteuning van sy vriende en familie. Hy het nie ’n spesifieke rolmodel nie en bestempel homself as iemand wat toegewyd en doelgerig is, maar ook hardkoppig kan wees.
Ek is nederig oor my prestasies en stel hoë eise aan myself. Ek glo ook om eerder teen myself as ander mense mee te ding.
Sy lewensfilosofie is om oor niks spyt te wees nie. Sy belangstellings is visvang, gholf en skaak, waarin hy in die A-liga op skoolvlak deelgeneem het.
Hy was verlede jaar die beste akademiese leerling in gr 12. Hy het ook aan die eindronde van die ATKV se redenaarskompetisie in 2010 en 2011 deelgeneem. Ashton was ook die stigter en voorsitter van Framesby se ATKV-jeugtak, Sweepslag.
Hy is die seun van Daran, ’n takbestuurder van CBM Networks, en Adri, ’n tuisteskepper. Hy het ’n sussie, Ashlynn, wat nog op laerskool is.