Topmatrieks: Kathy wil nog hoër vlieg

Kathy Bester

Kathy Bester

Kathy Bester, verlede jaar se onderhoofdogter van die Hoërskool Waterkloof in Pretoria, het agt onderskeidings in die matriekeindeksamen behaal.

Sy het onderskeidings in Afrikaans, Engels, wiskunde, lewenswetenskappe, fisiese wetenskappe, rekeningkunde, geografie en lewensoriëntering behaal.

Kathy gaan vanjaar bedryfsingenieurswese aan die Universiteit van Pretoria studeer. “Ek kies hierdie rigting omdat ek ʼn groot liefde vir wiskunde en fisika het. Bedryfsingenieurswese gee jou ʼn goeie oorsig oor alles en bied ʼn groter verskeidenheid wat ek kan doen.”

Sy skryf haar akademiese sukses toe aan haar grootouers en ouers wat van jongs af haar fondamente sterk gebou het. “Hulle het moeite gedoen, asook my geleer lees. My oupa het my aan baie boeke blootgestel.”

Kathy doen graag staproetes. Sy vlieg graag as sy kans kry en een van haar drome is om haar vlieglisensie te bekom. Kathy het aan netbal en atletiek deelgeneem. Sy was ook deel van haar graad se akademiese toptien en het vakprestasies in wiskunde behaal.

Kathy se ma, Magda, is haar rolmodel. “Veral haar deursettingsvermoë staan vir my uit. Sy is baie hardwerkend en sy gee nie op as sy iets aanpak nie.”

Haar raad aan toekomstige matrieks is: “Begin vroegtydig beplan en leer vir al jou toetse en opdragte. Goeie tydsbestuur sal jou help.”

Jy presteer vir jouself wanneer jy jou doelwitte behaal het. Dit is die beste gevoel in die wêreld as jy sukses behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.