Topmatrieks: Darren spog met nege A’s

Darren Maree

Darren Maree

Darren Maree glo nie aan ʼn kortpad tot sukses nie.

Doelwitte, opoffering en harde werk het verseker dat Darren, verlede jaar se onderhoofseun van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, nou kan spog met nie minder nie as nege onderskeidings in die matriekeindeksamen.

Hy het A’s in Afrikaans, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, geografie, geskiedenis, ekonomie, ingenieursgrafika en –ontwerp en lewensoriëntering behaal.

“Ek het van my gr.10-jaar af gewerk vir my onderskeidings. Dit is belangrik om vroeg doelwitte te stel sodat jy jou drome ʼn realiteit kan maak.”

Hy gaan vanjaar BSc water- en grondbestuur aan die Universiteit Stellenbosch studeer. Darren wil graag spesialiseer in omgewingsregte.

“Aanhouers wen, en dit is belangrik om te prioritiseer. Ek stel vir myself doelwitte en doen alles in my vermoë om hulle te bereik.”

Darren het van gr.8 tot gr.12 erekleure in akademie ontvang. Hy was in die skoolkoor en het aan redenaarskompetisies deelgeneem.

Sy gunstelingvakke was lewenswetenskappe, Engels, en geografie.

Darren kyk op na mense wat ander inspireer, soos Nelson Mandela, Bill Gates en Mahatma Gandhi.

“Ek steel stukkies van almal en leer iets by elkeen. Hulle inspireer my omdat hul ʼn doelwit gehad het en hard gewerk het om daardie doelwit te bereik.”

Volgens Darren is geen droom ooit té groot nie.

ʼn Klein opoffering nou sal tot ʼn reuse skat in die toekoms lei. Harde werk ken nie kortpaaie nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Elizabeth ·

Ek hoop al die presteerders lees my kommentaar! BAIE geluk aan elkeen wat sulke wonderlike prestasies behaal het – dit wil gedoen wees. Geluk ook aan elke ander matriekkind wat geslaag het, onderskeidings of nie, ek wens elke liewe kind in SA wat geslaag het net die heel beste vir hul toekoms toe. Net sommer ietsie by – moet nooit moed opgee as dinge nie dadelik uitwerk of jy nie dadelik werk kry selfs al behaal jy ‘n graad of ander naskoolse kwalifikasies. Onthou: NIEMAND kan geleerdheid van jou wegvat nie en die regte geleentheid sal kom!

annatjie ·

Geluk aan die top presteerders. Jy behaal net sukses deur harde werk. Sterkte en Voorspoed vir julle toekoms.

CT Botha ·

Arme Darren! Kan jy glo dat ‘n kommunis en ateïs soos Mandela ons Afrikanerkinders inspireer? Ek sal dit nooit kan verstaan nie! Wat van ons eie mense ? Soos afgetrede persoon eendag vir my gesê het: “Ons is veertig jaar in die woestyn!”

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.