Topmatrieks: Francois wil ‘n kunshart ontwerp

Francois Slabber

Francois Slabber

“ʼn Ingenieur moet kreatief wees. Hy moet die beste oplossing vir probleme kan kry.” Só sê Francois Slabber van die Hoërskool Duineveld in Upington wat sewe onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal het.

Francois het A’s in Afrikaans, wiskunde, rekeningkunde, ingenieursgrafika en -ontwerp, fisiese wetenskappe, inligtingstegnologie en lewensoriëntering behaal.

Hy gaan aan die Universiteit Stellenbosch megatroniese ingenieurswese studeer. “Dit is ʼn mengsel van meganiese- en elektroniese ingenieurswese. Ek wil graag elektroniese stelsels meng en robotte vir mediese doeleindes of miskien ʼn kunshart ontwerp. Hierdie veld is baie interessant.”

Francois is nog altyd baie geïnteresseerd in tegnologie. “Ek kies hierdie rigting bo aktuariële wetenskap omdat dit meer uitdagings bied. Jy moet kreatief met die ontwerp van toestelle wees.”

Sy gunstelingvakke was wetenskap en wiskunde. “Ek hou van probleemoplossings en die proses om by die antwoord te kom. Ek kies verstaanvakke bo leervakke.”

Francois se rolmodel is Siyabulela Xusa. “Sy lewensverhaal inspireer my. Hy het in slegte omstandighede grootgeword en bo sy omstandighede uitgestyg. Xusa wou ook ʼn ingenieur word en was gekeur om aan die Harvard-universiteit in Amerika te studeer.”

Francois sal altyd sy hoërskool se gesellige atmosfeer onthou. “Ons was ʼn Afrikaanse skool met 800 leerders en 20 kinders in ʼn klas. Ons onderwysers het ʼn hoë standaard gehandhaaf. Hul kon baie aandag aan individue spandeer.”

Francois se lewensfilosofie is:

Sit jou hart en harde werk in jou drome. Bereik wat jy wil bereik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.